Jonkvrou

Jean-Claude van Rijckeghem en Pat van Beirs
Vertaal deur Daniel Hugo

Marguerite van Male is veertien en ’n half. Sy is die enigste erfgenaam van die graafdom Vlaandere. Sy droom van ’n wit ridder wat haar na ’n kasteel in die wolke sal voer. Maar die ridders wat sy ontmoet, is almal sukkelaars wat nie bestand is teen haar sterk karakter en haar opvlieënde aard nie. Op ’n dag besluit haar vader met wie sy in die somer moet trou …

In haar eie woorde vertel Marguerite van haar wilde rooi hare, van Willem wat ’n meester is in die soenkunde, van Roderik uit wie se mond sy ’n tand geslaan het, van die monnik Zannekin wat stink soos ’n varkhok, van die vrye stad Brugge met sy knarsende uithangborde, van haar moeder se boeke met hul smagtende liefdesverhale, van die rooi sweertjies op haar toekomstige eggenoot se gesig en van die haat vir haar bloedeie vader.

Jonkvrou is bekroon met die Thea Beckman-, Boekenleeuw- en Kleine Cervantesprys, asook die prys van die Vlaamse Kinder- en Jeugdjury, en het ’n eervolle vermelding van die Zoenjury gekry. Hierdie boek het die historiese roman weer gewild gemaak by oud en jonk.

Oor die outeurs
Die skrywerspaar Jean-Claude van Rijckeghem en Pat van Beirs is tydens die filmfees van Cannes in 2008 bekroon vir die draaiboek van die film Aanrijding in Moscou. Jean-Claude en Pat is ook die skrywers van die jeugboeke Duivelsoog, De zevende sluier en Galgenmeid. Pat van Beirs is aktief as vertaler en Jean-Claude van Rijckeghem is ’n draaiboekskrywer en filmprodusent.

Oor die vertaler
Daniel Hugo was ’n spesialisomroeper by Radiosondergrense en is steeds verantwoordelik vir die literêre program “Leeskring”. Hy is ’n gerekende digter met 13 poësiebundels op sy kerfstok. As vertaler het hy reeds die werke van o.a. Tom Lanoye, Rutger Kopland, Herman de Coninck, Harry Mulisch, Herman van Veen en Cecily Mary Barker in Afrikaans vertaal.

Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R140,00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.