Jy-weet-wie

François Bloemhof

Niek Naude is 39 jaar oud en in dieselfde bootjie as vele middeljarige wit mans: hy is afgelê; hy wat in die eerste helfte van sy lewe deur die voorsienigheid uitgesonder was om ‘n uitblinker te wees. akademies en op die sportveld. Dis immers waarom sy mooi vrou, Elrisa hom op hoërskool reeds gekies het bo sy teenstaander, Zandré van der Westhuizen. Zandré, intussen Niek se minder bekwame kollega in die menslike hulpbronne-afdeling van ‘n magtige maatskappy, het sy werk behou omdat hy ‘n aartsgatkruiper is en beter bevriend is met die baas. Niek se ego het ‘n allemintige knou gekry, want hy moet nou huishou terwyl Elrisa die pot aan die kook hou. Selfs in die slaapkamer het hy nie meer die hef in die hand nie: sy vrou soen hom soos ‘n familielid. Hul dogter Melanie wil Mel genoem word en wil so cool en mooi soos haar vriendin Anika wees, maar wil veral Anika se boyfriend, Tommie, hê. Die verblindend aantreklike Tommie is al uit die skool, maar woon nog by sy ma en maak nie juis aanstaltes om te begin werk nie.

Dan reageer hy op ‘n koerantadvertensie wat basuin: “Jy het nog nooit so maklik geld gekry nie. Nee, dis geen grap nie. Bel nou”. Sy moed begewe hom en hy druk die foon dood, maar die geheimsinnige Jy-weet-wie het nou sy nommer en bel hom terug. En deure gaan oop wat liefs toe moes bly het. Maar Niek is desperaat en het ‘n kans nodig.

Dan begin die poppe dans. Hierdie gevaarlike speletjie word ‘n spannende verhaal vol draaie wat die leser op die punt van sy stoel sal hou.

Oor die Outeur:
François Bloemhof woon in die Kaap. Hy skryf boeke vir volwassenes, tieners en jong lesers. Sy werk in al drie kategorieë is meermalig bekroon. Sy werk sluit in Flipom en die gewilde Agent Snoet-reeks.

Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R180-00*
*Prys onderhewig aan verandering

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.