Kaptein Verdwyn: Onderwysersgids vir boek oor skoolboelies

Fanie Viljoen, bekroonde kinderboekskrywer en outeur van die boek, Kaptein Verdwyn, het ʼn gratis studiegids beskikbaar gemaak vir laerskoolonderwysers wat saam met dié boek oor skoolboelies gebruik kan word.

Volgens Viljoen is dié onderwysersgids volgens die finale konsepdokument van die Nasionale Kurrikulum- en Assesseringbeleidverklaring (CAPS) geskryf.

“Ek wil graag Suid-Afrika se kinders aan die lees kry. Dit is my droom en my passie – ook vir jou leerders,” skryf hy in die inleiding. “Kaptein Verdwyn sal dit beslis kan regkry, selfs met sukkelende lesers. Die hoofstukke en sinne is kort en lees maklik, maar bowenal het die boek ’n lekker storie. Ek glo boeke moet lesers se verbeelding aangryp en hulle vasgenael hou. Hiervoor sal die humor, aksie, avontuur en spanning in Kaptein Verdwyn sorg.”

Viljoen sê hierdie onderwysersgids help om lees en leer pret te maak. “Al die werk is klaar vir jou gedoen, jy moet net die gids volg en die wonderwêreld van woorde sal vir die res sorg.”

Die hooftaalvaardighede waarvoor die intermediêre fase se kurrikulum vra is:

  • Luister en praat
  • Lees en kyk
  • Skryf en aanbied
  • Taalstrukture en -konvensies.

Dit is presies wat jy in hierdie gids sal kry. “Mag hierdie boek vanjaar jou leerders ywerige lesers maak!”

Die gratis onderwysersgids vir Kaptein Verdwyn is hier beskikbaar
Besoek Fanie Viljoen se webwerf

Oor die boek:

Wat sal jy doen as jy onsigbaar kan raak?

Kyle is moeg daarvoor dat die skoolboelie op hom pik. Denzel die Draak knou gedurig ander kinders af, terg hulle en vat hulle pousebroodjies.

Toe Kyle ’n nuwe selfoon kry, laai hy ’n vreemde app af – een wat belowe om jou onsigbaar te maak! Kort voor lank verander Kyle in ’n superheld: <st2:personname w:st=on>Kaptein Verdwyn!

En hy besluit dit is tyd om die boelie ’n les te leer …

’n Aksiebelaaide storie met ’n positiewe boodskap wat kinders kan bemagtig om hul man te staan teen boelies. Agterin die boek verskyn nuttige raad oor hoe om boelies te identifiseer en wat om te doen as iemand jou boelie.

Oor die outeur:

Trefferboeke, soos die Slym-reeks, Klou, die Aksieheld Austin-reeks en die Nova-wetenskapfiksiereeks, het van Fanie Viljoen ʼn huishoudelike naam gemaak. Sy boeke BreinBliksem en Onderwêreld is albei met die Sanlamprys vir Jeuglektuur bekroon, Betower en Afkop was naaswenners in LAPA se jeugromankompetisie, en hy het al ʼn rits ATKV-Woordveertjies vir sy skryfwerk en illustrasies ingepalm.

Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R100-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek: Raru, Graffiti Boeke, Lapa Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.