deur Marié Heese
Die verhaal van Jeanne Labuschagne – of Jannie Lappies – wat vir ʼn kort vakansie uit haar kinderhuis in Kaapstad gehaal word deur Stien Terblanche, en geneem word na die klein dorpie waar Stien se oom, ʼn wêreldbekende dirigent en komponis, woon. Jannie se lewe verander handomkeer wanneer die dirigent, Arnold Tereblanche, haar pragtige sangtalent raaksien en besluit om ʼn musiekstuk te skryf waarin sy die hoofrol sing. Die verhaal volg die voorbereiding vir die konsert, tesame met beide Jannie en Arnold se onderskeie emosionele wroeginge en spoke uit die verlede. Veral die lesers met ʼn liefde en kennis van musiek en sang sal hou van dié boek. Alhoewel die hoofkarakter slegs twaalf jaar oud is, sal jonger lesers vanaf twaalf en ouer, en beslis ook volwassenes, emosioneel by Jannie en die ander karakters betrokke raak, baie soos in bv. Vaselinetjie.
Die skrywer se kennis van musiek, en sekere situasies uit die musiekwêreld – soos byvoorbeeld tydens ʼn opera-uitvoering, of tydens ʼn musiek oudisie – help om die verhaal se outentieke aanslag te versterk.
Oor die outeur:
Marié Heese gaan skool in Kaapstad en studeer aan die Universiteit van Stellenbosch in Engels en Staatsfilosofie en verwerf ʼn Diploma in Drama by die Akademie vir Dramakuns, ook op Stellenbosch. Na jare as onderwyser by skole in KwaZulu-Natal gee sy klas aan die Universiteite van Durban-Westville, Zoeloeland, Pretoria en Unisa. Marié het veral bekend geword vir haar eerste boek, Die uurwerk kantel, wat in 1976 verskyn het. Sy is die doger van die bekende skrywer Audrey Blignault. Sy is die outeur van o.m. die historiese roman The Double Crown: Secret Writings of the female Pharaoh (2009), The Colour of Power (2011), A Triple-headed Serpent (2012) en Die honger reisiger (2010). Marié is getroud met Chris Heese. Hulle woon tans in Stilbaai.
Uitgewer: Tafelberg
Prys: R130-00*
*prys onderhewig aan verandering