Karoostories: ‘Jaloersbuie en verspoelings’

Argieffoto (Foto: Adel Groenewald)

25 Januarie 2016

Vir meer as ʼn week bou die weer mooi op. Die westewind verwaai gelukkig nie meer die were nie. Die wind bly oos.

Reg rondom Vanwyksvlei sak jaloersbuie uit, maar in die dorp bly dit droog. Teen Donderdagnag sak ʼn sagte reën uit. Ons word wakker met die sagte gesuis van reën op die sinkdak en geute wat gôr. Soos wat dit lig word in die ooste, kan mens sien die lande van weleer lê toe onder die water.

Ek stoot die agterdeur oop en word bewus van ʼn konstante vibrasie vanuit die lande. Kan dit paddatjies wees? Vanuit die dorre droë aarde het hulle net eenvoudig verskyn. Blikslanertjies. Dis wat die mense hulle hier rond noem. Dit lewe! Watervoëls, soos vanuit nêrens, honk deur die lug en syg by die vol gatdamme neer. ʼn Donkievul huppel baldadig al om sy ma. Bloedrooi fluweelagtige reëngoggatjies het orals verskyn. Vanwaar? Die reënmeter staan op 26 mm.

Soos wat die nuwe week begin, kom al meer gerugte van lekker neerslae in. Maar steeds is daar plase waar nog geen reën geval het nie. Ons hou week van gebed en by al ons dankgebede pleit ons steeds vir wye reën.

Leonette en Johann Smit (Foto: Verskaf)

Op Swartpan, in die Kalahari, laat weet Nico het daar na twee jaar van droogte, uiteindelik ʼn allemintige 84 mm uitgesak. En steeds pak die were saam. Nog neerslae word verwag.

Dan word die weer dik en donkerblou. By Frankieskop en Môreson sak 55 mm uit en die paaie verspoel. Daardie aand sak nog 55 mm uit en maak die paaie onbegaanbaar. Die waters stroom die Vanwyksvleidam binne. Op Toekoms is 32 mm gemeet. Vasie rapporteer van 45 mm op een kamp tot 120 mm by ʼn ander. By die verste reënmeters op Hottentotsdam kon hy nog nie uitkom nie vanweë die erge verspoelings. Rudi se trok staan op die dorp. Daar’s nie ʼn manier wat daai trok op die plaas kan uitkom nie. Maar op De Bruynsrus en De Riet wag hulle nog geduldig vir reën.

Uit die droë driedoringbosse breek spierwit blomme uit en die skaap weier die kos in die voerkrale – hulle smul aan die soet-soetste blomme. Uitgeteerde springbokke baljaar tussen die driedorings. Nuwe lewe beur oornag uit die gewillige aarde en die ag-dae-grassies gloei alreeds groen.

Sondagoggend is ons ʼn skrale twaalf mense in die kerk. Die res kan as gevolg van die verspoelings nie deurkom vanaf die plase nie.

Hosea 2:20-21– Dié dag sal Ek antwoord, sê die Here. Ek sal die lug antwoord en dié sal die grond antwoord. 21En die grond sal antwoord met koring, wyn en olie vir Jisreël. Ek sal my ontferm oor Sonder-ontferming en haar vrugbaar maak in die land. Ek sal vir Nie-my-volk-nie sê: ‘Jy is my volk,’ en hy sal vir My sê: ‘My God’ (1983-vertaling).

Die aarde leer ons hoe om met dankbaarheid te reageer as God Hom ontferm: as Hy die lug antwoord en dié antwoord die grond en die grond antwoord met koring, wyn en olie.

***

Oor die boek

Met Stories uit die Bo-Karoo poog Leonette Smit om deur middel van stories ʼn verskil in die gemeenskap van Vanwyksvlei, ʼn kwynende, droogtegeteisterde boeregemeenskap in die Noord-Kaap, te maak.

Smit se man, Johann, is in 2016 as predikant na dié Karoodorp beroep. “Jaloersbuie en verspoelings” kom uit haar bundel Stories uit die Bo-Karoo waarin 126 essays oor hul tyd as leraarspaar in Vanwyksvlei verskyn.

Die Smit-egpaar het drie jaar en drie maande in Vanwyksvlei oorleef te midde van ʼn droogte wat nou al agt jaar duur. Nadat Johann se kontrak tot ʼn einde gekom het, het hy en Leonette steeds by die gemeenskap betrokke gebly.

Stories uit die Bo-Karoo bied ʼn geleentheid vir mense om ook betrokke te raak by boere in nood. Dit is boonop ʼn ideale Kersgeskenk in tye van swaarkry en meelewing. Geld wat deur verkope ingesamel word, word verdeel onder die boere wat tans gebuk gaan onder die uitmergelende droogte.

Om Stories uit die Bo-Karoo te bestel stuur ʼn e-pos na [email protected] of whatsapp haar by 082 584 4992. Die boek kos R294 (posgeld uitgesluit). Stories uit die Bo-Karoo is deur Barnabas Uitgewers, ʼn selfpublikasiediens van Christelike Lektuurfonds (CLF), uitgegee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Misky ·

Mal oor die beskrywings wat gebruik word. As ek my oë toemaak, is dit asof ek die reen kan ruik en die paddatjies hoor uit die manier van skryf. Verlang ook sommer nou na my jong dae as kind op die plaas by ouma en oupa. Klink na besonderse boek, geluk Mev. Smit!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.