Karretjiemense

Carol Campbell

Kort op die hakke van Athol Fugard’s se mees onlangse toneelstuk, Die laaste karretjiegraf, debuteer joernalis Carol Campbell met haar roman waarin die hoofkarakters ʼn gesin karretjiemense is wat probeer ontsnap van ʼn wreedaard genaamd Miskiet.

Campbell, wat ʼn paar jaar lank in Prins Albert gewoon het, het met karretjiemense kennis gemaak toe sy op twee donkies afgekom het waar hulle in die hoofstraat ronddwaal. Die eienaars was ʼn gesin karretjiemense wie se diere weggeraak het. Na die voorval het Campbell skuiling vir die gesin en hul donkies op haar plaas gebied.

Karretjiemense vertel die verhaal van Muis, wat jare lank reeds vir Miskiet wegkruip, en van haar vriend Kapok en hul drie kinders. Droogte dwing die gesin terug na Leeu Gamka toe, waar Miskiet lê en wag. Muis probeer desperaat om vir haar kinders identiteitsdokumente te kry om polisiebeskerming te verseker, maar, soos David Kramer in sy lofprysing vir die boek uitwys, die nomadiese mense van die karoo is dikwels ‘onsigbaar’ en weerloos.

Hierdie roman is spannend en roerend, en word sterk aanbeveel deur romanskrywer Mike Nicol, wat skryf: ‘Hierdie roman is een van die hartroerendste stories wat ek in ʼn lang tyd gelees het. Behalwe die suiwer menslikheid van die storie, is daar die spanning wat soms amper onhoudbaar is, en ek moes myself keer om vorentoe te blaai. Die stemme het my beetgekry van die heel begin af en my nooit laat los nie.’

Oor die outeur:
Carol Campbell het in die koerantwêreld grootgeword. Haar ouers was joernaliste vir The Star in Johannesburg en sy het vir The Mercury in Durban en The Argus en die Cape Times in Kaapstad gewerk. Tans woon sy en haar gesin in Durban

Uitgewers: Umuzi/RandomHouseStruik uitgewers
Prys: R170-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.