‘Ken jou storie’- wenners aangewys

 Ken-jou-storie_Willie-Spies_Riempies-wenners.jpg

Willie Spies van Pretoria FM saam met die wenners in die 4 tot 6 jaar kategorie, Bennie en Elanie Buys, met hulle boek, “Riempies en rampies” (foto: Carien Bennett)

Promosie

Die Ken jou storie– kinderboekskryfkompetisie het verlede jaar behoorlik skrywers se kreatiwiteit getoets. Aros (Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies) en PretoriaFM het dié geleentheid geskep vir aspirantskrywers om ’n boek te skryf vir kinders tussen 4 tot 6 jaar en 7 tot 9 jaar.

Die beoordelaars het ure lank gelees aan die 305 inskrywings wat ontvang is. Die twee wenboeke van Ken jou storie 2017 is gisteraand uitgereik by ʼn geleentheid wat by Aros in Waverley, Pretoria aangebied is. Die geselligheid was ʼn spoggeleentheid en die skrywers het die geleentheid gekry om met hul splinternuwe boeke te spog!

Die wenners in die kategorie vir lesers van 4 tot 6 jaar kategorie is Bennie en Elanie Buys met hulle boek, Riempies en rampies. Louis Botha is aangewys as die wenner in die kategorie vir lesers van 7 tot 9 jaar vir sy boek, Hier’s ’n muis.

Niclaas Roets van Aros en Willie Spies van Pretoria FM saam met Louis Botha wat aangewys is as die wenner in die kategorie 7 tot 9 jaar vir sy boek, “Hier’s ’n muis” (foto: Carien Bennett)

Die naaswenners is Zeldri Nel (4 tot 6) en Rosaly Steyn (7 tot 9).

Niclaas Roets van Aros en Willie Spies van PretoriaFM het die wenboeke aan die skrywers oorhandig.

Baie ure se beplanning en harde werk het vrugte afgewerp en die finale produkte is van uitstaande gehalte en beslis ʼn positiewe bydra tot Afrikaanse kinderboeke.

Ander nuus is dat ʼn seleksie van die top-inskrywings van 2017 in ’n Ken jou storie– bundel publiseer  gaan word wat aan hierdie skrywers ʼn groter geleentheid bied om ook raakgesien te word. Die bundel sal nader aan die einde van die jaar beskikbaar wees.

Wil jy inskryf vir 2018 se kompetisie:

Vanjaar se kompetisie skop af op 12 April en inskrywings sluit op 28 September. Vir meer inligting, die jongste nuus en hoe om in te skryf besoek gerus hul webwerf.

Luister ook vanaf 19 April elke Donderdag om 10:30 op PretoriaFM vir insiggewende gesprekke rondom die skryf van kinderboeke, illustrasies van kinderboeke asook kinderontwikkeling en die belangrikheid van lees.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.