‘Kersfeesetes’

Argieffoto (Foto: CH Claudio Schwarz | @purzlbaum/Unsplash)

Hiermee die rubriek Kersfeesetes deur Hennie van Coller wat in ʼn Pampoen vir Kersfees gepubliseer is.

Kersfeesoggende kleintyd het ons vroeg reeds in die Austin A55 geklim en die pad na Benoni gevat. Maar eers is geskenke uitgedeel en nuwe klere aangetrek. Vir my pa was die Oosrand die plek waar hy grootgeword het, en my mooi ma ontmoet het. Maar ek onthou dit anders. Die lang pad deur Sophiatown, Brixton, langs Ellispark, Kensington. Mynhope, middelklas huisies, myntering-hospitale en blouboordjie-werkers: sout van die aarde.

Daar aangekom, net voor half sewe, brand die vuur al en kyk Oupa Ben onvergenoegd óp in die pad voor Northmead se Sewendedagadventistekerk. Wanneer hy ons sien, loop hy flink na die kombuis waar Ouma Lenie se roosterkoek en die skaapribbetjie regstaan. Want dit was hul onderhandelde skikking: Hy mag vir ontbyt braai wat hy wil; sy kon in ruil na eie wens die middagmaal voorsit.

Skaapboud, pastei, vegetariese tertjies, my ma se koekstruif (waarom smaak “’n trifle” steeds lekkerder?) met kersies en versuikerde vrugte, tante Chris se doekpoeding met die versteekte tiekie; oom Piet en tannie Ivy se kissie “regte koeldrank…” Maar veral onthou ek hoe my ouma (’n nooi Boshoff “van die Boland se beste families”) alles voorgesit het. Met kristalglase, breekdun porselein, silwer eetware. En hoe my oupa (mynwerker-eggenoot van die trotse Bolandse nooi) sy baadjie aantrek – terwyl voëls buite omkap van die warmte – eers die myntering weghoes en dan bid vir al sy seëninge: ’n goeie vrou, drie mooi dogters en hul mans, twee seuns (die een getroud en ryk; die ander net met verbeelding), ’n tweeslaapkamer huis, ’n swart 1948-Ford en ’n leidam op sy dorpserf.

Kersfees is in my herinneringe verweef met styl (én kos), en die braaivleis, kort broeke en lawaai is van later. En steeds het ek ’n hekel aan mense wat goeie kos sonder respekte behandel. Al is dit die mees eenvoudige maal, dankbaarheid, wellewendheid en mededeelsaamheid omskep dit tot ’n koningsmaal. Van my heerlikste etes was saam met die werkers om ’n konka, pap wat geneem word uit een pot, dan gebrei word tot ’n lang pil wat gedoop word in ’n dun sousie. En boerewors in ’n skoon geskropte skopgraaf op pa se leigroef (ghwarrie), met eiers in die vet gebak, alles op ’n stuk brood van ’n paar duim dik.

Nou wag Kersfees. En afskeide by die dosyne. En tafels wat kreun. Maar daar is ook hulle wat min het. En tog daarvoor dankbaar is. Wat dalk in ’n sinkvertrek hul kersie brandmaak en op onpaar stoele aansit by ’n karige Kersmaal. Of wat nie lus het vir kos nie omdat die pyn hul opvreet of bekommernis hul lewens versuur. Alleen-eet is die verskriklikste.

Wanneer ons dus aansit, maak ons dankbaar, en mededeelsaam. En erkentlik teenoor hulle wat ons kos voorberei en bedien, ons motors oppas én slap rose verkoop.

Veral vir gawes; onverdiend.

***

ʼn Pampoen vir Kersfees is ’n versameling van die rubrieke wat Hennie van Coller die afgelope 20 jaar vir Volksblad skryf. Dit is in 2020 deur Naledi uitgegee.

Prys: R240-00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek nou by 
Naledi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.