Kinderboeke bo!

Ek is baie opgewonde oor al die nuwe Afrikaanse kinderboeke wat die lig sien. Dis voorwaar verblydend om te sien dat skrywers en uitgewers sorg dat kinders uit ’n heerlike verskeidenheid leesstof kan kies. Ek gee graag boeke as geskenke vir die kinders in my familie en vriendekring.

Op die potjie, gou!

(Sally Lloyd-Jones) – Human & Rousseau

Hierdie rymende potjie-boek met sy sagte, fraai illustrasies soebat om voorgelees te word. Hasie het ’n grote nood en soek knyp-knyp na ’n potjie. ’n Eensame dodo, bibber-bangmaak spokies en nog vele ander interessante karaktertjies is ook op pad na die potjiepartytjie toe. Maar iemand kort – en wat ’n heerlike openbaring is díe se identiteit net nie! Elsa Silke het die Afrikaanse rymvertaling gedoen en Anita Jeram die illustrasies. Die prenteboek van 32 bladsye word aanbeveel vir kinders 0-6 jaar.

Wie woon hier?

(Einat Tsarfati) – Human & Rousseau

’n Meisie woon op die sewende verdieping van ’n gebou en moet elke dag die trappe klim. Elke verdieping se deur lyk anders. Daar is leidrade en sy maak haar eie gevolgtrekkings oor wie agter elke deur woon. Haar fantastiese verbeeldingsreis is vol verrassings, kleur en baie detail. Elna van der Merwe het die Afrikaanse vertaling gedoen. Einat Tsarfati, die outeur, het ook vir die opwindende illustrasies gesorg. Die prenteboek van 32 bladsye is geskik vir voorlees én selflees en word vir kinders 0-6 jaar voorgeskryf.

Op die rug van ’n tier

(Dianne Hofmeyr) – Tafelberg Uitgewers

Hierdie is ’n verbeeldingryke en kleurvolle verhaal oor Tom wat ’n groot tier teken. Saans word die tier lewendig en saam beleef hulle die een opwindende avontuur ná die ander. Deur hierdie nagtelike avonture leer die seuntjie om sy vrese te oorkom. Dié oulike verhaal, geïnspireer deur ’n bekende skildery van Henri Rousseau, sal kinders se verbeelding aangryp. Die prenteboek van 32 bladsye word voorgeskryf vir kinders 0-6 jaar. Die pragtige illustrasies is gedoen deur die talentvolle Jesse Hodgson.

Die dag toe Ernst ’n ertjie geëet het

(Jaco Jacobs) – LAPA Uitgewers

Ernst de Vos sit nie sy mond aan ertjies nie, al eet hy enige ander kos waaraan jy kan dink. Almal vertel vir Ernst allerhande stories om hom aan te moedig om tog maar ’n ertjie te eet. Toe Ernst uiteindelik ’n piepklein ou ertjie eet, gebeur daar die vreemdste dinge met hom. Geen lesertjie sal hierna weer dieselfde dink oor ’n nederige ertjie nie! Die prenteboek van 32 bladsye word voorgeskryf vir kinders 3 jaar en ouer. Johann Strauss het vir die kleurvolle illustrasies gesorg.

Wat die see gesien het

(Tom Percival) – LAPA Uitgewers

Sophia en haar pa reis ver om ’n sorgelose dag saam by die see deur te bring. Hier raak Sophia se gunstelingspeelding – ’n teddie wat ook voorheen aan haar oupa en haar ma behoort het – verlore nadat ’n onverwagse storm hulle onkant vang. Sophia is vreeslik hartseer oor haar teddie wat weg is. Die see weet egter wat van die teddie geword het. Hierdie pragstorie handel oor verlies en hoop. Is iets wat jy in jou hart bêre regtig vir altyd verlore? Dié hartroerende prenteboek van 32 bladsye word voorgeskryf vir kinders 3 jaar en ouer. Die outeur het ook vir die beeldskone illustrasies gesorg. Bekroonde kinderboekskrywer, Jaco Jacobs, het The Sea Saw in Afrikaans vertaal.

Rondomtalie

(Jaco Jacobs) – LAPA Uitgewers

Hierdie oulike boek kan in twee woorde beskryf word, naamlik groot pret. Dit bevat 30 oorspronklike en prettige rympies deur die veelbekroonde en uiters gewilde skrywer, Jaco Jacobs. Karen Ahlschläger het vir die kleurvolle illustrasies gesorg. Anna Davel het al 30 versies getoonset en sing die liedjies op ’n CD wat by die boek ingesluit is. Kinders kan dus na hartelus na die liedjies luister terwyl hulle deur die boek blaai en hulle aan die rympies en illustrasies verlustig. Skaf gerus hierdie pragboek/CD-kombinasie met ’n geruste hart aan om die jongspan op ’n konstruktiewe manier besig te hou.

Hokaai, Lulu

(Fanie Viljoen) – LAPA Uitgewers

 

Lulu-aanhangers sal verheug wees oor die nuutste toevoeging tot die Lulu-reeks – daar is immers al meer as 18 000 Lulu-boeke verkoop. Lulu verjaar en kry sowaar die wonderlikste verjaarsdagpresent ooit. Boonop het sy die geleentheid om haar groot liefde vir modeontwerp uit te leef. Maar dan loop dinge onverwags skeef en Lulu beland in die sop. Die vorige boeke in dié gewilde reeks was Oe la la, Lulu; Bravo, Lulu; Oepse daisy, Lulu en La di da, Lulu. Hokaai, Lulu beslaan 72 bladsye en kinders van 7 jaar en ouer sal lekker hieraan lees. Elsbeth Eksteen is verantwoordelik vir die mooi illustrasies.

Die verlore eiland en ander stories

(Janie Oosthuysen) – LAPA Uitgewers

Hierdie oulike omnibus bevat drie allerheerlike stories propvol interessante karakters en wonderlike avonture. Die verlore eiland, Die towerpotlood en Daar is vlooie in my bed is ’n groot leesbederf vir kinders wat van effens vreemde en geheimsinnige stories hou. Die boek beslaan 96 bladsye en word aanbeveel vir lesers 7 jaar en ouer. Stephen Wallace het vir die bekoorlike illustrasies gesorg. Oosthuizen is ’n bekroonde skrywer wat ook onder meer die Harry Potter-reeks en boeke soos Artemis Fowl en die Narnia-reeks vertaal het.

Speurder Annika Omnibus 5-in-1

(Elmarie Botes) – LAPA Uitgewers

In hierdie lekkerlees-omnibus, wat al vyf opwindende Speurder Annika-stories bevat, hou die jong leser sy lyf speurder saam met Annika, die hoofkarakter. Meer as 37 000 kopieë van die boeke in die reeks is al verkoop. Die boeke se titels is: Speurder Annika; Speurder Annika kry snuf in die neus; Speurder Annika maak ’n plan; Speurder Annika los ’n raaisel op en Speurder Annika stel ondersoek in. Daar is nie ’n vervelige oomblik in die omnibus nie, want opwindende dinge gebeur wanneer Annika in die omtrek is. Annika moet omtrent haar storie ken om leidrade te soek en raaisels op te los. Dié lekker dik omnibus van 288 bladsye word voorgeskryf vir kinders 9 jaar en ouer. Kobus Faber en Johann Strauss is vir die illustrasies verantwoordelik.

Die mooiste klassieke sprokies

(Moon S.r.l.) – Human & Rousseau

 

Wat is nou lekkerder as om grootoog na ’n klassieke sprokie te luister? Hierdie groot formaat hardebandboek van 128 bladsye word voorgeskryf vir kinders 0-6 jaar oud, maar ouer lesers sal die elf stories en pragtige illustrasies ook baie geniet. Die sprokies is oorvertel deur Stefania Leonardi Hartley en sluit onder meer in: Skoonlief en die ondier, Peter Pan, Bambi, Sneeuwitjie en die sewe dwergies, Die oerwoudboek en Alice in Wonderland. Die storiebundel sal menige kinderhart steel en hoort eintlik op elke kind se bedkassie.

Die mooiste stories uit ’n Duisend en een nagte

(Moon S.r.l.) – Human & Rousseau

Kinders word al vir baie jare betower deur hierdie tydlose stories vol onvergeetlike karakters en opwindende avonture. Die storiebundel bevat 12 heerlike stories soos onder meer Die storie van Sjahrazad, Die visserman en die djin, Die donkie en die os, Ali Baba en die veertig rowers, Aladdin en die towerlamp en Die avonture van Sindbad die seeman. Hierdie gerieflike formaat hardebandboek van 128 bladsye word aanbeveel vir kinders 0-6 jaar oud, maar ouer lesers sal die stories en pragtige illustrasies ook van waarde vind. Die sprokies is oorvertel deur Stefania Leonardi Hartley.

Ek is baie bly dat hierdie bekende stories aan ’n nuwe geslag lesers oorgedra word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.