Kinderboeke oor katte

Ek het heerlik aan hierdie drie kinderboeke gelees waarin katte die kitaar slaan.

Katastrofe

  • De Wet Hugo se Katastrofe word deur Human & Rousseau uitgegee. Martinus van Tee het gesorg vir die prettige illustrasies.

De Wet Hugo, die skrywer van die immergewilde Grilgrypers-reeks, wys met Katastrofe weer waarom kinders nie genoeg van sy skryfwerk kan kry nie. Hierdie sjarmante storie van 90 bladsye, wat verdraagsaamheid teenoor ander voorstaan, gaan hulle ook ywerig aan die lees hou. Die gerieflike skrifgrootte teks en die baie oulike illustrasies werk besonder goed saam. Hugo en Van Tee kan gerus vorentoe maar weer saam werk.

Leo is oortuig daarvan dat dit die boelie, Spiertier, is wat die geld wat mevrou Mynie Koen vir die talentkompetisie geskenk het en van juffrou Katoliek se lessenaar af verdwyn het, vasgelê het. Daar is ook die vreemde nuwe leerling genaamd Gato wat ’n paar wenkbroue laat lig. Toe Leo egter sy oë uitvee, dink almal hý is die dief! Hy sal sy onskuld moet bewys en dan is daar boonop nog die talentkompetisie wat op hande is. Hugo speel heerlik met die woord “kat”, veral wat plekname (bv. Katmandoe, Katalonië en Katjiesfontein) en karaktername (bv. Ramkat, Kieterkat, Katrien, Katja en Katinka) aanbetref. Kinders sal dit baie vermaaklik vind.

Uittreksel: Spiertier, Leo se grootste vyand, kom ook by die skoolhek ingestap. Leo voel hoe die hare in sy nek lig. Daai tier moet nou nie weer vanjaar met almal kom moeilikheid soek nie! (3)

Kry jou kopie van Katastrofe hier.

Felina Kat: geheime agent

  • Louise Smit se Felina Kat: geheime agent word deur Human & Rousseau uitgegee. Zinelda McDonald is verantwoordelik vir die oulike illustrasies.

Hierdie verbeeldingryke avontuurverhaal deur die veelbekroonde skepper van kinderprogramme soos onder andere Wielie Walie, Haas Das se Nuuskas, Pumpkin Patch, Kideo en Mina Moo sal ure se leesgenot aan kinders bied. Die aksie is lekker vinnig en die storielyn heerlik spannend. Interessante karakters, beskrywende name, gevorderde tegnologie en gevegskuns maak van dié boek ‘n wenner.

Die storie van 164 bladsye gaan oor Felina Kat, ‘n geheime agent wat graag op dakke sit en die wêreld bespied. Dan is daar ook Timo wat wonder oor die geheimsinnige inwoner op die boonste verdieping van hulle woonstelblok. Speurder Skote Petoors is weer op soek na die gesteelde diamantring van ‘n skatryk mynbaas. Sal die driestuks die gierige skurke kan vastrek?

Teresa Williams se kreatiewe ontwerp en setwerk maak dat jy nie kan wag om te sien wat op die volgende bladsy gebeur nie. Daar word lekker met skrifgroottes geëksperimenteer om die teks so aanloklik as moontlik aan te bied. Die wit-en-swart illustrasies word slim ingespan om gepaste momente in die boek uit te lig.

Uittreksel: Skuins oorkant waar sy sit, is die polisiekantoor. Sy sien ‘n SPEURDER uitkom. Sy ken hom al, maar hy ken haar nie. Hy loop vooroor, sy kamoefleerpet laag oor sy oë getrek. Sy los baadjiepante flap-flap oor sy boepmaag. Sy weet as ‘n speurder só loop, dink hy óf diep óf hy is moedeloos (2).

Kry jou kopie van Felina Kat: geheime agent hier.

Die swart kat slaan staal en verdere avonture

  • Chris Sasner se Die swart kat slaan staal en verdere avonture word deur Protea Boekhuis uitgegee. Willem Samuel het gesorg vir die enkele illustrasies en die talentvolle Hanli Deysel vir die band- en bladontwerp.

Hierdie aksiebelaaide bundel van 109 bladsye is die sesde en laaste boek in die baie gewilde Die Swart Kat-reeks. Die drie avontuurryke verhale vervat in hierdie boek se titels is: Die Swart Kat slaan staal, Die Swart Kat slaan vinnig en Die swart Kat slaan weg. Elke storie het verskeie hoofstukke.

Die Swart Kat, ‘n gemaskerde misdaadvegter wat graag geradbraakte Engels praat, het geen bekendstelling nodig nie. In Die Swart Kat slaan staal, moet hy kragte meet teen ‘n sterkman wat Superman na ‘n 20 kg-swakkeling laat lyk. In Die Swart Kat slaan vinnig kom hy te staan teen ‘n uiters geslepe sindikaat wat fietse vaslê, en in Die Swart Kat slaan weg ontmasker hy ‘n klompie skelms wat geldnote vervals. Die boek eindig ewe gepas met die woorde: “Die avonture en gevare van die Swart Kat was méér as die moeite werd.”

Uittreksel: Hy beweeg katvoet na die trappe wat na die boonste verdieping lei en tone gepunt, een hand teen die muur gestut, gee hy een versigtige tree op na die ander trappe. Op die landing by die draai na die volgende stel trappe, staan hy ‘n oomblik lank doodstil en luister. Verbeel hy hom of het hy ‘n sagte stemgemurmel gehoor? (25).

Kry jou kopie van Die swart kat slaan staal en verdere avonture hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.