Kinders, wees veilig aanlyn!

Webslim: Hoe om aanlyn veilig te bly deur Ben Hubbard word uitgegee deur LAPA Uitgewers

Hierdie broodnodige gids vir die lewe aanlyn is geskik vir kinders nege jaar en ouer. Saam met die oulike karakters, Anzil en Chris, ontdek kinders die wonders van die internet en leer hulle ook oor die gevare daarvan.

Webslim: Hoe om aanlyn veilig te bly is opgedeel in vyf baie interessante hoofstukke. Daar is ook ’n vasvra om kinders se webkennis te toets en ’n nuttige lys van webtuistes wat meer inligting gee oor hoe om die web veilig te verken. As volwassene het ek self baie geleer deur die boek te lees.

Hoofstuk 1 verduidelik wat die internet is. “Wanneer ons aanlyn gaan, is dit asof ons deur ’n venster tot in ’n ander wêreld klim. Dit is die wêreld van die internet. Hier kan ons met vriende kontak maak, speletjies speel, flieks kyk, na musiek luister en inligting oor amper enige iets onder die son kry. Die internet het egter sekere gevare, nes die regte wêreld. Dit is waarom jy slim moet wees, jou bes moet doen om veilig te bly en jou gesonde verstand moet gebruik wanneer jy aanlyn is.”

Kinders word daarop gewys dat hoewel die meeste mense die internet vir goeie dinge gebruik, daar wel sommiges is wat dit met oneerlike en selfs gevaarlike motiewe gebruik. Van die digitale gevare waarteen kinders gewaarsku word, is kubervreemdelinge, volwasse webtuistes, trolle, kuberboelies, virusse en nare sagteware sowel as kuberskurke.

Hoofstuk 2 lei kinders om internetslim te wees en sekere internetreëls te gehoorsaam, soos om nooit jou regte naam, adres of kontakbesonderhede aanlyn te verskaf sonder dat jou ouers of ’n betroubare volwassene nie eers daartoe instem nie. Inligting word verskaf rondom die belangrikheid van sterk wagwoorde en toegangskodes asook die digitale voetspoor wat internetgebruikers laat.

Hoofstuk 3 wys kinders op die lekkerte én verskuilde gevare van klik en kuier op die internet. Hulle leer hoe om uit te kyk vir gemorspos, vals e-posse sowel as virusse en skadelike sagteware. Daar is ’n afdeling wat kinders bekend stel aan sosiale media en met hulle gesels oor privaatheidsvertellings, vriende en volgelinge asook kuberklets in ’n kuberkamer. Hulle leer ook om oordeelkundig te handel met die plaas van foto’s sodat hulle nie hul veiligheid of dié van ander in gedrang bring nie.

Hoofstuk 4 vertel meer oor webblaaiers en noem dat daar spesiale filters is om die meeste webblaaiers veilig vir kinders te maak. Kinders moet kophou tussen opwipvenstertjies, klets-ikone en advertensies deur. Hulle leer van roofkopiëring en dat mens nie musiek- en flieklêers onwettig moet aflaai nie, want jy kan in groot moeilikheid beland.

Hoofstuk 5 handel oor aanlyn etiket. Dit gee ook raad oor hoe om kuberboelies en -trolle te hanteer en hoe om onaanvaarbare gedrag en misbruik te rapporteer.

Kinders sal nie oorweldig voel deur al die moets en moenies in die boek nie, want hulle word deurentyd daaraan herinner dat die internet ’n wonderlike en leersame plek kan wees mits jy jouself beskerm.

Skaf Webslim: Hoe om veilig aanlyn te bly hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.