Kirsten Miller: Oor moeilike karakters, hul diep seerkry en verwerping

Kirsten Miller skryf nie net nie sy is ook die direkteur van die organisasie Action in Autism. (Foto: Rogan Ward.)

Soms beland daar ’n boek op jou bedkassie wat jou soveel meer gee as slegs ’n fiktiewe storie. Dit gee jou ’n kykie in ’n ander se siel.

Kirsten Miller is ’n sagte, omgeemens wat nie slegs die direkteur vir ’n organisasie sonder winsoogmerk, Action in Autism, is nie, maar iemand wat ook graag in haar vrye tyd skryf.

Kirsten Miller se jongste boek, All that is left, is een van daardie kykies na dieper dinge én na die siel agter die skrywerspen, skryf Maryke Roberts.

Exclusive Books lys dit as een van sy top 25 beste boeke in April – ’n ideale keuse vir die afsonderingstydperk. Dié boek sal jou egter enige tyd tot stilte dwing.

Die boek in ’n neutedop: Rachel se broer verdwyn onder vreemde omstandighede en sy moet sy oënskynlike dood verwerk, al is daar geen lyk nie. Sy reis na Johannesburg om haar skoonsuster, Maya, met die gedenkdiens te help, en om van haar versmorende lewe as eggenoot en ma te ontsnap. Rachel is ontsteld toe Max, haar eksminnaar, uit New York opdaag. Ondanks die ondersteuning van die digter Sizwe, wankel sy weens verlange. Een nag is Rachel, Maya, Max en Sizwe betrokke in ’n konfrontasie wat hulle vir altyd sal verander.”

Kirsten begin haar loopbaan met ’n BA (Engels en Drama) aan die destydse Universiteit van Natal, Pietermaritzburg waarna sy haar honneursgraad in drama-in-die-onderwys doen. Haar meestersgraad in literatuur fokus op outisme en verteenwoordiging.

Besoek jy haar webwerf, het sy meer as vyf toekennings vir haar vyf boeke en boonop het haar jongste boek reeds die Minara Aziz Hassim literêre prys ontvang nog voordat boek gepubliseer is.

Die prys is vernoem na een van Durban se groot literêre geeste en toe sy dié prys verower, het sy gedink dalk het die boek nou ’n kans, want dis twee maal deur uitgewers teruggestuur.

Dis ook nie haar eerste keer as wenner van dié literêre prys nie; The Hum of the Sun het dit in 2018 ook verwerf; saam met die Wilbur Smith Adventure Writing Prize (beste ongepubliseerde manuskrip). Die boek het ook die kortlys gehaal vir die Herman Charles Bosman-prys en was op die langlys van die Sunday Times Literêre Prys.

Kirsten vertel sy het juis die skrywerswêreld betree omdat daar ‘n beperkte voorstelling van outisme in gewilde fiksie. (Foto: Rogan Ward.)

Kirsten betree die skrywerswêreld in 2007 met Children on the Bridge: A Story of Autism in South Africa, ’n outobiografiese werk oor haar werk met outistiese kinders. Dit beskryf die uitdagings wat haar daagliks in die gesig staar in haar werk met hierdie kinders en hul ouers en die uitwerking wat dit op haar persoonlike lewe gehad het. Dit word ook op die langlys geplaas vir die Alan Paton Sunday Times-prys. Die titel verwys na die brug wat ’n helpende hand en terapie tussen die wêreld en die gesin wat met hierdie versteuring saamleef, kan wees.

“Ek het ‘n baie beperkte voorstelling gesien van outisme in gewilde fiksie en ander narratiewe vorme. Dit het my nuuskierig gemaak, en ek wou dit verder ondersoek en het gekyk na die voorstelling van outisme in verskillende genres. Dit het gelei tot The Hum of the Sun, waar een van die twee hoofkarakters outisties is.”

Haar ander boeke is A Time For Fairies – ’n geïllustreerde kinderboek; All Is Fish en Sister Moon asook ’n baie lang lys kortverhale, wat in verskeie bundels opgeneem is. Een hiervan is ’n toneelstuk, Remember Joe en handel oor outisme. Dis opgeneem in Short, Sharp and Snappy, ’n versameling toneelstukke deur Suid-Afrikaanse dramaturge en skrywers.

Sy vertel op haar Facebook-blad, kort voor haar jongste boek op die rakke verskyn het, dat All That Is Left lank gelede geskryf is en boonop ’n ander titel gehad het, naamlik Comfortable Skin.

“Ek was haastig en het gedink die boek was gereed, lank voor dit regtig was.”

Die boek sou by die Time of the Writer International Writers Festivals bekendgestel word, maar toe dit weens die Covid-19-inperkingstydperk gekanselleer moes word, word dit nou op Menseregtedag (10 Desember) aanlyn bekendgestel. Sy vertel in die direkte uitsending dat die virtuele ruimte eintlik beter is, want mense wat nie haar bekendstelling sou kon bywoon nie, is aanlyn deel van die boekgesin.

Kirsten vertel dat die boek destyds – ten tye van ’n gevoel van ongemak in die land, wat onrus in haar teweeg gebring het – geskryf is.

“Ek het vrae gehad oor die land en dit is hoe die boek gebore is. Ek het ’n verskeidenheid karakters bymekaar gebring, om die vrae waarmee ek geworstel het, te probeer antwoord.”

Die boek is destyds deur ’n uitgewer aanvaar, maar weens die ekonomiese krisis van 2009 is die aanbod teruggetrek. Daarna is die boek na ’n ander uitgewer gestuur, wat geen besluit gemaak het voordat die boek die uitgewer verlaat het nie.

Tot die Hassim-toekenning.

“Die enigste verandering wat sy aangebring het, was om die oorspronklike liniêre storielyn aan te pas in twee parallelle stories: Thomas en Rachel s’n ontvou in verskillende tydsvlakke.

Sy sê die onderwerp was die moeilikste deel van die boek. Drie van die karakters is nie wonderlike mense nie; dit was moeilik om hulle te beskryf.

“Die boek het ook met ’n gevoel van ongemak begin en dit het gebly tot die laaste bladsy,” vertel sy.

Sy vertel dat haar dramastudies haar die oor gegee het vir hoe mense hulself uitdruk en hoe hulle praat.

“Die ritme van taal. Ewe veel word oorgedra in dit wat gesê word, as dit wat nié gesê word nie.”

Om karakters te skep, is vir haar van die maklikste en lekkerste goed.

“As kind, het ek saans gesprekke en stories uitgedink om myself vaak te maak. Miskien is dit ’n kontroleding, want jy kan besluit wat van die karakters word, tot hulle natuurlik ‘oorneem’ en jy maar by hul besluite moet inval!”

Mens wonder of sy ooit bang is dat lesers haar karakters sal misverstaan? Sy lag:

“Nee, wanneer die boek verskyn, is hulle op hul eie en moet hulle hul man kan staan. Dis dan tussen die leser en die karakter.

“Skrywers moet ook aanvaar dat niemand ooit ’n boek lees soos jy bedoel het om dit te skryf nie, want elkeen bring sy eie lewenservaring, -verhaal en geskiedenis na die proses. Hulle gaan nie die boek deur jou oë lees nie. En elkeen van my boeke het ’n storie van sy eie.

KwaZulu-Natal en Durban is sentrale plekke in haar boeke en dis nie net omdat sy daar woon nie, maar omdat sy altyd daar tuis gevoel het, meer as op enige ander plek.

Al haar boeke gaan oor moeilike karakters, hul diep seerkry en verwerping. Kirsten sê sy onderskryf die ysbergteorie: dit wat ons van mense op die oppervlak sien, maak slegs ‘n baie klein deel uit van wie hulle regtig is.

“My romans is karaktergedrewe. Dit is my taak om binne hul koppe te kom, om te weet hoe hulle emosioneel reageer en te verstaan wat hulle dryf.”

Met die boekbekendstelling vra ’n leser: “Die gevoel van verlies en rou is vanaf die eerste hoofstuk teenwoordig. Hinder dit ooit die storie, of is dit juis die dryfveer?”

Kirsten glo dat dit wel die skryfproses kan hinder. “Ek oorskryf emosioneel – dis die algemeenste terugvoering wat ek van lesers en redakteurs kry. Ek probeer nou om dit te verminder, voordat ek dit vir die eerste deurlees stuur. Dit kan ’n hindernis wees, maar vir my is dit ’n belangrike element van my skryfwerk.

“Ek skryf eerstens uit ’n gevoel en daardie gevoel word dan ’n plek voordat die karakters verskyn. Gevoel is baie belangrik in my werk.”

Sy erken dat sy sedert 2017 nog niks nuuts geskryf het nie.

“Ek werk egter voortdurend aan iets en het tans drie manuskripte waaraan ek vir ’n geruime tyd al werk en skaaf.

Vir my is skryf ontvlugting. En hoewel dit vir sommige mense ’n dissipline is, is dit vir my net ’n plesier, want ek kan dit doen wanneer ek daarvoor lus is. Dis nie my brood en botter nie, maar ’n inkomsterekker.”

Die SABC TV het haar al verskeie male gebruik in praatjies oor outisme, soos in The Power Within en sy het al verskeie male op die televisie en radio oor dié onderwerp gepraat.

Action in Autism is 15 jaar gelede deur ouers begin, toe daar geen opvoedkundige- of ander hulpbronne vir hul kinders in KwaZulu-Natal beskikbaar was nie.

“Ek het betrokke geraak omdat ek een van die min mense was wat destyds op dié gebied gewerk het. Dit het begin as ’n werwings- en ondersteuningsorganisasie deur die regering – ‘n vroeë ingrypingsentrum is in 2009 geopen, en ons het tans ‘n aantal ander projekte en dienste wat tesame hiermee aangebied word vir outistiese persone en hul gesinne.

“Ek leef nogal instinktief en beplan nie te veel nie. Ek doen wat nodig is en wat voor my is. Die geleentheid om met outistiese mense te werk, het homself redelik vroeg in my lewe voorgedoen. Ek hou ook baie van outistiese mense, beide vir hul eerlikheid en vir die vars perspektief wat hulle ons kan bied.”

Haar ander liefde is kuns – akriel, waterverf, lapverf en mosaïek. Sy het al verskeie solo- en groepuitstallings agter haar naam. Een van haar werke, ’n lewensgrootte kunsstuk van materiaal, krale en veselglas, African Moo-nlight vir die CowParade is op ’n veiling deur die SABMiller gekoop.

Kirsten vertel: “Ek is van nature kreatief en my werk neem verskillende vorme aan. My hoofmedium is skryf, maar ek hou ook van visuele kunsvorme. Kuns vir my is ’n transformerende proses, soms selfs buitesintuiglik. Kuns, in watter vorm ook al, bevry ons. En die grootste vryheid is te vinde in die skepping van iets.”

En wat maak haar nou opgewonde? The Hum of the Sun is op die langlys vir die International Dublin Literary Award 2020, saam met Cynthia Jele, Tim Winton en Haruki Murakami.

“Ek moet erken, dit laat my altyd glimlag, maar jy moet versigtig wees vir uiterlike erkenning of lof. Dit is lekker om te hê, maar jy kan nie daarop vertrou nie. Jy moet om ander redes skryf.”

Kirsten Miller sê sy werk nou aan die manuskrip vir ‘n liefdesverhaal. (Foto: Rogan Ward.)

Nog vrae aan Kirsten:

Jy fasiliteer ook gereeld skryfkursusse. Wat geniet jy hieraan?

Ek geniet dit om die proses van die skryf van ‘n nuwe roman uit te pak, omdat ek voel dat ek ten minste iets daarvan op hierdie punt verstaan.

Is jy Rachel, die vrou wie se broer verdwyn en na wie se begrafnis sy gaan? Hoeveel van jouself gaan in jou hoofkarakters?

Nee, ek is nie Rachel nie, behalwe dat ek ’n wit vrou is wat in Suid-Afrika woon. Rachel is ’n ma en het die luukse om nie te werk nie. Dit is nie ek nie; ek het dertig jaar aaneenlopend gewerk en het geen kinders nie. Maar sy simboliseer wel wit Engelssprekende vroue in hierdie land, en miskien is dit waarom ek haar gekies het. Vir my is fiksie ’n medium waarin jy ’n hele aantal onwaarhede uitmaak (soos karakters en verhale) om iets groter, breër en wat nader aan ’n universele waarheid is, te ontbloot of te illustreer. Om karakters te skoei op jouself of mense wat jy ken, is lui, of ’n kunsvlyt wat nie ontwikkel is nie – dan skryf jy niefiksie.

Jy is die direkteur van die, NGO, Action in Autism (AiA), wat verlede jaar die Shahuma-vaardigheidsentrum geopen het, om outistiese volwassenes vaardighede te leer. Hoekom die behoefte?

Sodra outistiese mense die skool verlaat, is daar meestal geen opleidings- of werkgeleenthede vir hulle nie, en hulle sit tuis sonder enige middele om tot die samelewing by te dra, en ons wou dit verander. Action in Autism het ’n model geskep vir opvoeding, opheffing en bemagtiging vir outistiese mense, wat hulle uiteindelik in staat sal stel om óf onafhanklik, met ondersteuning, of met hul eie onderneming of mikro-onderneming te begin. Ons bied tans vaardigheidsoordrag op die gebied van administrasie, voedselproduksie en plantaanplanting, handwerk, bak en spyseniering aan.

Waaraan werk jy nou?

Ek werk aan my mees onlangse manuskrip, ’n liefdesverhaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.