Kits Cappucino: Fout!

Hallo, my naam is Fran, en ek is van foute aanmekaargesit… Dalk moet ek so ‘n beweging begin. ‘n Plek waar jy kan en mag en moet vertel van alles wat jy verkeerd doen. Vat byvoorbeeld nou vir my. Ek het ‘n hap in my man se hare gesny. ‘n Helse hap. Ek het koekies wat ek toe-oë kan bak, verbrand. Ek dink 10 000 en 1 000 is ewe veel. Ek kan net elke tweede dag redelik oraait spel. Vir my is 250 ml en 250 g blykbaar een en dieselfde ding… En ek dink ek kan skryf?! I ask you?

Verder maak ek optelfoute, vertroufoute, vergeetfoute, onthoufoute en breekfoute. Gedurig. Pal. Aanhoudend. Ek lewe konstant in angs. En wanneer ek in my neus krap, gaap of laasjaar se te-klein rooi toppie aantrek (want soms is dit al wat in my kas is), slaan ek in koue sweet uit – wat as Nataniël of Emsie my sien?! Nee, ek ken hulle nie. Is nie eers ‘n fan op Facebook nie, maar daai twee mis NIKS!

En toe.

Toe besluit my vier honde om met die 10 rolle toiletpapier wat hulle kon bykom, trou-trou te speel. Weet jy hoeveel stringe kan jy van 10 rolle afkry? Terwyl ek nog na my asem gesnak het, spring hulle my amper om van baldadige vreugde toe ek by die voordeur instap. Sterte swaai en opgewonde tjankies bars uit diep kele uit. Hulle is nie jammer nie. Nie skuldig nie. Net bly. Verskriklik bly.

Jy sien. Hulle het nie bedoel om ‘n fout te maak nie. Hulle het net gespeel. Ek het net hare gesny, ‘n verassing gebak, stories vertel, en ‘n resep gedeel. Ek het nie bedoel om enigiets te verwoes nie… dit het net gebeur.

Nou maak ek vrede met my foute! En ek máák hulle. Moenie dat my foute jou pla nie, ‘n mens raak gewoond daaraan! Intussen het ek agtergekom jy kan ‘n papierbord ook gebruik…

X

(Bestel Groete, Fran by http://groetefran.withtank.com/)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.