Kits cappucino: post-Kersfees blues

Die kos is op, die huis is leeg, die honde is soet en iewers onder die boom lê nog ‘n verlore stuk geskenkpapier. Kersfees is verby. Ek probeer verbete aan ‘n stukkie daarvan vasklou.

Ek soek prentjies op Google van sneeu en ‘n vet rooi Vader Kersfees. Met Boney M wat op die agtergrond sing. Ek verbeel my die koue strate van ‘n Europese stad waar elke venster jou met ‘n ander Kerstoneel verlei. Waar groot rooi en groen balle van die dakke afhang en die strate vol vrolike liggies is. Met mense wat Merry Christmas-wolke blaas soos hulle warm asems goeie wense die koue lug instuur.

Hoekom is dit so gou verby?

En ek haat hierdie tussen-in tyd. Dit is vol vrees wat teen ‘n slakkepas aankruie tot en met die nuwe jaar. Weemoed oor alles wat weer van vooraf moet begin. Ek wou so graag ‘n plan gehad het… die nuwe jaar met oorgawe aangegryp het. Maar soos elke ander jaar, is ek eenvoudig bang. Bevrees. Want Kersfees is op en daar lê 366 (want dis skrikkeljaar!!!!) onbekende dae voor.

My keel trek toe. Ek hoop daar is iemand wat in die nuwe jaar my hand sal vat.

Fran
X

• Fran se blog, Kits Cappuccino, gaan weekliks op Maroela Media gepubliseer word. Kom volg haar gerus en skryf terug deur op haar blog kommentaar te lewer – sy kan nie wag om te hoor wat jy wil vertel nie!
Kyk ook uit vir Fran se boek, Groete, Fran, wat beskikbaar is by www.bookshelf.co.za, enige VVA-tak (Vrystaat Versorging in Aksie) of bestel dit by [email protected]. ʼn Groot gedeelte van die omslagprys van R180 gaan vir ʼn goeie doel. Dis die ideale geskenk vir daardie spesiale vriendin of sommer net vir jouself!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.