Kits Cappucino

Honderd keer, nee, ʼn duisend maal wou ek al een van my beste vriendinne vir Kersfees hê. In blink papier toegedraai met ʼn groot strik om. Nie net vir onder die Kersboom lê nie, maar veral vir daardie stil, donker nagte wat hulleself so ongenooid deur die jaar deel van jou lewe maak.

In die dag kan ʼn mens goed mos makliker oorleef, maar in die nag! Ek is seker elke vrou is dan vetter, hartseerder en ekstra kwaad. Gewoonlik maak ek vir my ʼn koppie tee en gaan krul iewers op ʼn stoel in ʼn donker hoekie op. Ek is gewoonlik so onsmaaklik geen spook sien eers vir my kans nie. Dis net ek en die donkerte en die simpel gedagtes in my kop. Wel … ander kere het ek weer iets om te vier. ʼn Blydskap. ʼn Lekkerte. En dan soek ek ook na daardie vriendin wat ek so graag vir Kersfees wou hê.

Sê nou maar ek kon Anel kry… Vir haar sou hulle met lugpos moes stuur, want sy bly vreeslik ver. Heeltemal te ver. So dit sou ʼn bruin pakkie met ʼn tou en iewers ʼn blerts van daardie harde, rooi goed gewees het. Ek sou dit net so onder die boom bêre en ʼn hele botteltjie blinkers oorstrooi (ʼn mens dink nie dan aan skoonmaak nie, ongelukkig nie!). En as ek vir haar daar uithaal, maak ons dadelik die naaste bottel wyn oop en eet oorsese tjoklits wat saam met haar in die boks was. Daarna sal ons elke oggend vroeg opstaan en ver gaan stap. Sodat ons fiks genoeg is vir al die berge wat sy so graag klim. Ek sal natuurlik saamgaan (phew!) want Anel sê ʼn mens los al jou hart se bagasie daarbo – jy is heeltemal te gedaan om dit verder saam te dra. Klink na ʼn wonderlike plan!

En dalk saam met haar, sou ek vir Nicolette ook onder die boom wou hê. In ontwerperspapier toegedraai met ʼn moewiese sonbril op haar kop – binnenshuis of te not! Want sy sal my toonnaels bloedrooi verf wanneer ek te hartseer of kwaad is om dit self te doen. En, gewoonlik, douvoordag, gaan staan sy voor die bakker se deur om die eerste, vuurwarm vars brood te koop. Dan eet ons dit saam met botter en tee.

Die ander sal ek bêre vir die jare daarna, sodat ek elke Kersfees iets het om na uit te sien. So, Vader Kersfees, dit is wat ek graag wil hê! Sal jy dit vir my bring? Intussen gaan ek ʼn foto van elke vriendin aan my Kersboom hang. Dit sal my help om minder te verlang.

En dan wonder ek ook… of een van my vriendinne my vir Kersfees sou wou hê? Of hulle ook sommige nagte vra: “Ai, wáár is Fran!?” En sou ek toegedraai onder hulle Kersboom land, soos wat sou ek wees? ʼn Dienlike geskenkbewys of shocking pienk cutex? Dalk pantoffels, ʼn hygroman of ʼn handgemaakte mosaïekfotoraam?

As ek kon kies, sou ek Sneeuwitjie se stiefma se spieël wou wees! Sodat ek elke oggend vir elkeen kan sê hoe oulik en mooi hulle is. Maar nooit, ooit sou ek verklap dat hulle skelm gesigspier-oefeninge doen en soms in die nag alleen in die badkamer huil nie. O, nee. Ek sou knipoog en wanneer dit nodig is saggies vir hulle Pretty Women sing.

So, as jy die Kersfees ʼn platterige persent kry… maak dit baie versigtig oop!

Fran.
X

• Fran se blog,
Kits Cappuccino, gaan weekliks op Maroela Media gepubliseer word. Kom volg haar gerus en skryf terug deur op haar blog kommentaar te lewer – sy kan nie wag om te hoor wat jy wil vertel nie!
Kyk ook uit vir Fran se boek,
Groete, Fran, wat beskikbaar is by www.bookshelf.co.za, enige VVA-tak (Vrystaat Versorging in Aksie) of bestel dit by [email protected]. ʼn Groot gedeelte van die omslagprys van R180 gaan vir ʼn goeie doel. Dis die ideale Kersgeskenk vir daardie spesiale vriendin of sommer net vir jouself!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hendrien de Klerk ·

Ek het Fran so ‘n maand of wat gelede ontdek en hierdie vriendin wil ek nooit weer verloor nie. Sy gaan nie onder my kersboom wees nie, want ek geniet haar al klaar elke dag!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.