Klara

deur Mariël le Roux

Dis waar dit geëindig het, toe die trekker se wiel Klara se pa papgedruk het. Toe hulle ná haar pa se dood van Boplaas moes weg en in die witlokasie gaan woon, toe was alles verby. En dit was nog lank voordat al agt die kinders gebore is wat die agt knope in Klara se naelstring voorspel het. Maar verby was die tyd dat Klara die dae onder die wilgerboom op die damwal langs die lusernland kon omdroom, of met rooi koeldrank en koekies voor die stoof kon sit en luister na Polla se stories oor waar die bul vir oom Slap Soois geskop het.

Boplaas het hulle afgeskud.

Of so het Klara gedink. Maar die waarheid is dat Boplaas nie klaar was met haar nie. Haar susters kon wegkom – Leen met haar oneerbiedigheid en Martie deur ʼn halwe Duitser te trou en landuit te vlug- maar nie sy nie. Iemand moes help om Ma se fratskind, Henk deur matriek te sien, en daarby moes Klara ook nog haar eie geleerdheid kry.

Eers toe die ding met Dries, Boplaas se erfnaam, op die rotse loop, was dit asof Klara haar losmaak van haar verlede. Maar dit is juis toe sy uiteindelik weggaan dat sy agterkom hoe onlosmaaklik sy verstrengel is met daardie plaas en sy mense.

Klara is ʼn verhaal met ʼn onweerstaanbare aardsheid. Snaaks én hartverskeurend. Dis nie aldag dat ʼn mens jou so kan verlustig in die vreemde draaie wat die lewe gooi nie.

Oor die outeur:
Mariël le Roux is op 1 Oktober 1947 op die plaas Houmoed naby Worcester gebore. Sy matrikuleer in 1964 aan die Hoër Meisieskool Worcester. Dié ma van vier het haar loopbaan as dosent in Verpleegkunde aan onder meer die Universiteite van Wes-Kaapland en Stellenbosch beoefen. Na haar aftrede skryf, lees en reis sy graag. Sy en haar man, Jean woon op Hermanus.

Wilhelmina – kampkind op Java, haar debuutroman, het by Protea verskyn en uitstekende reaksie by die publiek uitgelok. Dit is in Nederlands vertaal as Sterretjie en het reeds herdrukke beleef. In 2010 wen haar roman Die naamlose die tweede prys in die Sanlam-Tafelberg Romanwedstryd. Hiervan is meer as 5 000 eksemplare verkoop.

Uitgewer: LAPA uitgewers
Prys: R200-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.