Kom eet! Om die tafel met Anita en Deon Meyer

Deon en Anita Meyer

Hartskos. Dit is was Deon en Anita Meyer in dié boek met lesers deel.

Die disse in die boek is heerlik, maklik om te maak en geliefd onder Suid-Afrikaners. Die wydste verskeidenheid kos kom aan die beurt, van Deon se oggend-muesli tot die broodpoeding waarmee die Meyers Sondagmiddagete afsluit.

Trakteer jou mense op heerlike skaapskenkels of murgsagte ribbetjie, gebraaide aartappels en pampoenkoekies. Sluit die ete af met sagopoeding of modderkoek.

Baie van die resepte is Karookos uit die Loxton plaasgemeenskap, met ’n spesiale Meyer-kinkel; ander is vinnige kos vir stadsgesinne. Die Meyers het immers vier tieners in die huis, en die tafel sit gereeld vol met familie en vriende.

Hul kosfilosofie is dat ’n mens dit moet geniet: die voorbereiding, die geselskap, en die saam eet!

Nou nooi Anita en Deon Meyer jou om by hulle te kom aansluit in hul gesellige kuierkombuis.

Die tong-in-die-kies, prettige lokprent vir Deon en Anita Meyer se kookboek, Kom eet!, is pas vrygestel.
In die video speel Emo Adams en Albert Maritz twee polisiemanne wat gesels oor die Meyers se sogenaamde inhegtenisneming. Speurder Bennie Griessel (‘n karakter uit Deon se misdaadromans) het hulle glo gearresteer, want die resepte in Kom eet! “is so lekker, dis ‘n crime“! Lekker kyk en lag:

Oor die outeur
Deon Meyer is ’n internasionale top misdaadskrywer. Hy boer op die topverkoper lyste, en sy werk is al in 25 tale vertaal. Boeke soos Spoor en 13 uur verkoop sommer maklik 30 – 40 000 eksemplare.

Maar Deon is ook ’n kosliefhebber en smulpaap, soos duidelik blyk uit sy boeke, waarin die karakters dikwels kokke is of smul aan gunstelingdisse wat noukeurig beskryf word.

Nou kan Deon se duisende aanhangers self die disse voorsit en geniet waaraan Deon en sy gesin – en karakters uit sy boeke – so smul.

Anita, Deon se vrou, is ’n toegewyde fotograaf. Hulle woon in Durbanville saam met hulle vier kinders: Lida, Liam, Johan and Konstanz.

Deon en Anita deel ’n passie vir motorfietse, vir boeke – en vir kos. Familie en vriende – van bekendes en celebs tot die bure langsaan – val gereeld in by die Meyers vir ’n vriendelike kuier en watertand-etes.

Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R250*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.