Kom lees ’n uittreksel uit ‘Brandmerk’

Hier volg ʼn uittreksel uit Brandmerk deur Christelle van Rooyen-Wessels.

David Francke maak die yskas oop. Sy ma was hier, sien hy.

Daar is vars tamaties en blaarslaai in die groenterakkie. Sy het vir hom fetakaas – die soort waarvan hy hou – en olywe gebring. Ook ’n pakkie kouevleis en ’n boksie melk.

Hy glimlag. Sy doen dit gereeld, al verseker hy haar dat hy beslis sy eie inkopies kan doen. Hy is egter baie bly dat sy nie luister nie. Dis vir hom baie lekker om te weet sy was hier in sy blyplek.

Hy snuif die lug, hy ruik die subtiele geur van haar parfuum. Dis dalk net sy verbeelding, maar maak dit saak?

Soos gewoonlik dink hy dan aan sy pa. Daar is so baie waaroor hy nog nie antwoorde het nie. Hy wens… Wat is dit wat hy wens? Is hy spyt dat hy sy pa nie beter geken het nie? Spyt omdat die vrees vir die geweld waartoe sy pa in staat was, hom blind gemaak het vir die ánder dele, die nuanses van sy pa se karakter? Was daar nu­anses? Was daar ’n ander sy aan sy pa wat nie soos ’n dors duiwel na bloed geroep het nie?

Sien, hy gaan nooit weet nie. En dit is alles Nathan Dean se skuld.

***

Nathan se asemhaling hier langs haar in die bed is diep en reëlmatig.

Klara draai om sodat sy na hom kan kyk. Sy glimlag. Hy het steeds presies dieselfde uitwerking op haar as daardie aand toe sy hom die eerste keer gesien het. Daardie aand, onder haar en Johan se lapa, het sy in die Amerikaanse ingenieur wat pas in die dorp aangekom het, se oë gekyk. Sy kon dit nie tóé begryp nie – sy kan dit steeds nie regtig verduidelik nie – maar in daardie breukdeel van ’n sekonde het haar situasie meteens soveel minder hopeloos gevoel.

Die maande wat op hul ontmoeting gevolg het, was wel louter hel, niks minder nie. Maar die wete dat Nathan Dean daar was, het haar moed gegee. Dit het haar laat waag om te glo dat sy beter ver­dien het as die wreedheid waaraan haar man haar onderwerp het. Wanneer sy aan Nathan gedink het, kon sy haar ’n lewe sonder mishandeling en aftakeling verbeel. Maar sy moes eers letterlik deur die dal van doodskaduwee gaan om haar lewe terug te wen.

Klara kan voel hoe die vrees wat jare lank haar konstante metge­sel was, en haar steeds in onbewaakte oomblikke uit donker hoeke bespring, in haar keel kom sit. Sy slaan haar een arm om Nathan se lyf. Hy kreun saggies en soek met sy linkerhand na hare. Sy strengel haar vingers deur syne en kom lê met haar kop teen sy skouer.

“Liefde ná lyding.”

Dít was die opskrif van die artikel in ’n gewilde tydskrif toe sy en Nathan getroud is. Die soetsappigheid het haar dwars in die krop gesteek. Sy wou eers glad nie met die tydskrif se joernalis praat nie. “Ag, Klaratjie, praat eerder met hulle, sorg dat hulle die feite reg het en kry die storie agter die rug. Anders stuur hulle in elk geval húl weergawe die wêreld in en jy het geen beheer daaroor nie,” was haar vriendin, Veronica Kleynhans, se raad.

Klara wou die geld wat die tydskrif haar vir die eksklusiewe storie aangebied het van die hand wys. Dit was óók Veronica, of Ronnie vir almal wat haar ken, wat haar oortuig het om die geld te aanvaar en te gebruik om die dienste by Veilige Hawe te opgradeer.

Dieselfde verslaggewer wat ná Johan se dood vir lesers die storie van Klara se lewe saam met ’n monster vertel het, was by haar en Nathan se klein, intieme troue.

Haar verhaal het die land aangegryp. En die gelukkige einde het harte geroer. Afgesien van die dubbelbladsy met foto’s van hul mooi dag, was daar ook die opsomming van haar lewe vóór Nathan.

Sy het haarself voorgeneem om nie die artikel lees nie. Maar daardie iets in jou wat maak dat jy soms nie kan help om ’n roof af te trek voordat die wond heeltemal gesond is nie, het haar verplig. Dit was op ’n manier ook tog helend om iemand anders se perspek­tief op haar storie te ervaar. By tye was dit byna onmoontlik om die woorde te verteer, maar sy het haarself gedwing om álles te lees.

Die artikel het in breë trekke vertel van die louter hel wat sy vir byna twee dekades onder Johan Francke beleef het. Hoe sy, ter wil­le van haar seun, die gruwelike mishandeling verduur en vir almal rondom haar weggesteek het.

Dalk moet sy eerder opstaan en vir haar gaan tee maak. Sy ken hierdie roetine maar net té goed: Wanneer die spoke van die verlede eers begin loop, vorm hul ’n stormram wat eenvoudig die skansmure wat sy opgerig het verwoes; dan wyk die slaap.

Klara staan versigtig op sodat sy nie vir Nathan wakker maak nie. Tog, as hy nou sou omdraai en met sy hand na haar soek, sal dit ’n verligting wees. Wanneer hy wakker is, gee haar duiwels ge­woonlik pad. Maar Nathan slaap rustig en Klara stap gangaf, bang vir die donker wat in elke vertrek skuil. In die kombuis blaas sy eers haar asem uit toe die buislig sy fel lig oor alles gooi.

Sy tap water in die ketel en skakel dit aan. Terwyl sy die teeblare in die pot skep, keer haar gedagtes na die tydskrifartikel van destyds terug.

Die joernalis het geskryf dat Klara egter nie eens kon droom tot hoeveel méér wreedheid haar man in staat was nie. Ja, sy het Johan se hardhandigheid op elke moontlike manier beleef; ook die volle effek van sy sielkundige aftakeling van haar ervaar. Maar dat hy ’n reeksmoordenaar was, was vir haar ’n ontsaglike groot skok en ont­nugtering, om die minste te sê. Haar man was niks minder as ’n monster nie. ’n Onmenslike wreedaard wat verantwoordelik was vir ’n reeks ontvoerings en moorde op jong meisies. Haar brein het baie, baie lank gesukkel om die feite te verteer.

Die ketel kook byna. Klara skakel dit af en gooi die water in die teepot. Sy skink solank melk in haar beker, trek ’n stoel uit en gaan sit langs die tafel terwyl sy wag dat die tee trek.

Die deel van die artikel wat beskryf het hoe die polisie eindelik op Johan se spoor gekom het toe hulle besef dat die reeksmoorde­naar se slagoffers almal ’n fisieke ooreenkoms met Klara het, was vir haar die pynlikste. Met elke woord oor hoe Johan sy slagoffers gekies het omdat hul oë ’n ooreenkoms met haar eie gehad het, het haar binneste opnuut van skaamte en selfverwyt ineenge­krimp.

En dit is ’n skaamte wat sy, ongeag maande en maande se terapie, nooit heeltemal sal afskud nie. Maar sy het nou al grotendeels ge­leer hoe om daarmee saam te leef.

Of dit is wat sy haarself elke dag wysmaak. En dan kom nagte soos vanaand.

Sy onthou skielik van haar tee en voel aan die teepot. Dis yskoud.

***

Die uittreksel is goedgunstig deur Penguin Random House verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.