Komediant se eerste boek nou op die rakke

Die omslag van Schalk en Erns se boek, Truitjie roer my nie.

Die omslag van Schalk en Erns se boek, Truitjie roer my nie.

Deur Leonie Bezuidenhout

Die akteur en komediant Schalk Bezuidenhout het al ʼn hele rits televisiereekse, kunstefeeste en internasionale optredes agter sy naam.

Dié 25-jarige kunstenaar, wat reeds as klein seuntjie deur sy ma aangepor is om tot die vermaak van sy familie die Hollywood-grapjas Jim Carrey na te boots, kan nou ook sy eerste boek van sy doenlysie aftik. Truitjie roer my nie bestaan uit ʼn versameling komiese en interessante verhale oor Schalk se ervarings as komediant en sy bestuurder, die skrywer en aanbieder Erns Grundling, het help skaaf aan die boek.

Erns vertel hy het aanvanklik die idee gehad om ʼn boek oor Schalk, met dié se insette, te skryf en kort voor lank het Schalk ʼn hele “Google Drive vol stories” gehad.

“Hy het een aand op pad na ʼn vertoning vir my van sy stukke voorgelees en ek was dadelik baie verlig toe ek besef Schalk kan self baie goed skryf. Dit sou my werk aansienlik makliker maak en Schalk se stukke was uiteraard skreeusnaaks.”

Erns sê die boek is nie ʼn memoir of ʼn outobiografie oor Schalk se lewe nie, maar vertel eerder die verhaal van Schalk se loopbaan deur interessante staaltjies. “Ons het ʼn lang, ambisieuse plan om elke drie jaar so ʼn boek vry te stel waar die leser soort van kan opvang met waar Schalk in sy loopbaan is.”

Schalk vertel die woorde het maklik gekom. “Ek het net begin by die begin. Die eerste hoofstuk se naam is ook ‘Die Begin’. Daarin vertel ek van my grootwordjare. Ek skryf ook oor my ma, wat ʼn baie groot rol in my lewe speel.”

Schalk en Erns beskryf hul verhouding as 'n "comedy bromance". (Foto: Alet Pretorius/NB Uitgewers)

Schalk en Erns beskryf hul verhouding as ‘n “comedy bromance”. (Foto: Alet Pretorius/NB Uitgewers)

Net soos in die boek, lewer Erns kort-kort kommentaar oor wat Schalk sê. Oor Schalk se ma lag hy: “Schalk skryf baie mooi oor sy ma, maar ook baie tong in die kies.”

“Ek is verlig dat die boek die lig gesien het, want ek het nie geweet hoe ek sou vaar as skrywer nie,” vertel Schalk. “Ek voel asof ek nog nie kan sê ek is ʼn skrywer nie. In my kop is mense soos Erns skrywers – hierdie boek is maar net my verhaal in my eie woorde soos wat ek sou praat.”

Ja, die boek is vol vloekwoorde en hy sê ʼn ding soos hy dit sien. “Dit sou vir my soos bedrog gevoel het as ek alles geskryf het en Erns het dan my woorde gevat en dit sagter gestel of mooier laat klink.

“Dit is vir my lekker om te weet, net soos met my komedie, dat mense my beter gaan leer ken wanneer hulle die boek optel. Hulle sal die regte ék ervaar, en nie net ʼn weergawe van myself of iemand wat ek voorgee om te wees nie.”

Die boek is egter nie net vir Schalk-aanhangers nie en lewer oor sekere onderwerpe sosiale kommentaar. “Sonder dat ek dit noodwendig so beplan het, het sekere stukke meer ernstig uitgekom. Ek skryf oor goed wat ek eerstehands ervaar, soos mense wat die k-woord gebruik en sommer aanneem, omdat ons albei Afrikaans is, dat dit oukei is of dat ek dit aanvaar.”

Erns, ʼn Weg-joernalis wat onlangs getref het met die boek Elders, het vir Schalk in 2015 sien optree by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees op Oudtshoorn en het hom só snaaks gevind dat hy hom vir ʼn goeie joernalisvriend se rampartytjie bespreek het.

Schalk en Erns. (Foto: Facebook)

Schalk en Erns. (Foto: Facebook)

“Ek wou nie ʼn ontkleedanseres reël nie en het Schalk boonop skreeusnaaks gevind. Ná afloop van die rampartytjie by ʼn bekende kegelbalbaan in Kaapstad het Schalk my genader en gevra of ons dalk kan saamwerk. Ek het in my studentedae konserte op die ou UPE-kampus gereël vir ouens soos Koos Kombuis en Gert Vlok Nel. Schalk het ook iemand nodig gehad om sy regterhand te wees en gedink ons behoort goed saam te werk.”

Schalk, wat bekend is vir die kleurvolle truie wat hy dra, vertel hy het juis tydens die KKNK-vertoning van die jaar waarin hy Erns ontmoet het, alles vir die vertoning self gedoen. “Van vorms invul tot die plakkate opplak en bemarking doen tot die show skryf. Dit is ook agterna moeilik om te weet hoe die vertoning verloop het. Ek het daar besef ek het iemand soos Trevor Noah se Ryan Harduth nodig, iemand wat kan fokus op die ander goed terwyl ek fokus op die vertoning.”

Truitjie roer my nie word deur Quellerie-uitgewers uitgegee en is landwyd by groot boekhandelaars beskikbaar asook aanlyn by Loot en Takealot.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

NADIA ·

Ek sal wat gee vir sy boek!!! Ek love sy se goed!!! Schalk jy is oorspronklik… reguit en se ‘n ding soos hy is! Jy en Jack Parrow ROCK!!! KEEP IT GOING OU MAAT

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.