Konferensie vir skrywers van romantiese fiksie aangebied

(Argieffoto: Pixabay.com)

Die Romance Writers Organisation of South Africa (ROSA) se jaarlikse konferensie vind van 20 tot 25 Oktober aanlyn plaas. Tydens dié geleentheid word twee pryse onderskeidelik aan ʼn gepubliseerde en ongepubliseerde skrywer oorhandig.

ROSAcon se program bestaan uit ʼn verskeidenheid sessies wat bemarking, publikasie, skryfvaardighede en algemene riglyne insluit. Konferensiegangers kan uitsien na plaaslike sprekers soos Didi Potgieter, Elsa Winckler, Izak de Vries en verteenwoordigers van Lapa Uitgewers.

Belangstellendes het die opsie om per dag by te woon of om ʼn eenmalige kaartjie vir al die sessies te koop. Enige lid van die publiek is welkom om in te skakel en lede van die skrywersvereniging kan dit vir ʼn spesiale prys bewoon.

Die tempo word afgewissel met tyd om virtueel saam met ander te skryf, ʼn koppie koffie te gaan haal of sommer net bene te rek. Skrywers kan hul eie tempo bepaal en sal na afloop van die konferensie steeds toegang tot die sessies hê.

Margarethie Bredenkamp, ʼn lid van ROSA, meen die program sal skrywers inspireer en bemagtig om beter te skryf, of met meer selfvertroue toerus om te publiseer.

“Nadat jy die woord ‘virtueel’ of ‘aanlyn’ gelees het, is jy sekerlik lus om die toestel waarop jy nou sit en lees af te skakel? Moenie, jy gaan ʼn groot geleentheid deur jou vingers laat glip,” sê sy.

ROSA stel ʼn aantal beurse vir die konferensie beskikbaar. Vier vol beurse, ongeag of jy ʼn lid van die vereniging is, en agt gedeeltelike beurse wat net vir lede is.

Kandidate aan wie die beurse toegeken word, kry die geleentheid om een weeksdag van hul keuse en een dag oor die naweek gratis die konferensie by te woon.

Bredenkamp verduidelik dat die Strelitzia-prys vanjaar vir vierde keer aan ʼn ongepubliseerde werk oorhandig word. Afrikaanse en Engelse fiksieverhale kom in aanmerking vir dié prys. Die beoordeling vind oor twee rondtes plaas. Bredenkamp verduidelik:

“Die eerste rondte bestaan uit ʼn mentorskapsprogram waar twaalf ongepubliseerde skrywers gekeur en deur ʼn groep ervare mentors gelei word. Die hooffokus is op die ontwikkeling van skrywers se vaardighede en om hul verhale af te rond.”

Tydens die tweede rondte word drie manuskripte geïdentifiseer wat verder ontwikkel word. Uit dié kortlys word die wenner dan aangewys.

Die Imbali-prys word vanjaar vir die vyfde keer toegeken. Enige boek wat tussen 1 Januarie 2019 en 31 Desember 2020 gepubliseer is, kan ingeskryf word. Afrikaans en Engelse tekste word in dié kategorie afsonderlik beoordeel.

Vorige wenners van die Imbali-toekenning sluit in Moeilikheid met ‘n meermin deur Sophia Kapp, Liefde vir ‘n Ridder deur Didi Potgieter en Reis deur die hart deur Leandra Naudé.

“2020 sal onthou word as die jaar van kansellasies – vir reise, troues, verjaarsdagviering en familiebyeenkomste. Maar één ding wat nie gekanselleer is nie, is ROSAcon,” sê Bredenkamp. “Jy het nie eens ʼn vliegtuigkaartjie of ʼn bespreking vir ʼn hotelkamer nodig om dit hierdie jaar by te woon nie.”

Klik hier vir meer inligting oor kaartjies en die konferensieprogram. Hou ook Rosa se Facebook-blad en webwerf dop vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
wilhelm

Lees mense nog die boggom?