Kook en geniet

S.J.A de Villiers

Kook en geniet het in 1951 vir die eerste keer verskyn. Met meer as ’n miljoen eksemplare in druk is dit ongetwyfeld dié klassieke Suid-Afrikaanse kookboek. Generasies is grootgemaak en het self leer kook aan die hand van dié boek. Kook en geniet dek alles wat jy ooit oor kook kan wil weet – van hoe om bestanddele te meet, oonde optimaal te gebruik, groente voor te berei en vleis gaar te maak tot hoe om kos perfek te vries – naas die meer as 700 ekonomiese, beproefde en geliefde resepte. Dink aan Japie se gunsteling, waterblommetjies of souskluitjies. Volledig hersien en herverpak in ’n kleiner, dikker formaat wat die gevoel van die oorspronklike met moderne leesbaarheid versoen.

Oor die outeur
S.J.A. (Ina) de Villiers is op 24 Februarie 1919 gebore. Sy het grootgeword in Boshof in die Vrystaat, en het later huishoudkunde aan die Universiteit van Stellenbosch studeer. S.J.A. de Villiers is ’n Suid-Afrikaanse ikoon. Sy is die een wat die nasie leer kook het. De Villiers was in die jare veertig bekend in landboukringe onder haar nooiensnaam en van, Ina van Schalkwyk. Sy was ’n huishoudkundige by die destydse Departement van Landbou. Nadat sy in die huwelik getree met prof. Japie de Villiers (toe hoogleraar in geologie aan die Universiteit van die Vrystaat), het sy begin met die versamel van resepte. Plaaslike uitgewers het nie daarin belanggestel om haar boek te publiseer nie, en in 1951 het De Villiers die eerste uitgawe van Kook en Geniet self uitgegee, met ondersteuning van haar eggenoot (wat sy goudaandele verkoop het en vir haar geld geleen het) en dr. Mattie Jooste, hoogleraar in huishoudkunde aan die Universiteit van Stellenbosch. De Villiers was ’n entrepreneur van formaat. Sy het die bemarking en verspreiding van die boek self behartig, en kon later jare, nadat sy die boek se Engelse uitgawe in 1972 aan Human & Rousseau toevertrou het, met kundigheid gesels oor dinge soos voorraadbeheer, gehaltebeheer en vernuwing van inhoud.

Kook en Geniet was uit die staanspoor bekend as die “Bybel van kookkuns” vir jong Afrikaners. Dit het sedert die eerste publikasie talle herdrukke in sy ou formaat beleef. In 1990 het Human & Rousseau die reg gekry om die kookboek in Afrikaans in sy ou formaat te publiseer, en in 1992 het ’n hersiene uitgawe van sowel die Afrikaanse as Engelse uitgawes met die hulp van De Villiers verskyn. Die stilering vir dié uitgawe is deur Peter Veldsman gedoen.
In November 2009 het Human & Rousseau ’n nuwe opgedateerde uitgawe van Kook en Geniet gepubliseer. De Villiers se dogter, Eunice van der Berg, ’n huishoudkundige soos haar ma, het deur die kopie gewerk en gemoderniseer waar nodig sonder dat die essensie van die Kook en Geniet wat ons almal ken en lief het, verlore gaan.

Sedert 1951 tot vandag het meer as ’n miljoen eksemplare van Kook en Geniet en Cook and Enjoy verkoop.

De Viliers het op Stellenbosch gewoon en is oorlede op 20 September 2010 in die ouderdom van 91 jaar.

Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R290,00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.