Kookboek steel kinderharte

Marinda se kinderkombuis met Sjef Sout en Prof Pretzel deur Marinda Engelbrecht word uitgegee deur Human & Rousseau.

Hierdie kleurvolle kookboek vir kinders is tjokkenblok vol heerlike resepte en wenke. Het jy geweet dat bak en brou kinders op ’n prettige wyse kan help met skoolwerk? Nie? Skaf dan dadelik hierdie boek aan en kyk hoe oulik en leersaam Marinda Engelbrecht, ’n oudonderwyseres, kinders leer kosmaak en ook wysmaak oor wiskunde, wetenskap, lees en skryf, aardrykskunde, kuns, geskiedenis en gesondheidsleer.

Kinders se leesvaardighede word bevorder en verbeter deur resepte te lees en te bestudeer. Boonop ontwikkel kook en bak ook kinders se sosiale vaardighede en help met hulle kleinmotoriese ontwikkeling.

Die vrolike kinderkookboek van 144 bladsye is opgedeel in ’n Alles en nog wat-afdeling en ook ’n Resepte-afdeling. In die Alles en nog wat-afdeling lok opskrifte soos “Hier is ek in die kombuis! Wat nou?”, “Skoonmaak is deel van die pret”, “Kinders leer deur te kook”, “Kookterapie vir kinders” en ’n “Omskakelingstabel”. Die resepte is ingedeel onder die volgende hoofstukke: “Brekkie”, “Meel of meer”, “Saamsit” “Gesondheid uit die grond uit”, “Kosblik”, “Stroopsoet” en “Kombuislaboratorium”. Daar is ook ’n handige register agterin.

Kinders word op ’n onvergeetlike kos- en wetenskapavontuur geneem. Ek hou sommer baie van die gedig wat op bladsy 4 voorkom en mooitjies vertel waaroor die kookboek nou eintlik gaan:

Welkom in Marinda se kombuis!
Dis die beste plek in ons huis.
Hier kan jy bak en kook,
en sommer ’n sjef word ook.

Resepte van vleis tot koek,
gaan jy vind in hierdie boek.
En ek gaan jou ook proewe wys,
oor wetenskap in die kombuis.

Jou ouderdom maak nie saak.
Jy kan 4 of selfs 14 raak!
So laat hierdie boek vir jou wys,
hoe om dit te geniet in die kombuis!

Engelbrecht skryf op bladsy 6: “Kookterapie word baie onderskat. Kinders hou daarvan om speel-speel te leer. Baie kinders sukkel dalk om oor hul probleme te gesels, maar speel is ’n natuurlike medium waardeur hulle kan kommunikeer.”

Kinders ontmoet twee baie oulike karakters, naamlik Sjef Sout en Prof Pretzel. “Sjef Sout is funky en werk vinnig. Sy help ’n houtlepel “waarmee sy die wonderlikste kos kan optower” terwyl Prof Pretzel graag in sy laboratorium woel. Beide karakters het troeteldiere.

Marinda se kinderkombuis word opgedra aan haar Skepper, haar ma, Sarietha Uys, wat haar as kind geleer het dat kook is om sonder woorde te praat, en haar kleinkinders en alle kinders van Suid-Afrika. Ouers word ewe gewaarsku: Hierdie kookboek is vir kinders en nie vir grootmense nie!

Van die heerlike resepte sluit in: Eiervingertjies, Oondomelet, Marmitemuffins, Tunaviskoekies, Hoenderrepies met sous, Mielieblomme, Aartappelbootjies, Karamel-en-kaneelwiele, Sosaties, Reuse-sjokoladesplinterkoekies, Oreo-mousse en Aarbei-lollies. Van die wetenskapeksperimente wys hoe ’n eier kan bons, suikerkristalle kan vorm en hoe mens eetbare malvalekkerslym kan maak.

Die resepte is maklik, vinnig en ekonomies om te maak. Die verskeidenheid is groot genoeg dat kinders vir lank gretig sal aanbied om in die kombuis te woel en werk.

Meer oor die outeur: Marinda Engelbrecht is die aanbieder van Maklik met Marina en Laat die potte prut, twee gewilde kosprogramme op VIA, DStv-kanaal 147. Sy het meer as 40 jaar se ervaring in die kindervermaakbedryf agter die rug.

Skaf jou kopie van Marinda Engelbrecht se Marinda se kinderkombuis met Sjef Sout en Prof Pretzel hier aan. Dit is ook by toonaangewende boekhandelaars beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.