Koop een van dié boeke op Wêreldboekedag

Van ʼn skop-skiet-en-wonder-storie uit Zirk van den Berg se pen en Elizabeth Wasserman se verhaal oor mevrou Smit wat Aaronspoort op horings neem, tot ʼn groeproman deur 22 van Suid-Afrika se voorste skrywers.

Hier is ʼn paar voorstelle vir Afrikaanse boeke wat jy vir jouself, of die boekwurm in jou lewe, kan aanskaf.

Die fantastiese mevrou Smit (Penguin Random House)

Die storie begin met mevrou Smit se aankoms in Aaronspoort, ʼn fiktiewe dorp wat die skrywer Elizabeth Wasserman losweg op Montagu in die Wes-Kaap geskoei het, wat groot opskudding veroorsaak.

Nie net bring sy as gevolg van kamtige “onaanvaarbare gedrag” haar eerste nag in polisieaanhouding deur nie, maar met die intrapslag kom sy ʼn dooie liggaam op haar kombuisvloer teë.

Nóg mevrou Smit nóg die inwoners van Aaronspoort weet wat hulle tref wanneer allerlei intriges hierna ontvou. Mevrou Smit is egter vasbeslote om die moordenaar vas te trek, maak nie saak op hoeveel tone sy trap of hoeveel van die dorp se skandes uitpeul nie. Namate die sterftesyfer styg, raak sy boonop al hoe meer ongewild in dié hegte kleindorpse gemeenskap.

Die boek kos R290 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om Die fantastiese mevrou Smit by Graffiti Boeke aan te skaf.

  • Luister op Maroela Media na die volledige onderhoud met Elizabeth oor haar roman.

Geheim van die gruwelsand (NB-Uitgewers)

Moordenaars. Afpersers. Nazi’s in die Namib. Dít is by verre nie die ergste waarmee die diamantsmokkelaar Barra Nel te kampe het nie. Veral as die Nazi-navorsers se eksperimente skeefloop en liederlike gedrogte in die woestyn ontketen. Daar is gevaar net waar jy kyk. En hoe gaan hy vir Hedda, die Duitse wetenskaplike wat smeulende gevoelens in hom ontlok, red?

Geheim van die gruwelsand is die jongste boek uit Zirk van den Berg se pen, en is ʼn barre konkoksie van lekkerlees-genres: ʼn skop-skiet-en-wonder-storie.S

Die boek kos R320 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om Geheim van die gruwelsand by Graffiti Boeke aan te skaf.

Hierdie land: Daar is iets aan Suid-Afrika – 56 skrywers vertel (Protea Boeke)

Wat is vir jou uniek en kosbaar aan Suid-Afrika? Wat laat jou verlang? Wat laat jou lag? Wat maak jou trots? Is dit ʼn spesifieke landskap, landmerk, kos, dier, plant, liedjie of tradisie? Vir elkeen is dit iets anders.

In hierdie bundel beskryf verskeie skrywers, kunstenaars en ander bekendes wat vir hulle besonders aan Suid-Afrika is. Mense van verskillende ouderdomme en agtergronde vertel wat belangrik en spesiaal aan Suid-Afrika is. Dit sluit in nostalgiese herinneringe uit die verlede, reisbeskrywings, ʼn komiese bespreking van die ikoniese Suid-Afrikaanse melktert, ʼn essay oor die merkwaardige fossielvondste van die land, en nog vele meer.

Die bundel kos R295 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om Hierdie land by Graffiti Boeke aan te skaf.

Op pad na Grysberg (Naledi)

Op pad na Grysberg vertel die storie van M, ʼn vrou wie se menswees deur die ongenaakbare elemente van ʼn post-apokaliptiese wêreld afgetakel word. Sy rou ook, want haar seun het weggeloop om hom naby Grysberg, die mistieke baken wat bo die landskap uittroon, te gaan vestig. Een aand besluit sy om hom daar te gaan soek. Die tog soontoe is gevaarlik: die chaotiese stofstrate van Henza, die gevreesde ravyn en die Vloek van Kirikuk wag op haar. Sal sy die moed hê om die reis te voltooi? En sal sy haar seun weer sien?

Die boek is ʼn unieke fantasie-groeproman deur 22 van Suid-Afrika se voorste skrywers. Temas van identiteit, verbondenheid en die aard van komplekse, gedeelde menslikheid word hierin ondersoek.

Op pad na Grysberg kos R240 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek by Graffiti Boeke aan te skaf.

Sagie se storie (NB-Uitgewers)

Die storie van Sagie, seun van die Klein-Karoo, wat oor soveel jare heen in soveel harte gekruip het, word eindelik hier in een boek klaar vertel. Van begin tot einde. Is Sagie het die eerste keer in 1987 verskyn, Is weer Sagie in 2013, en nou, tien jaar later, verskyn die slot in dié besonderse trilogie: Sagie is.

Dié boek deur Jan van Tonder kos R310 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om Sagie se storie by Graffiti Boeke aan te skaf.

Weskus-omnibus 1 (NB-Uitgewers)

In Helena Hugo se boek, Weskus-omnibus 1I, wag twee heerlike Weskus-romans op lesers: Haar naam is Ragel en Marta.

Haar naam is Ragel vertel die verhaal van ʼn jong ma wat haar seuntjie se dood moet leer verwerk. Sy ontmoet ʼn ma wat net soos sy nie kan ophou treur nie. Saam leer die twee vroue geleidelik wat die sin van lyding is en hoe God in Jesus kan troos.

In Marta vra die 17-jarige Marta se pa, terwyl hy besig is om in haar arms te sterf, of sy na haar ma sal omsien. Haar geloof verval in roetinewerk, en sy neem haar kort-kort voor om haar lewe beter in te rig, maar dit gebeur nie.

Weskus-omnibus 1 kos R290 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek by Graffiti Boeke aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.