Koop-’n-Afrikaanse-boekdag: Hier kan jy afslag kry

Argieffoto (Foto: StockSnap, Pixabay)

Die meeste ouers wil die beste vir hul kinders hê. Daar word gedroom dat hulle eendag ruimtevaarders, wetenskaplikes, ouditeure of dokters sal word. En net dalk, kan hulle met hul miljoene rande vir ma en pa dankie sê en ’n aftreehuisie langs die kus koop.

Maar die kanse is skraal om elke oggend met die gemaal van branders en rasende seemeeue wakker te word as jy nie jou sterretjie leer om behoorlik te lees nie.

’n Ouer speel ’n kardinale rol in ’n kind se leeswêreld en die beste manier om ’n liefde vir lees by ’n kind te kweek is om vir jou kind voor te lees.

Op 14 Augustus vier ons weer Koop-’n-Afrikaanse-boekdag, ’n inisiatief van die Vriende van Afrikaans (VVA), deel van die ATKV. Lesers kan dan by verskeie boekwinkels afslag op Afrikaanse boeke kry, wat vir jou as ouer die ideale geleentheid bied om solank jou kind aan die lees te kry (en in daai strandhuisie van jou te belê). Vanjaar se tema is “Lees jou kind slim”.

Volgens Amanda de Stadler van die VVA, het navorsing bewys dat die gemiddelde kontaktyd wat ouers in Suid-Afrika met hulle kinders het, net 11 minute per dag is. “Die Nederlanders het bereken dat as jy elke dag net tien minute vir jou kind voorlees, hy of sy 1 000 nuwe woorde per jaar aanleer. En dit kos niks nie, net tyd, kontaktyd met jou kind,” sê sy.

Die bekroonde kinderboekskrywer Jaco Jacobs stem met Amanda saam. “Baie mense fokus op akademiese prestasie en die verskil wat ’n liefde vir lees aan jou kind se skoolprestasie maak – wat natuurlik 100% in die kol is.”

Maar hy sê vir hom as skrywer en ouer dra lees soveel meer tot ’n kind se ontwikkeling by. “’n Kind wat lees, is ’n kind wat vroeg-vroeg leer om ander mense se emosies te verstaan en in ag te neem. ’n Kind wat lees se wêreld is eindeloos groter as sy huis, sy skool, die stad of dorp waar hy grootword. ’n Kind wat lees, is ’n kind wie se binnewêreld bladsy vir bladsy groter gemaak word; wie se verbeelding geprikkel word om in ander se skoene te staan; wat leer om gróót en wíld en wónderlik te droom,” sê hy.

Maar hoe kry jy ’n kind om daai gewraakte iPad uit te los of om die televisie af te sit en ’n boek te lees sonder dat daar in protes geskop en geskree word?

“Ouers moet eerstens self lees,” sê die bekende jeugskrywer Fanie Viljoen. “Die kinders sal moontlik hulle voorbeeld volg. Ouers moet kinders ook toelaat om self hulle boeke te kies.

Jaco sê jy moet jou kinders as’t ware met boeke grootmaak en vir hulle van geboorte af voorlees. “Lees vir hulle, soveel as jy kan. Maak dit lekker en prettig; help hulle om die wonder van stories te ontdek. Sorg dat daar boeke in jou huis is, soveel as wat jy kan bekostig, of probeer gereeld vir jou kinders boeke uitneem. Gee vir hulle boeke present, as jy enigsins kan.”

Amanda stem saam. “Kinders leer van die ouderdom nul tot en met ses jaar meer as wat hulle ooit weer in hul lewe sal leer,” sê sy. “Jy hoef dus nie te wag dat hulle ouer word om self te lees nie.”

***

Die volgende boekwinkels gee afslag op Koop-’n-Afrikaanse-boekdag:

– Alle takke van Cum Books: 15%
– PNA-takke in Strand Square, Somerset Mall, Somerset Square, Eikestad Mall, The Sanctuary, Whale Coast & Gordon’s Bay Mall: 25%
– Die PNA-tak in Bela-Bela gee op 12 Augustus 10%-afslag.
– Protea-boekwinkels: Stellenbosch, Potchefstroom, Protea Vall, Protea Bloemfontein, Protea CUT, Protea Charlton, Protea Hatfield, Protea Aanlyn, Protea Parow, Protea Kaapstad, Protea TUT, Kerkstraat, Protea TUT Pretoria-Wes, Protea UCT, Protea UJ, Protea Soweto: 20%
– Exclusive Books in Bloemfontein en in die Kolonade-winkelsentrum (Pretoria): 20%
– Aneljo-boekwinkel in Mariental, Namibiё: 20%
– De Bijenkorf-geskenkwinkel in Kilnerpark, Pretoria: 20%
– Bargain Books: 10% op 14 Augustus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

E.K. die eerste ·

Ek koop kersgeskenke vir hele klomp mindergegoede kinders en het alreeds boeke gekoop vir party en sal more weereens Bargain Books invaar; hierdie is ‘n bonus man! Jammer dis net vir een dag geldig! Ek hoop mense koop sommer baie Afrikaanse boeke!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.