Kortlyste vir kykNET-Rapport-boekpryse bekendgemaak

Dan Sleigh. (Foto: Verskaf)

Die kortlyste vir vanjaar se kykNET-Rapport-boekpryse, wat ten doel het om erkenning aan Afrikaanse skrywers te gee en hulle aan te spoor om gehalte skryfwerk in hul moedertaal te lewer, is pas bekendgemaak.

Dié toekennings bestaan uit vier boekpryse en twee resensiepryse, en word jaarliks toegeken vir Afrikaanse werk wat in die vorige kalenderjaar verskyn het.

Die vier boekpryse is die kykNET-Rapportprys vir fiksie (romans), niefiksie en rolprente onderskeidelik, en die Jan Rabie-Rapportprys vir debuut- of tweede prosawerke.

Altesaam 86 inskrywings is ontvang en pryse beloop saam R1 miljoen.

Twee romanskrywers, Chris Karsten en Kirby van der Merwe, is vanjaar dubbeld benoem, terwyl die onlangs ontslape romanskrywer Dan Sleigh vir ’n niefiksiewerk benoem is.

Met sy tweede roman, Eugene, bevind Kirby van der Merwe hom bykans ’n kwarteeu n֧á die publikasie van sy debuutroman, Klapperhaar slaap nie stil nie, op die kortlys vir beide die fiksieprys en die Jan Rabie-Rapportprys.

Chris Karsten is benoem vir sowel fiksie as die boek met die meeste potensiaal vir ʼn rolprent vir sy historiese roman, Op pad na Moormansgat.

Aan die niefiksiekant kry Dan Sleigh, historikus en bekroonde romansier, postuum erkenning met ’n benoeming vir sy VOC-geskiedskrywing in Retoervloot.

“In ’n wankelende wêreld staan Afrikaanse boeke op goeie voete. Vanjaar se inskrywings het weer eens ’n leeservaring gebied wat stimuleer, uitdaag en ontroer,” sê Hettie Scholtz, die sameroeper van die pryse.

By die kykNET-Rapportprys vir fiksie getuig feitlik al die inskrywings van ’n woelige verlede en hede – ou geskiedenis, streeksgeskiedenis en die daaglikse lot van Suid-Afrikaners.

Benewens ’n vloed spannings- en speurverhale het die temas wat ondersoek is, gestrek van geskiedenis, die lewens van gemarginaliseerdes wat hulleself stelselmatig laat geld, tot oorlog en die uitwerking daarvan.

Selfs die wêreld van popmusiek, tot familiepolitiek, transgender lewens, fantasie en humor is aangepak.

Naas die titels op die kortlyste verdien Die Waterplek, Afrika deur Carina Stander, Bottelnek breek bek deur Dianne Du Toit Albertze, Ilse van Staden se Palimpses, sowel as Louis Kruger se Die verleiding van Eva de Winter volgens Scholtz spesiale vermelding.

By niefiksie het die geskiedkundige werke uitgetroon.

Al drie boeke op die kortlys handel oor die vroeë Kaapse tyd, maar tog is dit aktueel, met dié dat herkoms en identiteit steeds so ’n belangrike gespreksonderwerp in ons land is. Hier ontvang So lyk ’n vrou deur Ilse Verster, Elise Bishop se Twee lewens en Herman Lategan se Hoerkind ook spesiale vermelding.

Die dertien inskrywings vir die Jan Rabie-Rapportprys het vyf debute ingesluit, en volgens Scholtsz was die uiteenlopende aanbod van die sterkste in baie jare.

Hier was titels wat ook spesiale vermelding verdien: Hou jou oë oop deur Brian Fredericks en Carien Smith se debuutkortverhaalbundel, Bot.

Die wenners word op 23 September 2023 tydens ’n funksie by die Mount Nelson Hotel in Kaapstad bekendgemaak.

Die individuele prysgeld beloop R300 000 elk vir die kykNET-Rapportprys vir romans en niefiksie, R155 000 elk vir die kykNET-Rapport-filmprys en die Jan Rabie-Rapportprys, en R45 000 elk vir die kykNET-Rapport-resensiepryse vir fiksie en niefiksie onderskeidelik.

Die kortlyste vir die resensiepryse word egter later aangekondig.

Die keurpanele vir die kykNET-Rapport-fiksieprys was Louise Viljoen, Beer Adriaanse, Thys Human en Steward van Wyk.

Vir die kykNET-Rapport-niefiksieprys het Anne-Marie Mischke, Jeremy Vearey en Kerneels Breytenbach insae gelewer. Die kykNET-Rapport Herman Binge-filmprys is deur Wikus du Toit (M-Net), Beer Adriaanse en Kerneels Breytenbach bepaal en die Jan Rabie-Rapportprys is deur Alida Potgieter, Ryan Pedro en Andries Bezuidenhout toegeken.

Vanjaar se kortlyste is soos volg:

Fiksie (romans)

  • Op pad na Moormansgat deur Chris Karsten (Human & Rousseau)
  • Eugene deur Kirby van der Merwe (Human & Rousseau)
  • Roman deur Cas Wepener (Protea Boekhuis)

Niefiksie

  • Wieg deur Joan Kruger (Litera)
  • Retoervloot deur Dan Sleigh (Tafelberg)
  • Die Kaapse slawe 1652-1838 deur Eunice Visser (Protea Boekhuis)

Die Herman Binge-prys: film

  • As die katjiepiering blom deur Audrey Jantjies (Kwela)
  • Op pad na Moormansgat deur Chris Karsten (Human & Rousseau)
  • Om beter te kan moor deur Christelle van Rooyen Wessels (Penguin)

Jan Rabie-Rapportprys: debuut- of tweede prosawerke

  • Bottelnek breek bek deur Dianne Du Toit Albertze (Human & Rousseau)
  • Wit leuen deur Ruan Kemp (Tafelberg)
  • Eugene deur Kirby van der Merwe (Human & Rousseau)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.