Kortlyste vir Media24-boekepryse bekend gemaak

Argieffoto (Foto: Hermann, Pixabay)

Die kortlyste vir die Media24 Boeke Literêre Pryse vir 2017 is bekend gemaak. Die pryse word vanjaar in vyf kategorieë toegeken en het ’n gesamentlike prysgeld van R175 000.

Die oorhandiging van die pryse op 22 Junie in Kaapstad val saam met die viering van 100 jaar van boekuitgewery binne die Naspersstal. Heel gepas is die prys vir Afrikaanse fiksie, wat in 1953 vir die eerste keer toegeken is, vernoem na ’n stigterslid van Naspers, W.A. Hofmeyr.

Met hierdie pryse word jaarliks erkenning gegee aan die beste boeke wat in die voorafgaande jaar deur boekuitgewerye in die Media24-groep gepubliseer is. Dié uitgewerye sluit NB-Uitgewers (met drukname soos Human & Rousseau, Tafelberg, Kwela en Queillerie) sowel as Jonathan Ball Publishers in.

Onafhanklike keurpanele het die kortlyste saamgestel uit altesaam 80 titels wat voorgelê is. Die kortlyste, in alfabetiese volgorde volgens skrywer, is soos volg:

W.A. Hofmeyr-prys vir Afrikaanse fiksie (roman, kortverhale of drama)
Huilboek deur Ryk Hattingh (Human & Rousseau)
Op ’n dag, ’n hond deur John Miles (Human & Rousseau)
1795 deur Dan Sleigh (Tafelberg)

Recht Malan-prys vir Afrikaanse en Engelse niefiksie
The Relatively Public Life of Jules Browde deur Daniel Browde (Jonathan Ball Publishers)
Under Nelson Mandela Boulevard deur Sean Christie (Jonathan Ball Publishers)
Continental Shift deur Kevin Bloom en Richard Poplak (Jonathan Ball Publishers)

Elisabeth Eybers-prys vir Afrikaanse en Engelse poësie
’n Hunkering se grein deur Johann de Lange (Human & Rousseau)
Hammie deur Ronelda S. Kamfer (Kwela)
Fotostaatmasjien deur Bibi Slippers (Tafelberg)

M.E.R.-prys vir Afrikaanse en Engelse jeugromans
Elevation 1: The Thousand Steps deur Helen Brain (Human & Rousseau)
Snitch deur Edyth Bulbring (Tafelberg)
There Should Have Been Five deur M.J. Honikman (Tafelberg)

M.E.R.-prys vir geïllustreerde kinderboeke in Afrikaans en Engels
Timbertwig’s New Adventures deur Peet Ellison (Human & Rousseau)
Ink deur Ingrid Mennen en geïllustreer deur Irene Berg (Tafelberg)
Storiemuis Boek 6 deur Leon Rousseau en geīllustreer deur Karen Ahlschläger, Johann Strauss en Marjorie van Heerden (Human & Rousseau)

Die Herman Charles Bosman-prys vir Engelse fiksie word nie vanjaar toegeken nie en staan oor tot volgende jaar.

Die wenner in elke kategorie ontvang R35 000. By die M.E.R.-prys vir geïllustreerde kinderboeke word die prysgeld verdeel tussen die skrywer en illustreerder(s).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.