#kouekoffie: Die vreugdes en uitdagings van moederskap en vrouwees

#kouekoffie deur Carla Lang word deur Protea Boekhuis uitgegee.

Niks kan ’n voornemende moeder voorberei op die chaos wat met moederskap kom nie. Om skielik ’n skreeuende bondeltjie mens te hê wat volkome van jou afhanklik is vir oorlewing kan nogal ’n oorweldigende nederigmakende ervaring wees. Dan praat ons nie eens van ’n huis vol kinders wat elkeen hulle eie wil, persoonlikheid en behoeftes het nie. Die teks op #kouekoffie se agterblad lui nie om dowe neute só nie: “As slaap en alleen piepie vir die voëls is, jy weke laas beenhare kon skeer, jy sukkel om in jou broeke te pas en push-up bra’s moet dra – o ja, en jy gewoond is aan koue koffie – dan is hierdie rubriekbundel vir jou!”

#kouekoffie word beskryf as ’n humoristiese blik op die vreugdes en uitdagings van moederskap en vrouwees. En al gaan dinge soms hóé woes en gebeur alles op ’n drafstap, is opgee natuurlik nie ’n opsie nie. Dis ’n kwessie van “staan op, trek jou poniestert reg en probeer weer”.

Lang, ’n toegelate prokureur en vryskutredakteur, se skrywes bied ’n blik op mawees, maar eintlik sal enige vrou daarby aanklank vind, want volgens die uitgewersbrief wys sy “hoe daar van vroue verwag word om werk, familie en huis te behartig – en dan moet hulle nog goed lyk terwyl hulle dit doen!” Selfs mans sal hierdie bundel rubrieke interessant vind, want Lang skryf nie net oor kinders nie, maar ook oor troeteldiere en familielewe.

Van die rubrieke in #kouekoffie het oorspronlik op Netwerk24 verskyn. Lang se gelyknamige blog, #kouekoffie, het reeds duisende volgelinge. Haar skrywes is gewild omdat dit universeel is aan dít wat ma’s deurmaak. Dit laat vroue voel hulle is nie alleen nie, en dat daar ander is wat dieselfde deurmaak as hulle. Dit gee aan hulle moed om te weet dat ander ma’s dieselfde uitdagende omstandighede wel kon baasraak. Die toon is lewendig en tong-in-die-kies humoristies maar ook simpatiek. Nooit veroordelend nie. Sy beskryf die alledaagse en sieldodende sleurtakies en ook die alles-wat-verkeerd-kán-gaan-sál-verkeerd-gaan-dae op ’n eg menslike en boeiende wyse. Dis asof die leser wil uitroep: “Ek was/is óók in dáárdie situasie!” en “Ek weet  presiés waarvan jy praat!” en “Dankie tog, dit gebeur nie net met mý nie!”

Uittreksel:

Meteens hoor ek Boeta gil.
“Wat is dit?” roep ek.
“Ek word nat!” huil hy toe ek by hom kom.
“Wat bedoel jy?”
“Die water maak my nat!”
“Dit sal mos. Dis water.”
“Neeeeeee! Verstaan Mamma dan nie? Ek wíl met water speel, maar nie met nat water nie!”
“Jy gáán mos nat word in water. Water ís nat.”
Boeta val dramaties op sy maag neer en huil krokodiltrane.
En dis hoekom mens nie “droë water” kry nie.
Pop benut natuurlik die geleentheid en klim vinnig op Boeta se rug, reg om perdjie te ry, sy hare die leisels – wat Boete net nog meer ontstel.
Koffie, dink ek. Nog koffie is wat ek nou nodig het.

#kouekoffie beslaan 192 bladsye. Die rubrieke word vergesel met “Wat sê KouekoffieMa’s?” wat insette van ander mammas deel. Lang stel byvoorbeeld die vraag: “Watse werk wil jou kind eendag doen?” Ene Tilene Kriel antwoord: “My dogtertjie, 5, wil maar net ’n mamma word (my hart swel van trots, want ek’s mos tuisbly-mamma), maar sy volg dit op met ’n ‘alle ander werke sal te moeilik wees’” …

Skaf jou kopie van Carla Lang se #kouekoffie hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.