Krabbel tydens stiltetyd

ʼn Doodle-dagboek vir kinders

Ek is baie in my skik met hierdie kosbare publikasie wat spesiaal vir laerskoolkinders ontwerp is en in Afrikaans vertaal is deur Hester Fourie. Die boek bestaan uit maklike oordenkings uit God se Woord met genoeg plek vir die jongspan om hulle gedagtes en gevoelens kreatief uit te druk. Met 30 gesprekke uit die Ou Testament en 30 uit die Nuwe Testament het die kind ’n unieke geleentheid om te groei in ’n persoonlike verhouding met God. Daar is oorgenoeg raad oor hoe om die leringe van die Bybel prakties toe te pas.

Die groot bederf is natuurlik dat die kind sy inkleurpenne en potlode kan gebruik om die wye verskeidenheid prettige aktiwiteite (inkleur, teken, stippellyne volg, ens.) te voltooi. Ek voorsien dat ’n kind sal uitsien daarna om aan die einde van ’n lang dag sommer net rustig te verkeer en heerlik te krabbel tydens stiltetyd. Dis ook ’n spesiale bêreboek om eendag weer na terug te kyk.

’n Doodle-dagboek vir meisies

Die besielende dagstukkies in hierdie dagboek vir tienermeisies is opgedeel in 12 baie interessante temas wat elk vyf verwante oordenkings bevat. Die boek is spesiaal vir meisies wat daarvan hou om te krabbel met “woordjies en prentjies in prettige kleure en verbeeldingryke letters”.

Die skrywer, Nancy Taylor, skryf: “Jy moet verstaan, ek bly saam met drie tienermeisies, ’n amper-tienerseun en ’n meisiekind wat kort voor lank ’n tiener gaan wees. Hulle het almal dié boek gelees en gesê dit werk.” Sy reken ook: “Hoe meer jy oor God ontdek, hoe beter sal jy jouself verstaan en hoe meer tevrede sal jy wees met wie jy is.”

Die boek is bedoel om jong meisies te help nadink oor wat God sê oor dinge soos verlossing, selfbeeld, hulle gesinne, aanbidding en kêrels. Dit sal meisies help om te groei in hulle verhouding met God. Die oordenkings sluit onder meer onderwerpe in soos: Wie is ek?, Familie maak saak, Vriende en vyande, Ware liefde, Ware skoonheid en Keuses, keuses. In die dagstukkie getiteld “Kalwerliefde en smoorverlief”, skryf Taylor: “Wanneer ons verlief is op iemand, is dit maklik om in vervoering te raak. Vat dit dus kalm, geniet die romanse, maar moenie dinge te vinnig druk nie.” Sy gee praktiese raad sonder om prekerig voor te kom.

Hierdie spesiale oordenkingsdagboek, wat in Afrikaans vertaal is deur Alida Buckle, beloof om meisies te help om op ’n kreatiewe manier hulle gevoelens en gedagtes uit te druk. Hulle kan na hartelus krabbel en die boek mooi maak op enige manier wat vir hulle werk. Dit sorg vir ’n welkome asemskep oomblik aan die einde of aan die begin van ’n lang dag.

Meer oor die skrywer: Nancy Taylor is ’n vryskutskrywer wat aan Wheaton College, Illinois, gegradueer het met ’n graad in Engels en Christelike opvoeding.

’n Doodle-dagboek vir kinders kan hier bestel word en ’n Doodle-dagboek vir meisies hier. Die dagboeke word uitgegee deur Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM). Skrifverwysings is uit die Bybel Nuwe Lewende Vertaling © 2006, 2011 CUM, tensy anders vermeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.