Kronkelpad

Irma Joubert

Kronkelpad is die derde boek in die trilogie waarvan Anderkant Pontenilo en Pérsomi die eerste twee is. Die verhaal speel af in die jare 1938–1960, met die slot in 1986.

Lettie Louw (Klara se slim vriendin uit Pontenilo en die dokter wat in Pérsomi in die hofsaak getuig) en Marco Romanelli (Antonio se aantreklike broer wat in Italië in ’n Joodse kamp beland het in Pontenilo) is in hierdie boek die hoofkarakters. Lettie se vriendinne raak almal verlief op aantreklike mans en trou die een na die ander – niemand sien vir Lettie raak nie. Maar sy besluit nietemin om die beste dokter vir haar mense te word. Sy gaan in 1947 terug na die Bosveld-dorpie en neem haar pa se praktyk oor.

Nadat hy die konsentrasiekamp oorleef het, is Marco ’n baie siek, verswakte man wanneer hy teen die einde van 1945 na sy ouerhuis in Noord-Italië terugkeer. Antonio, wat na Suid-Afrika terugkeer om met Klara Fourie te trou, oorreed hom egter om na Suid-Afrika se warm, droë Bosveld te verhuis. So beland Marco in 1948 op dieselfde Bosvelddorpie as Lettie, wat sy dokter word.

Die liefde blom tussen hulle, maar dan breek die polio-epidemie van die jare vyftig uit – met tragiese gevolge.
Die trilogie word op boeiende wyse afgesluit dáár waar dit begin het – in die Italiaanse dorpie hoog bo in die Alpe.

Oor die outeur
Irma Joubert was vir 35 jaar geskiedenisonderwyser voordat sy in 2004 afgetree het. Sy doen intensief navorsing vir al haar boeke en skryf verhale waarin menseverhoudinge en geskiedenis die fokus is. Haar verhale is vol deernis en empatie, met ’n sterk skoot liefdesintrige altyd teenwoordig. Irma en haar man, Jan, woon in Bloemfontein. Sy is veral bekend vir romans soos Tussen stasies (waarvoor sy gekortlys is vir die ATKV Prosaprys), Anderkant Pontenilo (waarvoor sy die ATKV Liefdesromanprys ontvang het) en Pérsomi.

Uitgewer: Tafelberg
Prys: R195,00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.