Kuifie-avonture: ‘Die stukkende oor’, ‘Die swart eiland’

Hergé

Hergé se Die avonture van Kuifie – Die stukkende oor en Die avonture van Kuifie – Die swart eiland het pas by Protea Boeke verskyn.

In Die stukkende oor word ʼn fetisj, gemaak deur die Arumbaya-stam, uit die etnografiemuseum in Brussel gesteel om net die volgende dag weer teruggesit te word. Maar Kuifie besef dit is ʼn vervalsing, en die spoor na die oorspronklike fetisj neem hom tot in Suid-Amerika.

In Die swart eiland wil Kuifie help toe hy ʼn vliegtuigie ʼn noodlanding sien doen op die Belgiese platteland, maar die vlieënier skiet op hom. Hy kom te wete dat die vliegtuig daarna in Engeland neergestort het en gaan stel ondersoek in. Sy ondersoek neem hom na ʼn eiland in Skotland waar daar baie vreemde dinge aan die gang is.

Die avonture van Kuifie (Frans: Les Aventures de Tintin et Milou) is een van die gewildste strokiesverhale wat in die 20ste eeu verskyn het en is vandag steeds gewild. Die boeke word in ongeveer 60 tale vertaal. Die hoofkarakter van die verhale is die jong Belgiese verslaggewer Kuifie. Saam met sy hond, Spokie, beleef hy verskeie avonture.

Die eerste verhaal van Kuifie het op 10 Januarie 1929 verskyn as ʼn bylae tot die Franstalige Brusselse koerant Le Vingtième Siècle. Hergé het in die tydperk tussen 1929 en 1976 sowat 23 strokiesverhale (die 24ste verhaal bly onvoltooid) geskryf en geteken.

Oor die skrywer

Die Belgiese skrywer en illustreerder Georges Prosper Remi oftewel Hergé (1907-1983) staan bekend as die vader van die hedendaagse strokiesprent. Vir sy latere werke het hy uitgebreide navorsing gedoen om die verhale so outentiek moontlik te maak.

Oor die vertaler

Sonya van Schalkwyk-Barrois woon in Parys, Frankryk. Sy het op Stellenbosch studeer en het ʼn meestersgraad in Frans. Sy is onder meer ook die vertaler van die Asterix-boeke.

Prys: R130,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boeke by Protea Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Anel

As kind was dit my gunsteling strokies. Maar ek het dit as Tintin et Milou geken. Die animasies was ook op TV en daar is ook ‘n paar flieks gemaak wat ons op TV gekyk het. Dit was toe ons in Frankryk was.