Kultuur: ’n Westerse suksesresep

flip-buys-2017-11-02-featured

Flip Buys is die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: René Roux.

“Kultuur is nie net braaivleis, rugby en lekker musiek nie.”

Só skryf Flip Buys in die 25ste hoofstuk van sy boek, Die pad na selfbestuur, waar hy die waarde van kultuur ondersoek. Buys beskryf kultuur as ʼn konsep wat hardeware én sagteware bevat. Die hardeware van die Westerse kultuur sluit volgens hom onder meer wetenskap, tegnologie en die markekonomie in, terwyl die sagteware begrippe soos verantwoordelikheid en werksetiek insluit.

Buys skryf: “Die Afrikaner se Westerse kultuur is opgebou uit die skat van die Christelike geloof en lewensbeskouing uit Jerusalem, ʼn denkwyse uit antieke Athene, en ʼn samelewingsorde uit Rome. Daarvandaan is dit gevorm deur die groot Westerse omwentelings, naamlik die Protestantse Hervorming van die sestiende eeu; die Renaissance van die veertiende tot die sewentiende eeu; die Verligting van die agtiende eeu; en die Nywerheidsrewolusie wat in die agtiende en negentiende eeu plaasgevind het.”

Hy stel egter onomwonde dat die Westerse kultuur nie foutloos is nie en dat Westerlinge ook daarteen moet waak om te verwag dat die hele wêreld nou Westers moet wees of gaan word. “Só ʼn verwagting is om jou eie kultuur as meerderwaardig te beskou,” argumenteer Buys.

Verder skryf Buys die spanning wat soms in Suid-Afrika ervaar word aan die konflik tussen uiteenlopende kulture toe en sê: “Wat een kultuur of ideologie as normaal en vanselfsprekend beskou, verskil dalk van die opvattings van ander kulture. Wanneer mense saam in een land woon en werk, lei dit soms tot spanning.”

Luister hier boaan die berig na Martin Jansen se voorlesing van hierdie hoofstuk.

  • Die boek kan ook op Kraal Uitgewers se webwerf bestel word. Maroela Media-lesers kry spesiale korting op Die pad na selfbestuur. Gebruik die woord selfbestuur as koeponkode om R100 afslag te kry wanneer jy hierdie besonderse boek aanlyn bestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Bertie ·

Die Afrikaner se Westerse kultuur en Afrika-kultuur verskil soos dag en nag van mekaar. Dis die grootste oorsaak van misverstand, konflik en spanning in SA. Ongelukkig beleef die Westerse kultuur (‘n minderheid) ‘n ongekende aanval van die Afrika-kultuur (die meerderheid). Ons sal moet sterk staan en saamstaan!

Heinrich ·

Groot waarheid wat jy nou praat Bertie! Kyk maar na die aanvuurders van ‘white guilt’, die Afrika kultuur van ‘entitlement’, by ons universiteite waar daar nie skouer aan die wiel gsit word om uit te brei nie maar eerder net oor te neem wat nie self opgebou is nie, die lys is hoe lank!

Vrijburger ·

Die aanval op Westerse kultuur is ongelukkig nie net tot Suid-Afrika beperk nie.

Harley Davidson ·

Daarom moet die weskaap ‘n onafhanklike soewerein staat word sodat almal hulle kultuur kan uitleef en hulle geskiedenis kan bewaar.

annie ·

Mens kan om die dood nie verstaan hoekom Afrikaners so erg ly aan die dorslandtreksindroom nie. Kwaad, pak op en weg uit die Kaap. Los opgeboude plase net so. Skade, ellende en dood volg, maar trek sal ons. Skaars dak opgesit toe is ‘n klomp weer kwaad en die dorslandtrek begin en eindig. Punt. Nou wil ons terug na nog meer van dieselfde. Hoop die Terugtrekkers hierdie keer gaan almal daar Afrikaners bewonder en Afrikaanse Christene word? Droom oom droom… maar weer oppak?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.