Kweek blink toekoms by kinders met voorlees

baba-lees-pappa

Argieffoto (Foto: Picsea/Unsplash)

Om hardop vir kinders te lees stimuleer hulle verbeelding en nuuskierigheid, ontwikkel hulle taalvermoë en brei hulle kennis uit.

Wêreld-hardopleesdag word vandag (2 Februarie) gevier en die doel van hierdie geleentheid is om opnuut die belangrikheid van lees – of dit nou ouers is wat vir hulle eie kinders lees, of onderwysers wat vir ʼn groep in die klas voorlees – te benadruk.

Die organisasie Nal’ibali (Nal’ibali in isiXhosa vir “hier’s die storie”) deel ter ondersteuning van Wêreld-hardopleesdag wenke om hierdie taak te vergemaklik.

  1. Kies boeke wat jy sal geniet om te lees, maar wat ook by jou kind se veranderende belangstellings pas.
  2. Voorlesing is altyd ʼn opvoering. Gebruik jou stem en lees met uitdrukking van emosie sodat dit die gevoel van die storie weerspieël.
  3. As jy nie gewoond daaraan is om hardop te lees nie, oefen eers deur dit ʼn paar keer op jou eie te lees voordat jy dit hardop vir ʼn groep lees.
  4. Wees bewus van jou luisteraars en moenie te vinnig lees nie. Laat hulle tyd toe om noukeurig na die illustrasies te kyk of om die verhaal te visualiseer terwyl jy lees.
  5. Boeke met rym, ritme en herhaling is goeie voorleesboeke vir jong kinders en om ʼn nuwe taal bekend te stel. Soos hulle die storie leer ken, moedig kinders aan om deel te neem terwyl jy lees. Prenteboeke is nuttig wanneer jy vir kinders van verskillende ouderdomme lees, soos al die kinders in jou gesin of by ʼn leesklub. Selfs tieners geniet prenteboeke.
  6. Kinders het dalk tyd nodig om rustig te raak voordat jy begin lees. Jong kinders reageer goed om ʼn liedjie te sing, ʼn rympie te sê of om te raai waaroor die storie gaan deur na die voorblad en titel te kyk. Vra ouer kinders om te onthou wat aan die einde van jou laaste voorleessessie in die roman gebeur het.
  7. Begin deur die naam van die skrywer (en illustreerder) te lees sodat kinders besef dat boeke deur mense net soos hulle geskep word.
  8. Betrek jou kinders by die storie deur te vra wat hulle dink volgende kan gebeur, bespreek een van die prente of vra hulle om vir jou om te blaai.
  9. Wanneer jy ʼn prenteboek lees, maak seker dat al die kinders ʼn kans kry om die prente te sien. Laat ook ruimte vir vrae en opmerkings.
  10. As jy ʼn roman hardop lees, lees elke dag ʼn hoofstuk of deel van ʼn hoofstuk. Identifiseer ʼn plek in die storie om te stop wat jou luisteraars gretig sal maak vir jou om môre voort te gaan.

Nal’ibali daag lesers uit om aan hulle leesuitdaging om vanjaar op Wêreld-hardopleesdag hardop vir 3 miljoen kinders te lees, deel te neem. Besoek Nal’ibali se webwerf om meer hieroor te wete te kom.

NB-Uitgewers het ook ter viering van Wêreld-hardopleesdag ʼn gratis leespakket beskikbaar gestel om hardop aan jong boekwurms te lees. Die pakket kan maklik uitgedruk word en bevat stories van dié uitgewer se gunstelingkinderboeke, soos Wie skrik vir Wortel Wolf? deur Leon-Ben Lamprecht, Die stoutste klas op aarde deur Joanna Nadin en Donkerbloed, ʼn jeugroman deur Elrien Scheepers. Klik hier om die pakket af te laai.

Bronne: Nal’ibali, NB-Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Tino

Fantastiese artikel, ek druk nou die storie