kykNET-Rapport-boekpryse se 2022-kortlyste is hier

Lien Botha in haar ateljee op Bettysbaai. (Foto: Verskaf)

Die vier kortlyste vir die kykNET-Rapport-boekpryse, wat toegeken word vir werk wat in 2021 verskyn het, is pas bekend gemaak en twee van die kategorieë word deur vroueskrywers oorheers.

Onder dié skrywers is die bekroonde digter Ronelda Kamfer wie se debuutroman Kompoun vir beide die kykNET-Rapportprys vir romans en die Jan Rabie-Rapportprys vir eerste of tweede prosawerke benoem is.

Lien Botha, wat in 2016 die Jan Rabie-Rapportprys vir Wonderboom ontvang het, pryk ook vanjaar op die kortlys van die kykNET-Rapportprys vir fiksie met haar tweede roman, Vin, terwyl Gerda Taljaard, wenner van die rolprentprys in 2018 vir Die laksman se dogter, in die fiksiekategorie benoem is vir haar vierde roman, Vier susters.

Die prysgeld is ook verhoog en beloop nou altesaam R1 miljoen en het ten doel om as erkenning, onderskraging en aansporing te dien vir Afrikaanse skrywers en resensente om steeds skryfwerk van gehalte in hul moedertaal te lewer.

Pryse word soos volg toegeken: R300 000 elk vir die kykNET-Rapportprys vir fiksie (romans) en niefiksie onderskeidelik, R155 000 vir die kykNET-Rapport-rolprentprys, R155 000 vir die Jan Rabie-Rapportprys, en R30 000 elk vir drie resensiepryse.

Altesaam 66 inskrywings is ontvang vir die drie kykNET-Rapport-boekpryse vir romans, niefiksie en beste verfilmbare werk, en 18 vir die Jan Rabie-Rapportprys vir debuut- of tweede prosawerke.

Volgens Hettie Scholtz, sameroeper van dié pryse, is die inskrywings bewys dat daar nog baie petrol in Afrikaanse skrywers se tenks is.

“Goeie vordering met transformasie in die taal- en kulturele ruimte val op met die voorlegging van nege boeke deur bruin skrywers vir die kykNET-Rapportpryse. Dis ook verblydend dat daar elke jaar meer uitgewershuise is wat boeke voorlê,” sê Scholtz.

beer adriaanse

Die akteur en draaiboekskrywer, Beer Adriaanse, was een van die keurders vir vanjaar se kykNET-Rapportprys vir fiksie. (Foto: Verskaf)

Die bekende uitgewer Nicol Stassen bevind hom ook op die kortlys vir niefiksie, terwyl ’n debuutskrywer, Marco Botha, benoem is vir die beste verfilmbare werk.

Volgens Scholtz speel die verlede, so ook die tapisserie van disfunksie van die hede, steeds ’n beduidende rol by heelwat kragtige narratiewe onder die inskrywings vir die fiksieprys.

By niefiksie is die aanbod volgens haar grootliks ’n blik na binne, die persoonlike, of sake rakende die Afrikaner, met ’n opvallende leemte aan aktuele, besinnende boeke oor Suid-Afrikaanse en internasionale problematiek van die dag.

Die keurders vir vanjaar se kykNET-Rapportprys vir fiksie was Sonja Loots, skrywer en dosent aan die Universiteit van Kaapstad; die boekeredakteur Elna van der Merwe; die skrywer, akteur en draaiboekskrywer Beer Adriaanse; en die skrywer en vertaler Kirby van der Merwe.

By niefiksie was die keurders die gesoute joernalis Annemarie Mischke; die regsgeleerde en boekjoernalis Jean Meiring; Bill Nasson (US); en die ouduitgewer en skrywer Kerneels Breytenbach. Die rolprentkeurders was , Kerneels Breytenbach en Suzaan Keyter van M-Net.

Die keurders vir die Jan Rabie-Rapportprys was Anastasia de Vries, oudjoernalis en dosent aan UWK; Bibi Slippers, boekjoernalis en digter; en die skrywer en joernalis Charl-Pierre Naudé.

Die kortlyste vir vanjaar se boekpryse is, in alfabetiese volgorde volgens skrywer:

KYKNET-RAPPORTPRYS: FIKSIE (ROMANS)

  • Vin deur Lien Botha (Queillerie)
  • Kompoun deur Ronelda Kamfer (Kwela)
  • Vier susters deur Gerda Taljaard (Penguin)

KYKNET-RAPPORTPRYS: NIEFIKSIE

  • Als is nie net swart en wit nie deur Malvory Adams (Naledi)
  • Fortuine deur Ebbe Dommisse (Jonathan Ball)
  • Van Humpata tot Upingtonia deur Nicol Stassen (Protea Boekhuis)

KYKNET-RAPPORTPRYS: FILM

  • Roet deur Hannes Barnard (Lapa)
  • Die storie van Gert Saggiestrap deur Marco Botha (Flyleaf)
  • Die getuienis deur Francois Smith (Tafelberg)

JAN RABIE-RAPPORTPRYS VIR DEBUUT- OF TWEEDE PROSAWERKE (ROMANS, NOVELLES EN KORTVERHALE)

  • Vel deur Emma Bekker (Protea Boekhuis)
  • Die teenoorgestelde is net so waar deur Azille Coetzee (Human & Rousseau)
  • Kompoun deur Ronelda Kamfer (Kwela)

Die wenners word op Saterdag 24 September 2022 in Kaapstad aangekondig, terwyl die kortlyste vir die drie kykNET-Rapport-resensiepryse apart aangekondig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.