Laingsburg-vloed: 40 jaar later

Op 25 Januarie 1981 het ‘n blitsvloed die dorp van Laingsburg verwoes. (Foto: Fotograaf onbekend)

Op 25 Januarie 1981, vanjaar 41 jaar gelede, het ʼn vloed verwoesting in Laingsburg, en omliggende gebiede, gesaai. Dit is een van die gebeurtenisse wat Chris Schoeman in Nêrens veilig – Twee eeue van Suid-Afrikaanse rampe gedokumenteer het.

Hier volg ʼn uittreksel uit “Die Laingsburg-vloed, 1981”.

Na die oggenddiens het die hoof van die Hoërskool Laingsburg, Carel van Wyk, en sy vrou, Frances, en hul twee kinders, Andries en Mirna, handdoeke teen die deure begin pak. (Hul huis was op die heel onderste punt van die dorp teen die rivier en was die eerste wat oorstroom het.) Mevrou Jacobs het hulle toe genooi om by die pastorie die vloed te kom afwag. Dominee Jacobs, sy seun, Daniel, en Andries van Wyk is hierna weg om by die Jan Vorster-ouetehuis te help waar die inwoners al bekommerd op die stoep begin saamdrom het. Die gebou was baie na aan die rivier geleë en hier het ʼn drama ontvou wat uiteindelik sou lei tot die dood van 15 bejaarde inwoners en 11 helpers en besoekers.

Koos Ellis, die burgemeester, en sy vrou was die eerste mense wat by die ouetehuis gaan help het. Nadat hulle suster Jacomina van der Vyver huis toe geneem het, het hulle nie weer daar hulp verleen nie, maar by Japie Stadler se huis. Suster Van der Vyver is intussen terug na die ouetehuis, waar sy ʼn inwoner was. Sy sou later een van die vyftien bejaardes wees wat verdrink het. Hier by die ouetehuis het Daniel ʼn dogtertjie oor die straat gedra en met die water wat al by sy knieë gereik het, kon hy vir die eerste keer die geweldige krag daarvan voel. Hy moes sy bene stewig plant om nie deur die water omgedop te word nie. Hy is later op versoek van sy pa, dominee Jacobs, terug na die pastorie om sy ma en die ander daar te gaan help.

Paul Ameels, bestuurder van die hotel op die dorp, en sy vrou, Brenda, het ook by die ouetehuis gaan help. Dertien bejaardes is, kort voordat die groot vloed die dorp omstreeks tweeuur die middag getref het, deur Johan du Toit van die Afdelingsraad met ‘n groot bakkie weggeneem. Dominee Jacobs en die ander helpers is saam met 15 bejaardes deur die vloedwater in die ouetehuis vasgekeer, en namate die water gestyg het, is hulle later verplig om deur die plafon en dakplate te breek.

“Die water het dwarsdeur die ouetehuis geloop soos ʼn rivier onderdeur ʼn brug,” het Brenda Ameels onthou. “Tannie Pool was in die eetkamer tussen die drywende meubelstukke vasgekeer. Sy was die enigste een wat om hulp geroep het. Daar was sowat twintig van ons op die dak. Die ou mense het voel-voel in die water weggespoel soos babatjies wat ʼn mens in ʼn bad sit. Ook oom Boy [Jacobus Olivier], wat in sy onder­lyf verlam was, het in die water weggegly. Ons kon niemand help nie. Die water was te sterk. Ek het aan dominee Jacobs se arm gevat en gesê: ‘Dominee, dit kan mos nie met ons gebeur nie.’ Hy’t gesê: ‘Kom ons bid.’ Een huis na die ander het om ons ineengestort. Ewe skielik het die gebou gekraak. Ek en my man het saam, hand-aan-hand, die water ingegaan.” Wonderbaarlik het Brenda en Paul – soos ʼn paar ander mense – uiteindelik lewend in die Floriskraaldam uitgespoel.

***

Die uittreksel is goedgunstig deur Protea Boeke. Klik hier om Nêrens veilig aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Charl

Ek was in Matriek in Citrusdal en ons skool was een van talle wat ‘n afvaardiging (hoofseun & dogter) na Laingsburg gestuur het ter ondersteuning en eerbetoon aan hulle wat in die vloed gesterf het. Sal nie vergeet nie.