Lapa kondig wenners van jeugromankompetisie aan

Fanie Viljoen (Foto: Christa Steyn/Maroela Media)

Die wenners van Lapa Uitgewers se jeugromankompetisie is op 26 Februarie tydens ʼn glansgeleentheid in Pretoria bekendgemaak.

“Ek het nogal gewonder hoekom die uitgewers my al die pad van Bloemfontein af laat kom het vir die geleentheid,” skerts Fanie Viljoen, skrywer van Offers vir die vlieë. Viljoen is as die algehele wenner aangekondig en meen dis een van die beste boeke wat hy al geskryf het.

Dié boek vertel die verhaal van Eliam en sy vriende wat op pad is na die Front om in die oorlog te veg waarvoor hulle al van kleins af opleiding ontvang.

Een van die beoordelaars skryf: “Hierdie verhaal is myns insiens een van die beste wat ek in ’n lang tyd in Afrikaans gelees het.” Volgens die paneel sal tieners in Suid-Afrika kan identifiseer met Eliam se worsteling met brutaliteit, geweld, marteling, vernedering, ook ’n verlies van die self en ’n eie identiteit.

Die name van beoordelaars vir die kompetisie is nie bekendgemaak nie.

“Ons het besluit om die paneel anoniem te hou om sodoende te verseker dat die proses deursigtig en objektief bly,” verduidelik An-Mari Fouché, uitgewer van die kinder- en jeugboekafdeling by Lapa Uitgewers.

Viljoen het voorheen die tweede plek vir Betower en Afkop verower. Hy is ook verskeie kere al met die Sanlamprys, die M.E.R.-prys en talle ATKV-Woordveertjies bekroon. Hy is bekend vir jeugverhale soos Breinbliksem, Onderwêreld, Pleisters vir die dooies en die boekverwerking van die tienerrolprent, Jou Romeo.

Maretha Maartens, skrywer van Bethel se berg, en Jan Vermeulen met Baster, is gesamentlik as naaswenners aangekondig.

Bethel se berg vertel van ʼn tienermeisie wat in die 1980’s saam met haar ma en sibbe in ’n kombi van dorp na dorp reis. Bethel se ma bak vetkoek om die gesin aan die lewe te hou, maar hulle bly nooit lank genoeg op een plek om wortel te skiet nie. Dit is historiese jeugroman en word deur die beoordelaars beskryf as “ʼn vernuwing in Afrikaanse jeugliteratuur binne die genre van memoires of herinneringsverhale.”

Maartens skryf al vir ongeveer vyf dekades en word as een van die mees geliefde Afrikaanse skrywers beskou, veral in Christelike literatuur en historiese fiksie. Tot op hede het sy meer as 130 boeke geskryf, wat onder meer Die inkvoël, ʼn Pot vol winter en Smaartie is skeel, insluit.

In Baster vertel ʼn seun van die honde waarvoor hy lief is, maar ook die hondegevegte en geweld wat sy samelewing verskeur.

Vermeulen het onderskeidelik in 2015 en 2017 die kompetisie met Asem en Oopmond gewen. Hy het al verskeie Sanlampryse verower, sowel as die M.E.R.-prys, die Scheepersprys en ’n ATKV-Kinderboektoekenning. Vermeulen is onder meer bekend vir sy volwasse fiksie en veral krimis.

Daar is vanjaar ook ’n spesiale erkenning aan ’n debuutskrywer, Tertius Janse van Rensburg, oorhandig vir sy humoristiese en deernisvolle verhaal oor drie seuns wat die Lotto wen met die hulp van een se oupa wat Alzheimers het.

Offers vir die vlieë, Bethel se berg en Baster word later vanjaar deur Lapa Uitgewers gepubliseer. Hou Maroela Media se boekeblad vir meer inligting dop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.