Leandie du Randt se kortpaadjies vir die lewe

Leandie du Randt. (Foto: Facebook/Leandie du Randt)

In haar jongste boek, My hacks vir die lewe, skryf die aktrise, aanbieder, sakevrou en motiveringspreker Leandie du Randt oor haar kortpaadjies, raad en wenke wat haar help om al die belangrike balle in die lug te hou.

In dié boek deel sy haar rituele vir haar liggaam, denke, siel en sakeonderneming na aanleiding van die vrae wat sy gedurig op sosiale media en in persoonlike gesprekke kry.

Sy sê dit bevat al haar gunstelingwenke oor hoe om dinge makliker te doen of dit beter te bestuur.

“Mense vra my dikwels uit oor hoe ek steeds goed lyk, maar ek eet omtrent elke aand uit en drink elke aand ʼn glas wyn. Ander wil weer weet hoe verwerk ek die dood van my ma en gaan aan ná ʼn egskeiding, of hoe begin mens ʼn sakeonderneming,” verduidelik Du Randt.

“Die vraag wat ek seker die meeste gevra word, is hoe juggle ek als. My antwoord is eenvoudig: Ek doen dit net en ek dank my Vader dat Hy my die vermoë gegee het om dit alles te doen.”

In dié boek skryf Du Randt ook uitgebreid oor produktiwiteit. Sy meen as jy jou produktiwiteit ʼn hupstoot wil gee, moet jy jou passies uitleef en prioritiseer.

“As jy geen passie vir iets het nie, gaan jy heeltyd moeg voel en nie gemotiveerd wees om by dinge uit te kom nie. Prioritisering help ook om volgens spertye jou dag vir jouself te beplan en dit doen ek op my foon in Notes.”

Die omslag van Leandie du Randt se nuwe boek. (Foto: Verskaf)

Sy voeg by doelgerigte en gefokusde werk is ook belangrik.

“Waar jy goed gelyk kan doen, doen dit, soos om e-posse van jou foon op te volg terwyl jy op die lughawe wag.”

Du Randt sê haar liggaamsrituele bevat ʼn groot skoot balans en kennis oor hoe jou eie liggaam werk.

“Ek skryf ook baie oor mindfulness en dankbaarheid in my boek en ja, dit is die belangrikste, want jou gedagtes bepaal jou dade. Ek wys prakties hoe ek ʼn vision board maak en wat ek elke dag doen om myself dankbaar te hou.”

Hier volg ʼn uittreksel uit My hacks vir die lewe:

“Ek glo een van die swakste redes om iets te doen is omdat iemand anders dit van jou verwag of omdat dit al vir jare so gedoen word. Dit het baie te doen met trou, kinders hê, swot en geloof. En ek dink dit is verskriklik belangrik om te besef dat elke mens uniek deur God gemaak is en jou lewe met niemand anders s’n vergelyk kan word nie. So, die grootste voorreg wat iemand jou kan gee en jy jouself kan gee, is die ruimte om te wees wie jy is en die lewe te lei wat jy wil. Want sodra jy dinge begin doen omdat jy dink dit is tradisie of jou ouma verwag dit of jou maatjies doen dit, dan neem jy besluite gebaseer op eksterne faktore. Eksterne faktore kan nie deur jou beheer word nie en gaan nie altyd daar wees nie – so wat gaan gebeur met jou besluite die dag wanneer die eksterne faktore nie meer daar is nie? Dan gaan JY met die gebakte pere en besluite en gevolge moet sit en niemand anders nie. Dit is juis hoekom ek kon leer om te trou is nie ʼn prestasie nie en om te skei is nie ʼn verleentheid nie. Ek moes leer dat die Here my nie oordeel nie – mense het my veroordeel. Ek moes leer om te besef al wat saak maak, is my HOEKOM en dat die Here dit weet en ek saam met Hom daardeur werk – dit het NIKS met enigiemand anders te doen nie.”

Leandie du Randt se nuwe boek is nou op die rakke. (Foto: Verskaf)

Du Randt wil met die boek mense inspireer en motiveer om hulle eie kortpaadjies te gaan vind.

“Jy is welkom om myne toe te pas op jou eie manier sodat jy jou eie magic kan gaan uitleef.”

Du Randt se boek is by Exclusive Books en Bargain Books beskikbaar, asook aanlyn as ʼn e-boek by Takealot. Getekende eksemplare sal by Du Randt se onderneming To Be Gift Boxes (tobegiftboxes.com) van die einde van November af verkoop word.

“Ek stel ook in Desember ʼn geskenkboks met al my favourite produkte daarin op my onderneming tobegiftboxes.com bekend. Die boks bevat onder meer ʼn getekende eksemplaar van my boek.”

Du Randt hou ʼn boekbekendstelling om 17:30 vandag (30 November) by Exclusive Books in Brooklyn Mall, Nieuw Muckleneuk, Pretoria. Sy sal met Phyllis Green gesels oor haar nuwe boek. Stuur ʼn e-pos aan events@exclusivebooks.co.za om jou sitplek te bespreek of meer inligting oor die bekendstelling te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.