Leer jou kind om vir boeke te sorg

Argieffoto (Foto: Jonathan Borba/Unsplash)

Boeke is duur, so dit is te verstane dat ons wil hê kinders moet dit met sorg hanteer.

Die organisasie Nalibali (Nal’ibali in Xhosa vir “hier’s die storie”) deel dié vyf wenke met ouers oor hoe hulle kinders help om boeke goed te versorg, sodat hulle oor en oor gelees kan word.

Kweek ʼn liefde vir stories

Om die waarde van boeke te verstaan, moet kinders leer om lief vir stories te wees. Wanneer jy tyd saam met jou kind deurbring en moeite doen om saam met hulle te lees, sal hulle gou besef dat stories hand aan hand met boeke gaan.

Stel ʼn voorbeeld

As jy boeke nie met sorg hanteer nie, kan jy nie verwag dat kinders dit sal doen nie.  Moedig kinders aan om vir boeke te sorg deur hulle te wys hoe om dit te doen. Wanneer jy byvoorbeeld vir hulle lees, draai die bladsye versigtig om en plaas die boek terug op sy plek wanneer jy dit klaar gelees het. Vra soms vir jou kind om self die boek op die boekrak terug te sit.

Koester redelike verwagtinge

Kinders moet tyd bestee om self deur boeke te blaai of te lees, want dit help hulle om te verstaan ​​hoe boeke werk. Dit is voor die hand liggend dat boeke wat baie gelees word, tekens van gebruik sal toon.

Wat ons wel by kinders moet aanmoedig, is ouderdomstoepaslike boekgedrag. Dit is byvoorbeeld heeltemal “normaal” dat babas die hoeke van boeke kou, omdat hulle geneig is om alles in hul mond te druk. ʼn Mens sal wel nie hierdie gedrag goedkeur as ʼn driejarige dit sou doen nie. Dan is dit ook redelik om te verwag dat sewejariges die bladsye van ʼn boek saggies moet omblaai, maar baie driejariges het nog nie genoeg fyn motoriese koördinasie om dit te doen nie.

Skep ʼn ruimte vir boeke

Een van die maklikste maniere om kinders te leer hoe om verantwoordelikheid vir die versorging van boeke te dra, is om spesiale ruimtes daarvoor te skep.

Boekrakke, asook versierde houers met deksels, is alles goeie plekke om boeke te bêre. By ʼn leesklub of in ʼn klaskamer wil jy dieselfde soort boeke saam bêre.

Moenie te veel reëls hê nie

Daar is niks wat kinders se verwondering oor stories en boeke meer sal demp as dosyne reëls oor wat hulle mag en nie mag doen nie. Stel ʼn paar eenvoudige reëls wat vir kinders sinvol is en wat hulle maklik kan volg. Leer hulle miskien om water en ander drinkgoed eers weg te sit voordat hulle met die boeke werk. Verduidelik dan dat boeke kan beskadig wanneer daarop gemors word.

Soos met die meeste dinge in die lewe, behels dit tyd, oefening en aanmoediging om kinders te leer hoe om vir boeke te sorg. Kinders sal dit soveel vinniger baasraak as hulle die plesier ervaar wat lees en boeke bied.

Baie kinders is egter nie so bevoorreg om die genot van stories en boeke te ervaar nie. Jy kan die kinders in jou gebied ondersteun deur Helpende Hand se webwerf te besoek en die vorm in te vul. Een tassie se waarde is R250. Met die Tiekies vir ʼn Tassie-veldtog doen Helpende Hand ʼn beroep op lede van die publiek om saam met hulle hande te vat en te verseker dat minstens 4 000 tassies landwyd uitgedeel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.