Lees-app bied samesyn aan storietyd

Argieffoto (Foto: Victoria_Borodinova/Pixabay)

Nooksy, ʼn Suid-Afrikaanse lees-app, wil vir gesinne oor landsgrense heen die geleentheid bied om deur middel van video-oproepe saam storietyd te geniet.

Met Nooksy kan twee gebruikers gelyktydig ʼn boek uit die Nooksy-biblioteek kies en dit saam lees. Die kroos kan dus saam met ouma en oupa storietyd geniet, al is daar honderde kilometer tussen hulle.

Die app bied ʼn interaktiewe leeservaring met intydse kontakskermfunksies. Stories in die Nooksy-versameling is geskik vir kinders tussen twee en 10 jaar en dit is in samewerking met kundiges in vroeë kinderontwikkeling gekies en aangepas.

Die stories het ʼn beduidende fokus op die aanleer van morele waardes en die kweek van ʼn leeskultuur, en daar is tans meer as 50 boeke in die versameling oor onderwerpe soos vriendelikheid, hoe om jouself te wees en die hantering van emosies.

Volgens Expectant Mothers Guide is die lees-app in 2018 deur Yon Kahlon ontwikkel met die doel om gesinsverhoudings deur middel van stories te versterk en herinneringe deur die saamlees-ervaring te bou en te koester.

Dit spruit uit Kahlon se eie behoefte om met familie wat ver bly te skakel, sonder om ʼn ingewikkelde app af te laai of tegnologies vaardig te wees.

Deur sy passie vir tegnologie en sy gesin te kombineer, het Kahlon ʼn app geskep wat verafgeleë familielede toelaat om moeiteloos vir kinders in enige plek in die wêreld te lees.

Kyk hier na ʼn voorskou van Nooksy:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.