Leesstof vir die winter

Daar het die afgelope tyd wonderlike leesboeke in Afrikaans by verskeie uitgewers verskyn.

’n Baie lang brief aan my dogter (Marita van der Vyver)

Hierdie aandoenlike jeugmemoir het my op ver paaie teruggeneem. Hoewel Van der Vyver die persoonlike skrywe rig aan haar Franse dogter om haar openhartig te vertel van haar ma se grootwordjare in Suid-Afrika gedurende die apartheidsjare, is die inhoud van só ’n aard dat ek ook in ’n groot mate daarmee kon identifiseer. Op die agterblad word die boek voorgestel as ook ’n storie oor taal en boeke en die wonderwerk van woorde. Dis reeds die skrywer se verbysterende woordvaardigheid, helder denke en emosionele intelligensie wat die leser in staat stel om sáám met haar te probeer sin maak van die dinge van tóé en nóú sonder om in die slaggat van nostalgie te verval. Dis ’n eerlike terugblik op die verlede, die onthou van goed én sleg, maar dis ook die reikhalsende uitsien na die hede en aanhou droom.

Uittreksel: Dis wat ek jou ten slotte toewens. Dat jy, soos Bob Dylan gesing het, altyd jonk sal bly, al word jy ook oud. Want jonk het niks te maak met hoe jy lyk nie, dis bloot die vermoë om aan te hou droom. En soos ek vroeg in hierdie brief reeds begin bespiegel het, dalk begin alle dapperheid en waagmoed juis by die onmoontlike dinge waaroor ons droom (341).

Tafelberg Uitgewers publiseer ’n Baie lang brief aan my dogter. Kry jou kopie hier.

Voorouer. Pelgrim. Berg. (Ingrid Winterbach)

Dit verg ’n uiters vaardige en waagmoedige skrywer om skynbaar moeiteloos met verskeie teenstrydige en boeiende verhaallyne om te gaan om ’n beeld van die karakter, Katerina Steenkamp, se lewe aan die leser voor te hou. Hierdie uitdagende dog leesbare roman vra dan vir ’n denkende maar ontvanklike leser wat doelbewus verlei wil word deur ’n slim skrywer wat haar arsenaal woorde, belesenheid en fyn waarnemingsvermoë gebruik om die alledaagse op ’n subtiele dog oorrompelende wyse as die buitengewone te ontmasker. Neem jou tyd om hierdie diggeweefde boek proe-proe te lees.

Uittreksel: Dis tog ’n dating en chat site, nie een wat as platform vir Joyceaanse vingeroefeninge moet dien nie. En haal hy nie indrukwekkende trieks uit nie! Genade. Hy interesseer my omdat ek dink ek dalk ’n triek of twee by hom kan leer om my flets prulprosa ’n hupstoot te gee (87).

Human en Rousseau publiseer Voorouer. Pelgrim. Berg. Kry jou kopie hier.

Arendsvlerke vir Siebert (Elsa Winckler)

Ek het baie lekker gelees aan hierdie eerlike dog gevoelvolle verhaal van 248 bladsye oor ’n weduwee-ma wat uitvind dat haar seun aan dwelms verslaaf is. Katinka se staatmakerman is oorlede en nou moet sy as enkelouer die harde werklikheid van verslawing in die oë staar. Wanneer vrees en ’n algehele gevoel van magteloosheid egter die oorhand begin kry, wend sy haar oplaas na die Here. Hierdie geestelike verhaal van genesing en hoop wat handel oor verlies as gevolg van dood en ook hoe dwelmmisbruik ’n eens liefdevolle gesin raak, het my diep ontroer.

Uittreksel: Sy druk haar gesig in die kussing, maar sy reuk is lankal nie meer daar nie. En toe kom die trane. Sy huil oor haar man en maat en minnaar wat dood is, oor hulle kind wat die pad byster geraak het, oor haar lewe wat so heeltemal anders is as wat sy haar voorgestel het … (188).

Luca publiseer Arendsvlerke vir Siebert. Kry jou kopie hier.

Elisabet se oorlog (Helene de Kock)

Nóg ’n wonderlike goed nagevorste historiese en baie teer liefdesverhaal uit die pen van een van ons gewildste Afrikaanse skrywers! Dit is 1938 en oorlogspraatjies doen opnuut die ronde. Elisabet en haar jare lange vriend en nou ook verloofde, Johannes Barnard van die buurplaas, se gebooie begin loop. Oor drie weke is sy ’n getroude vrou. Maar waarom voel sy dan ingeperk en vasgekeer en ervaar sy onthutsende angs? Sy was op universiteit en daar het die wêreld vir haar oopgevou. Wil sy regtig nóú trou en kinders kry? “Is jy doodseker?” wou Marius Mulder weet en sederdien spook die vraag by haar. Ouma Liesbet se raad was immers: “Loop weg.” Elisabet besluit om Europa toe te gaan.

Uittreksel: Vir ’n oomblik wil dit voorkom of haar ouma in haarself wil wegraak, maar toe skud sy haar kop. “Sommer dinge. Wat ook lekker anderste is. Ek wou dinge aanpak. Ekself. Net ek. Miskien deur die wêreld reis, of so.” (33)

Human en Rousseau Uitgewers publiseer Elisabet se oorlog. Kry jou kopie hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.