Lemoenseisoen

Kristel Loots

Durf ’n Mevrou Dominee na hartstog en teerheid hunker? Natuurlik! En die liefde kom kry haar waar sy dit nooit sou verwag het nie. Want Suzy is in die eerste plek ’n bloedwarm, baie mooi vrou.

Al is sy Mevrou Dominee, is Suzy in die eerste plek ‘n mens, ‘n bloedwarm vrou wat deur haar man bemin wil word. Maar hy stel lankal nie meer belang nie, en sy moet ‘n ingrypende besluit neem – ‘n besluit wat die skindertonge losmaak en haar reputasie aan flarde ruk.

Om die kroon te span is daar ‘n seerplek diep in haar verlede wat dreig om oop te bars. Maar Suzy laat haar nie onderkry nie. Sy begin haar nuwe lewe met oorgawe en pak dinge aan wat haar in ongemaklike situasies laat beland. Watter vrou wil immers in ‘n geleende ontwerpersrok tussen ‘n spul duur koivisse orent kom, druipnat, en dit saam met ‘n dodelik aantreklike man?

Sommer ‘n gewone vrou is Suzy voorwaar nié, sy storm in waar engele dit nie sou waag nie. Maar haar waaghalsigheid is ook haar redding. Dit laat haar terugloop op haar spore van die verlede, en in ‘n bibberkoue Londen besweer sy haar seer en kom daar vir haar liefde soos sy nooit geken het nie.

Oor die outeur:
“Toeka se tyd toe ek as kaalvoetkind in Despatch se stofstrate rondgeloop het, het hulle ons die “Klipgooiers” genoem. Klippe was daar genoeg, want op daardie stadium was daar net een straat wat geteer was – die hoofstraat. Dit was lekker loslitdae met my pa die vet, vrolike predikant van ’n effense volksvreemde kerk en my Ma ’n huisvrou, maar ’n bekende gesig in die dorp rond met die swart hoedjie, waarvoor sy so lief was, effens skeef op die kop gedruk. Ek was in die Hoërskool Despatch. ’n Soet kind wat die leuse van Blaas Hoog die Vlam probeer nakom het. Of altans dis hoe ek dit onthou. Anders gestel – vaal soos ’n vadoek, maar geseën met ’n verbeelding wat vir niks skrik nie. My kop was vreeslik vol muisneste en ek was gedurig verlief.

My hart is ’n hele paar keer gebreek en ek het baie trane agter toe deure gestort. In my studentedae het ek net in één ding in die kop gehad – om man te vang. Iets wat ek toe redelik kort daarna reggekry het. Die twee nasate wat uit hierdie liefde gebore is, is al lank onder Ma se vlerk uit die wye wêreld in en ons gesin is tans oor drie vastelande versprei. Toe die nes begin leeg raak, het ek die pen opgeneem. Dit het tyd geraak om te begin baasspeel in die kamma-wêreld van fiksie. Uiteindelik kon ek my eie stories skryf, waar ék dinge kon plooi soos dit mý pas. My heldinne sou nooit huil nie, het ek besluit. Hulle sou láát huil. Hulle harte sou nooit gebreek word nie, húlle sou harte breek. Maar natuurlik is dit nie so eenvoudig nie. Die boeke wat ek skryf, moet darem ooreenkomste met die werklike lewe toon en al is die helde almal gespierd en skatryk en die heldinne almal maer en mooi, word daar wel soms ’n paar trane langs die pad gestort. Met die belofte dat die slot natúúrlik gelukkig sal wees, sodat die held en heldin hand aan hand vir ewig en altyd gelukkig leef.”

Uitgewers: Lapa
Prys: R165-00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae