Leopold Scholtz praat oor sy nuwe Grensoorlog-boek

Dr. Leopold Scholtz, buitelandse korrespondent van Media24 en vermaerde historikus, het sopas sy nuwe boek, Die SAW in die Grensoorlog 1966-1989, die lig laat sien. Eugene Brink, redakteur van die Groot Debat, het met hom gesels oor onder meer sy doel met die boek, die heilige koeie wat hy daarin probeer slag het en die kritiek wat hy te wagte kan wees.

GrensoorlogEB: Wat het jou laat besluit om hierdie boek te skryf? En hoekom nou?

LS: Daar is verskriklik baie misverstande oor die oorlog. Vanuit die kant van Kuba, Swapo, die ANC (en selfs akademici wat van beter behoort te weet) kom ‘n stroom sienings wat nie anders nie as pure propaganda beskryf kan word. Onder ons eie mense hoor jy ook allerlei stories wat ver van die waarheid is. Ek het gedink die tyd het aangebreek, 25 jaar ná die oorlog, om die werklike verhaal te vertel.

EB: Hoe het jy jou navorsing gedoen? Waarheen het jy oral gereis om onderhoude te voer en inligting in te samel? Watter primêre bronne het jy gebruik wat nuut is?

LS: Ek het uitvoerig gebruik gemaak van argivale bronne in die Dokumentasiesentrum van die SANW. Dit gaan om memorandums, teleksboodskappe, verslae, vergaderingnotules, ensovoorts. Ek het verder telefoniese of e-pos-onderhoude met verskeie veterane, veral offisiere, gevoer. Daarby het ek byna alles wat op papier of die internet gepubliseer is, geraadpleeg.

EB: Hoe het jy die boek aangepak? Tematies, chronologies, ens.? Hoekom het jy dit so gedoen?

LS: Die boek is sowel tematies as chronologies. Ek begin chronologies met die voorgeskiedenis en Operasie Savannah, en volg dit dan tematies op met die ontwikkeling van ‘n nuwe strategie en operasionele doktrine. Daarna kom al die oorgrens-operasies tot 1984 chronologies aan die beurt, afgewissel met ‘n tematiese behandeling van die teeninsurgensie-oorlog in Suidwes self, die wel en wee van Swapo in ballingskap, en die rol van die rolspelers in die Angolese Burgeroorlog. Ten slotte word ek opnuut chronologies met Operasies Moduler, Hooper en Packer, asook die laaste Kubaanse bemoeienis. Ek het my maar eenvoudig deur die materiaal laat lei; dit het natuurlikerwys so geval.

EB: Watter heilige koeie het geslag in hierdie boek? Hoe het jou Afrikaner-identiteit jou werk aan hierdie boek beïnvloed?

LS: Veral twee heilige koeie word in die boek geslag, en ek weet ek gaan uit verskillende oorde daarvoor gelooi word. Die een is dat ek die destydse opponente se propaganda oor hoe goed en edel hulle was en hoe verderflik die nare, rassistiese Suid-Afrikaanse regering was, soos ‘n ballon deurprik. Ek laat my nie deur politieke korrektheid lei nie; slegs die feite soos hulle veral in die argivale bronne voorkom. Die tweede is die feit dat die strategiese leiding van die SAW in 1987-1988 op generaalsvlak nie goed was nie. Ek is trouens reeds hieroor gelooi. Maar ek is ‘n akademiese historikus wat op ‘n ongemaklike stoel sit. Ek kan my ook nie laat lei deur mense se strewe om goed in die geskiedenis te lei nie. As ek foute identifiseer, moet ek dit noem.

EB: Behoort Afrikaners skaam te wees oor die Grensoorlog se oorsake, aard en verloop?

LS: Afrikaners hoef nie skaam te wees oor hul rol in die oorlog nie. My gevolgtrekking is dat die manne in uniform, objektief gesien, tyd gewen het om te keer dat Swapo en die ANC die mag deur die loop van ‘n geweer oorneem en ‘n kommunistiese diktatuur in Namibië en Suid-Afrika vestig. Hul historiese rol was om ons ‘n kans te gee om ‘n stabiele demokrasie in ons land te vestig. Dit het nie heeltemal geslaag nie, maar wel grotendeels. Ons het nou ten minste, om die Engels te gebruik, ‘n “fighting chance” (as ons net vir Zuma kan oorleef!).

EB: Na jou mening, was hierdie oorlog geregverdig en nodig (brei dalk bietjie uit oor die internasionale dimensie van die oorlog)? Wie het die oorlog gewen en watter ander gevolgtrekkings kom na vore uit die boek?

LS: Dit is nie my taak as historikus om te besluit of die oorlog geregverdig was nie. Ek kan wel die boustene lewer vir ander om gevolgtrekkings te bereik. Wat ek kan konstateer, is dat die manne in uniform help keer het dat Suid-Afrika vandag ‘n kommunistiese staat is. Dit is immers ‘n feit dat die USSR en Kuba daarop uit was om Namibië en Suid-Afrika oor te dra aan Swapo en die ANC, wat in dié tyd nie anders as kommunistiese organisasies beskryf kan word nie. Of dit ‘n goeie ding is, is vir ander om oor te besluit.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Boeke, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.