Dié resensie is opgestel deur Alexander S. Mickel, ʼn Duitser wat homself Afrikaans leer skryf en praat het. Hy is nou ʼn passievolle Afrikaanssprekende in Duitsland met ʼn groot netwerk Afrikaanse vriende in Suid-Afrika wat hom voorsien van Afrikaanse leesstof en geleentheid om sy Afrikaans te oefen wanneer hulle Europa besoek. Klik hier om sy eerste brief op Maroela Media te lees. – Red
Blinde gode is geskryf deur Dibi Breytenbach en is in 2019 uitgegee deur Lapa Uitgewers.
Blinde gode is Dibi Breytenbach se vyfde boek en ʼn opvolg van haar boek Dowe gode. Aella O’Malley is die vroulike hoofkarakter. Sy sukkel aan die een kant om die dood van haar geliefde te verwerk en aan die ander kant is sy hard getref deur Whistler se verraad. Alles word nog meer gekompliseer deur die liggaamlike en geestelike knoue wat hy haar toegedien het. Nege maande nadat hy ontbloot is as ʼn verraaier en renosterstroper het sy steeds visioene van hom. “Verraad of dood, watter een sny die diepste?” vra sy haarself af.
Ná die verskriklike gebeurtenisse op Opathe is O’Malley bevorder na bevelvoerder van die plaaslike speurtak. Nou word sy deur Erwin Bijlsma om hulp gevra. Bijlsma is lid van ‘n presidensiële kommissie wat korrupsie in die strafregstelsel ondersoek. Toe word ‘n plaaslike landdros dood in sy motor gevind en dit blyk dat hy tereggestel is. Daar wag nou werk vir haar, aangesien sy die enigste moordondersoeker in Opathe is. Sy kry nog steeds swaar onder haar psigiese belasting en sy is fisies ooreis. Dit laat haar uiteindelik besluit dat sy hulp moet kry. Daar is iemand wat “kan help om die burokratiese doolhof te omseil”. Dis majoor Christophe Leblanc van Interpol. Tussen hom en O’Malley bestaan ʼn spesiale band. “Die Fransman het haar kwesbaarste binneste in die aangesig van haar grootste ellende gesien.” Sy is broos, sy het gebreek en hy weet hoe om haar te ondersteun. Daar is nogal ʼn soort van erotiek tussen haar en hom. “Sy kan Leblanc se liggaamshitte deur haar klere voel,” is ʼn sin wat die leser meermale raaksien.
Terselfdertyd is kolonel Alexander MacLachlan besig om die dood van drie renosters te ondersoek. Daar is ’n sindikaat met bande in Suid-Afrika en Mosambiek wat hy wil toemaak. MacLachlan en sy twee kollegas, Khumalo en Ngcobo, wag in hulle skuilplekke vir twee renosterstropers. Verrassend genoeg verskyn nog ʼn persoon op die toneel wat die twee renosterstropers net voor MacLachlan se oë koelbloedig doodskiet. Die moordenaar Sitapati word arresteer. MacLachlan is geheimsinnig met Sitapati se aanhoudingslasbrief en hoekom mag Khumalo nooit hiervan weet nie? Voordat Sitapati behoorlik ondervra kan word, pleeg hy selfmoord. Boonop word die vuurwapen, wat by hom gevind is, verbind met drie dossiere: Ehlathini, Miller’s Crossing en Opathe.” Maar hoe hou die moorde op die landdros en die renosterstropers met mekaar verband? O’Malley en MacLachlan moet saamwerk en dis hier waar die storie spoed optel en ʼn mens op die punt van jou stoel sit.
Breytenbach slaag daarin om die meesterbrein se identiteit agter die ongerymdhede in die landdroskantore tot die einde geheim te hou. Verder skryf die outeur baie beskrywend sodat die lesers hulself maklik kan verbeel hoe die tonele lyk, hoe die disseksiesaal lyk en hoe die ondersoek verloop. Die deeglike kensketsing is seker te wyte aan haar werk as aanklaer en aan die gesprekke met deskundiges op hul gebiede met wie sy gesels het, soos sy in haar outeursnota laat blyk.
Die boek se storie word mooi afgerond deur Flame Design se treffende omslagontwerp. Wanneer ek na die omslag kyk, laat dit my terugdink aan Dowe gode se voorblad, want ek herken twee sentrale motiewe, naamlik musieknote en ʼn vrou met lang, donker hare. Ek weet nie of dit toeval is en of ek dit net wíl sien nie, maar ek sien dikwels ʼn verband tussen Dowe gode en Blinde gode. In Blinde gode skryf Breytenbach bv. oor O’Malley se toestand: “Aella sweef. Haar lyf is lig, ’n seepbel. Sy is en sy is ook nie. Sy is iewers en sy nêrens. […] Sy dryf deur die duisternis, gewigloos, rigtingloos.” Hierdie beskrywing roep presies dieselfde prentjie in my gedagtes op as wat op Dowe gode se voorblad te sien is. In die geval van Blinde gode is daar egter ʼn vrou geïllustreer wat ʼn wit kleed dra en ‘n blinddoek om haar oë het. In haar regterhand hou sy ʼn groot, regopgeplaaste swaard vas en in haar linkerhand ʼn weegskaal. Dis Justitia, die godin van geregtigheid, ʼn simbool van onpartydigheid. Die blinddoek, weegskaal en swaard is drie elemente wat bedoel is om dit duidelik te maak dat die wet met die nodige erns (swaard) toegepas word sonder inagneming van die persoon (die blinddoek dui daarop dat dit nie saak maak wie die persoon is nie) en na deeglike oorweging van die situasie (weegskaal). Breytenbach neem die onderwerp van Dowe gode verder en skilder ʼn prentjie van korrupsie en verraad deur mense wat eintlik veronderstel is om te beskerm en om reg te pleeg. Dié bly ʼn aktuele tema nes die renosterstropery.
Hoendervleis – om te dink die persoon wat hierdie keurige Afrikaans skryf, het homself Afrikaans geleer! Hy spel myle beter as die deursnee Afrikaanssprekende.
Alexander, ek het enorme respek vir jou.
Baie, baie dankie! Jou terugvoer maak my dag!