Lesersindruk: Dowe gode

Dié resensie is opgestel deur Alexander S. Mickel, ʼn Duitser wat homself Afrikaans leer skryf en praat het. Hy is nou ʼn passievolle Afrikaanssprekende in Duitsland met ʼn groot netwerk Afrikaanse vriende in Suid-Afrika wat hom voorsien van Afrikaanse leesstof en geleentheid om sy Afrikaans te oefen wanneer hulle Europa besoek. Klik hier om sy eerste brief op Maroela Media te lees. – Red

Dowe gode is geskryf deur Dibi Breytenbach en reeds in 2018 uitgegee deur Lapa Uitgewers.

‘n Omslag is ʼn boek se venster na die binnekant toe. Flame Design se treffende omslagontwerp illustreer voëls wat uitmekaar spat, musieknote, ʼn pistool en ʼn jong vrou wat lyk asof sy val. Dit is moeilik om dié dinge presies te onderskei, want die beeld lyk byna mistig. Alles sypel weg in die lug. Dit lyk baie geheimsinnig. Gedurende die lees van die boek sal die beeld op die voorblad verklaar word.

Dowe gode is Dibi Breytenbach se vierde boek en ʼn plaasmoord moet in hierdie boek opgelos word;  ʼn baie sensitiewe onderwerp.

Carlsbad, “’n groen juweel in die hartjie van die KwaZulu-Natalse bos”, is ʼn plaas wat aan die Volker-gesin behoort. Die Volkers is boere van Duitse afkoms. Daar is Henno Volker, ʼn patriarg wat sy seun, Heinrich, nooit laat vergeet dat sy erfporsie verdien moet word deur hard te werk nie. Heinrich is met Irmela getroud. Hulle het ʼn klein dogtertjie, Sigrid. Een aand sit die gesin by die tafel en eet toe hulle skielik geweerskote hoor. Donkergeklede figure verskyn en skiet die mans koelbloedig dood. “Vanmiddag nog was Irmela die vrou van ’n welgestelde boer. Vanaand is sy ’n weduwee.”

Aella O’Malley is die vroulike hoofkarakter. Sy speel elke aand orrel ná Roel, haar sielsgenoot, drie weke gelede aan motorneuronsiekte oorlede is. Maar “niks wat sy speel, laat haar beter voel nie en Roel kom nooit weer terug nie.” Sy het Roel se liggaamlike verval geïgnoreer en eerder gebid. Niks het gehelp nie. Aella kry swaar na dié verlies. Toe sy een aand weer orrel speel, kry sy ʼn oproep met die tyding dat daar ʼn plaasaanval op Carlsbad was. O’Malley is die kaptein van  ʼn speurderspan en werk saam aan hierdie saak met haar spanmaat, Whistler, en majoor Christophe Leblanc, ʼn Fransman.

Dowe gode is ʼn boeiende boek en ʼn mens wil dié boek nie sommer neersit nie. Die skrywer skryf aangrypend oor aktuele politieke probleme en probeer om algemene veronderstellings tussen kulturele groepe uit die weg te ruim. Boonop is daar steeds mense wat voordeel uit sulke situasies trek. Die situasie is gespanne, “’n kruitvat wat wag vir ’n vonk”.

Haat en woede is twee woorde wat die leser telkens kan raaksien in hierdie storie. Maar woede sal nie help om dié saak op te los nie, want woede laat mense blind word. “’n Plaasaanval verander ’n ondersoeker se persepsies vir ewig,” dink Aella. Sy ken Carlsbad se mense en hoe langer die hele ondersoek neem, hoe meer voel sy simpatie met die boere, ten spyte van hulle heethoofdige optredes wat vir die hele ondersoek nadelig is.

O’Malley en Leblanc woon die nadoodse ondersoeke van die Volker-mans by. Toe hulle die lykshuis se deure oopmaak, hoor hulle Mozart se “Requiem”. Die musiek help dokter Singh om te konsentreer. Die twee vroue se passie vir musiek speel ʼn rol in die gang van die verhaal.

Toe Aella voor die lyke staan, maak sy haar oë toe. “Die Volkers het getrou elke Sondag in die Lutherse Kerk aanbid en kyk waar lê hulle nou.” O’Malley en Leblanc begin om van God te praat en voel dat God nie na hulle geluister het nie. Hulle gode is doof. Dit lei tot ʼn sentrale tema in Breytenbach se storie – die mag en onmag van gebede.

Breytenbach bewys dat sy moeilike onderwerpe uitstekend kan hanteer. Die plaasmoordtema word tegelykertyd sensitief én onverbloemd uiteengesit. Die moorde is wreed, ontstellend, vernietigend en sinneloos. Haar beskrywing van Aella se wroeging skep aan leserskant begrip vir haar, en Roel se liggaamlike verval word hartroerend weergegee.

Verder was die gebruik van verskeie tale baie positief vir my. Dit gee diepte aan die dialoë en maak die persone outentiek. Mense uit verskillende kulture verloor nie hulle stem nie.

Ek sien ook ʼn verband tussen Breytenbach se Dowe gode en Martin Steyn se boek Losprys. In Dowe gode gaan maak die moorde op die Duitsers moeilikheid, omdat dit in hulle parlement gaan draai. Aella dink: “Moet ’n mens eers geld en familie in Duitsland hê voordat die politici hulle werk begin doen?” In Losprys deur Martin Steyn word ʼn Amerikaanse seun word ontvoer. Die gesin is ryk en die vraag is dan: Kry ryk mense voorkeurbehandeling in kriminele sake? Dit is uiteindelik ʼn vraag wat Aella ook bemoei.

In elk geval sal lesers nie dié einde verwag nie …

Alexander S. Mickel

Meer oor die skrywer: Alexander S. Mickel

Alexander S. Mickel is ʼn Duitser wat homself Afrikaans leer skryf en praat het. Hy is nou ʼn passievolle Afrikaanssprekende in Duitsland met ʼn groot netwerk Afrikaanse vriende in Suid-Afrika.

Deel van: Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Rhoda ·

Spook, hoe weet jy? Jy het duidelik nog nie een gesien of gehoor nie!

As jy nie kennis en ervaring van iets het nie bly eerder stil.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.