Lesersindruk: Swartval

Dié resensie is opgestel deur Alexander S. Mickel, ʼn Duitser wat homself Afrikaans leer skryf en praat het. Hy is nou ʼn passievolle Afrikaanssprekende in Duitsland met ʼn groot netwerk Afrikaanse vriende in Suid-Afrika wat hom voorsien van Afrikaanse leesstof en geleentheid om sy Afrikaans te oefen wanneer hulle Europa besoek. Klik hier om sy eerste brief op Maroela Media te lees. – Red

Swartval is geskryf deur Martin Steyn en reeds in 2016 uitgegee deur Lapa Uitgewers.

ʼn Lesersindruk gaan oor ʼn boek se inhoud en hoe ʼn mens daaroor voel. Maar eintlik begin die reis al vroeër en nie eers op die eerste bladsy nie. Nee, dan is dit reeds te laat! Jy het al reeds iets belangriks misgeloop! Soos jy klere aantrek oor hoe jy die dag voel, het elke boek ook sy eie baadjie. Dit vertel jou iets! Kleure en onderwerpe, wat daarop te siene is, is nie verniet daar nie. In die geval van Swartval is die omslag absoluut van pas. Dis dan net regverdig om Flame Design met sy ontwerp geluk te wens. Treffend! Veral wat die kleure betref, gaan jy nog later die diep betekenis daarvan verstaan.

Swartval is Martin Steyn se derde boek. Ná twee boeke uit die genre van misdaadfiksie, het sy eerste sielkundige riller verskyn. Claire Winters, die vroulike hoofkarakter, is op pad huis toe en vind ʼn blom wat onder haar kar se ruitveër vassteek. Dit sal nie die enigste blom wees nie. En dan is dit dié dag dat hy nie gekom het om iets te bring nie, “hy het gekom om iets te vat.” Claire word ontvoer en iewers in die donkerte aangehou.

Die leser moet sterk wees. Hoeveel kan jy verduur om saam met Claire haar marteling te voel? Sy hoop haar broer, ʼn speurder, sal haar gou vind, want hy weet tog wie die ontvoerder is. Maar hoekom kom hy nie? Is sy nou op haar eie?

Wat sou jy doen? Daar is natuurlik die gedagte om jouself van alles te onttrek. Dis te verstane. Die skok is te groot en die donkerte om jou maak dit nie makliker om die gedagtes wat oormekaar val, verder te verduur nie. Claire se brein is besig om prente of klanke te skep wat nie regtig daar is nie en sy begin dans in die donkerte om van die stemme in haar kop ontslae te raak…

Tog is daar nog ʼn ander opsie. Moeiliker as wat jy jou moontlik kan verbeel. Ek praat daarvan om ʼn soort van verhouding te ontwikkel met iemand wat jy haat. Sy probeer om vir haar ontvoerder “ʼn mens te word”. Sal jy, die leser, dit regkry om te sien hoe Claire begin vordering maak om dan haar swaarste tyd te beleef? Iewers maak alles sin: hoekom sy skielik drie etes begin kry het, hoekom sy aangehou word.

Martin Steyn slaag uitmuntend daarin om jou Claire se situasie te laat verbeel. Hy skryf steeds baie beskrywend en speel met al die sintuie:

“Die hitte styg soos walms uit die teer van die parkeerarea tot heen tot haar wange.” [voel]
“Sy sien niemand nie, net motors.” [sien]
“Sy asem blaas warm in haar gesig en bring ʼn plaakreuk saam.” [ruik en voel]
“Die suur walm van sy sweet.” […] “Die ou rubbermat, warm van die son, se reuk is in haar neus.” [ruik en voel]

Dink nou aan Claire wat daardie blomme op haar kar vind. Só geskenk kan maklik onaangenaam word en mens is glad nie lus vir lelike verrassings nie. Steyn beskryf dit só: “Sy hoef nie meer met ʼn stuk yster wat in haar maag roes na haar kar toe te loop nie.”

Steyn is nogal in staat daartoe om te maak dat jy sekere geluide kan hoor terwyl jy aan die lees is. “Die gaasdeur kerm oop en sy swaarder voetstappe weerklink op die houtvloer. Kasdeure en laaie gaan oop en toe. Iets skraap oor die vloer.”

Die leser kry tussendeur bietjie ʼn blaaskans. Ons sal Claire beter leer ken. Sy vertel vir ons van haar lewe en haar drome. Sy sal eendag graag Thailand wil besoek om iets eksoties te kan sien. Sopas nog van drome gepraat, beland ons gou weer in haar realiteit. Die realiteit van haar ontvoerder en sy ritueel. Later sal jy ervaar waar daardie ritueel vandaan kom.

Daar is so baie donker plekke en wanneer jy dink daar kan nie nóg ʼn donkerder plek wees nie, besef jy jy het jou erg misgis. Daar is donker plekke ofskoon daar lig is en daar is nog donkerder plekke in mense se siele.

Steyn se Swartval is ʼn absoluut boeiende boek.

Een saak is vir my onvolledig opgelos. Die ontvoerder se ma se lot. Ek sou my nog drie sinne gewens het om te weet wat van die ma geword het. Was ek nie oplettend genoeg nie of het die ma se lot inderdaad nie weer ter sprake gekom nie? Jy sal maar moet uitvind wat haar rol was in dié gruwelike saak.

Daar is nog iets wat genoem moet word en waarvoor ek ʼn groot waardering het. Vir elke eksemplaar van Swartval wat verkoop word, gaan ʼn persentasie aan Rape Crisis Helderberg. Elke leser maak ʼn verskil in daardie vroue se lewe!

 

Swartval deur Martin Steyn
Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R251-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.