Liefde agter tralies: Verlief op ’n misdadiger

Carla van der Spuy het in Maroela Media se ateljee ‘n draai kom maak om te gesels oor die liefdesverhale wat dié boek geïnspireer het. Foto: Carla van der Spuy se Facebook-blad/Tafelberg

Tronkbruide (en daar is selfs bruidegomme) is nie van lotjie getik nie, hulle weet presies wat hulle doen.

Dit is die mening van die misdaadskrywer Carla van der Spuy wat in haar jongste boek Liefde agter tralies: Ware Suid-Afrikaanse verhale die soeklig plaas op die liefdesverhale van plaaslike gevangenisse.

“Die eerste hoofstuk van my boek handel juis hieroor. Sommige van hierdie vroue is aangetrokke tot die sogenaamde bad boys. Ander vroue is weer gewoond aan die milieu en om ʼn familielid in die tronk te hê, is glad nie vir hulle vreemd nie. Dan is daar ook die vroue wat glo hulle gaan hierdie misdadiger verander en ander vroue is eenvoudig jonk en smoorverlief.”

Oor die navorsing wat sy vir die boek gedoen het, vertel Van der Spuy sy “boer graag in die tronke”.

“Sommige mense het al gedink ek is uit op parool, maar so het ek my kontakte oor die jare opgebou,” skerts Van der Spuy.

Pastoor Jonathan en Jenny Clayton het haar gehelp om talle van die liefdesverhale te dokumenteer.

“Jonathan was self in die tronk gewees en hul liefdesverhaal is ook in die boek opgeteken. Die paartjie is al 27 jaar getroud en hulle doen wonderlike werk in regstellende geregtigheid agter tralies.”

Van der Spuy sê haar gunstelingstorie uit die boek is die Boeremagbruid. Willhelm Pretorius moet effektief 36 jaar in die tronk deurbring, en tog is hy nou ʼn jaar getroud met Riëtte.

“Sy het vir my gesê dit is in sekere opsigte makliker om ‘n man in die tronk te hê. Sy was in ‘n stadium aan ‘n man verloof maar hy het verongeluk en dit was vir haar verskriklik gewees.”

Van der Spuy sê Riëtte en Willhelm beweeg eintlik in dieselfde kringe. Volgens Riëtte was daar ‘n oom gewees wat haar vertel het Willhelm wil graag jong mense ontmoet en het haar gevra of sy nie maar vir hom wil gaan kuier nie.

“Sy het toe vir hom gaan kuier, maar was aanvanklik baie skepties en dit was beslis nie liefde met die eerste oogopslag nie. Sy het nog ‘n paar keer gaan kuier waarna sy besef het hier is ‘n verhouding wat besig is om te ontwikkel.”

Van der Spuy vertel die twee het baie dieselfde siening oor sake, en daarna het Willhelm vinnig sy liefde verklaar en haar gevra om te trou. Riëtte het ingestem op voorwaarde dat hulle ‘n baba verwek aangesien sy toe al 36 jaar oud was. Haar wens is verwesenlik met moderne tegnologie.

“Sy glo hy is haar geesgenoot en Riëtte sê sy is nie spyt nie. Die twee is nou so ‘n jaar getroud.”

Van der Spuy meen nog ‘n rede waarom dié soort verhoudings so aanloklik is, is omdat die soort verhoudings net in die romantiese fase bly.

“Die manne het ure om die mooiste liefdesbriewe te skryf. Dit sal natuurlik heerlik wees om die soort briewe te ontvang, maar die verhouding ontwikkel eintlik nooit nie. Gewoonlik hou die verhouding dan net twee jaar en dan is dit verby.”

Sy meen die Claytons is ‘n absolute uitsondering op die reël.

“Hulle het natuurlik gesamentlike visie met hul Christelike werk in regstellende geregtigheid wat hulle vêrder aan mekaar verbind. Voor dit, was hulle buurkinders en Jenny het Jonathan, wat op Police File verskyn het vir sy swendelary, bygestaan uit Christelike plig en afsprake vir hom gereël voordat hulle besef het daar is iets tussen hulle.”

* Carla van der Spuy se boek Liefde agter tralies: Ware Suid-Afrikaanse verhale is vroeër vanjaar uitgereik. Sy het in Maroela Media se ateljee ‘n draai kom maak om te gesels oor die liefdesverhale wat dié boek geïnspireer het. Luister na die volledige gesprek boaan hierdie artikel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.