Lien Botha reis met woorde en beelde

Lien Botha in haar ateljee op Bettysbaai. Sy sê as sy moet antwoord wat die grootste verskil tussen haar en die karakter Vin in haar gelyknamige roman is, sal die antwoord ongelukkig ’n “spoiler” wees. (Foto: Verskaf)

Lien Botha is ’n bekende kunstenaar-fotograaf en kurator, wat nou ook skryf. Wonderboom, haar debuutroman, is gekortlys vir die UJ-debuutprys én WA Hofmeyr-prys. Dit is ook met die Eugène Marais- én Jan Rabie/Rapport-prys bekroon, en het ook met die Huisgenoot Tempo-toekenning vir Afrikaanse Roman van die Jaar weggestap.

Haar nuutste boek, Vin (uitgegee deur Queillerie), span ongeveer 400 kunswerke en foto’s in om die leser se verkenningstog te verryk. Tussen hoofstukke kan die leser haar webwerf besoek en sien wat Vin in haar omswerwinge beleef. Die foto’s is universele herinneringe aan ’n tyd toe ons vry gereis het.

Dit bring rustigheid te midde van die 2021-chaos.

Sy gesels vanuit Bettysbaai waar sy saam met Raymond Smith, haar argitek-man en erfenispraktisyn, woon. Lien is die dogter van oorlede Pik Botha – die charismatiese minister van buitelandse sake wat sedert 1977 vir meer as 14 jaar in sy pos was – en suster van die oorlede musikant, Piet.

Die kort uitgewersbeskrywing lees: “Vin is die verhaal van kunstenaar-kurator Vin Verster se geleidelike greepverloor op haar skeppende en skikkende omgaan met kuns, haar verhouding met haar argeoloog-man, en haar vermoë om in SA sielerus te voel. Deur twee dekades van oorsese kunsresidensies, voortslepende familiedrama en die benouende obsessie van ’n vyandiggesinde in die kunswêreld sien die leser met die oë van dié vindingryke kuns-vlugteling.”

Lien Botha se tweede roman, Vin, het onlangs by Queillerie verskyn. (Foto: Verskaf)

Lien sê daar is ’n verskil tussen die twee boeke in dié gebruik van kuns. “Die ontbindende collage wat voor elke hoofstuk in Wonderboom verskyn het, was as’t ware teen die teks. Soos ’n swaelstert. Met Vin is die beeld- en klankmateriaal ’n tweede of aanvullende lees-ervaring op ’n ander platform. Die leser kan besluit hoe en tot watter mate die Vin-galery by die teks betrek moet word. Ek glo hierdie metodiek is ’n weerspieëling van die dinamiese tegnologiese tyd waarin ons leef, en die kreatiewe moontlikhede wat dit aan ’n kunstenaar bied.”

Sy hou boek van al haar avonture; foto’s en kunswerke in notaboekies, sketse en stukkies parafernalia, wat ʼn mens maar deur die jare opgaar. Sy vergelyk dit met ʼn versamelvoël se nes: Op ’n dag begin jy die nes uitpluis om die finale keuse te maak van alles wat ingesluit moet word.

Lien sê hoe lesers die boek en kuns geniet, is elkeen se eie keuse. “Een leser het aan my genoem sy het ná elke hoofstuk die betrokke visuele komponent besoek, en ’n ander leser het eers die hele roman klaar gelees alvorens hy na die visuele skakel gaan loer het. Ek glo daar sal lesers wees wat nie die ‘Vin-galery’ wil beloer nie, maar eerder die beelde in hul eie verbeelding sal wil oprakel.”

Jean Meiring het dit goed in ’n resensie opgesom: “Die leser – as skeppende deelnemer aan die proses om die boek tot wasdom te bring – moet self op ’n roete besluit.”

Lien sê die visuele materiaal het haar weer van ander wêrelde laat droom en by haar die hoop laat ontstaan dat “ʼn mens weer mettertyd sal kan reis soos in die verlede; dat alles nie verlore is nie.”

Vin gee woorde vir die algehele vrees – vir die pandemie, vir politiek, vir grondonteiening – waarin ons vasgevang is. Lien erken dat die kontoere van die boek tussen feit en fiksie loop: “Die twee kuier in so ’n mate oor en weer dat ek soms self wonder wat is die waarheid en wat is gedroom.”

Lien se boek is meer as net ’n roman. Dis ’n verskuilde reisverhaal, ’n hunkering na wat in ander lande wag. Soms is daar sinne wat jou tot stilte en verposing noop: “Die antieke houtdeur is swaar onder die Renaissance se gewig. Wanneer sy dit agter haar toedruk, is die portaal donker en stowwerig: dit ruik na die plek waar ontelbare kerse doodgeblaas is.”

Sy skryf van die melancholie aan huis wanneer sy in Europa gaan werk om haar loopbaan ’n hupstoot te gee. “Geen mens kan aan die suidpunt van Afrika sit en wag vir wonderwerke nie.”

Sy verwoord die vryheid wat Suid-Afrikaners ervaar as hulle in die meeste Europese lande kuier. Die doodluiterse meander huis toe: “Haar gedagtes is wolke.” Die onbehoedsame drentel deur klipstraatjies as jy nie bedreig voel of kort-kort oor jou skouer moet loer nie.

Sprakeloos, sit sy, midde-in ’n droom, getoor deur ’n klassieke tuin. “Somer slaap reeds; eersdaags gaan die blomme water sluk, blare sal lostuimel en grond word, alles versadig en koel.

“ʼn Mens kan die groot drome van hierdie land verstaan,” as sy in Amerika werk. Ook Jack London se “I would rather be ashes than dust” – ’n terloopse aanhaling na die immigrante en wat hulle vermag het, nadat hulle uit ellende opstaan.

Sy beskryf onder meer Dalí se kunswerke waaraan sy in lang teue suip: “’n Bok by water, ná droogte. Sy sien waar die kwas swaar met verf gelaai was sodat pigment die papier moes versadig; soms vloei dit heeltemal weg en ander kere is kleur weggetrek om vorm te gee of lyn aan te dui.”

Daardie ure wat jy in kunsmuseums in verre lande verwyl – voor jy ’n poskaart in die museumwinkel koop en in ekstase oor ’n glas wyn of koffie in die kafeteria sit en reflekteer. Die hunkering in my eie lyf noop my ook af en toe deur die boek om my “hand oor my mond te plaas om die melancholie af te weer.”

“Verdriet is smerig en onnet, dit vloei nie aaneen nie, dit hakkel en spoeg. Verlies se verfkwaste is gelaai met grou pigment; daar is geen nuanse, geen kalligrafie,” skryf sy.

Lien Botha is ook ‘n bekende kunstenaar-fotograaf en kurator. (Foto: Verskaf)

Vin se “geleidelike greepverloor op haar skeppende en skikkende omgaan met kuns, haar verhouding met haar argeoloog-man, en haar vermoë om in SA sielerus te voel” kry nou in hierdie tye ’n nuwe dimensie met greepverloor tydens die pandemie. Lien sê die manuskrip was grotendeels voltooi teen die tyd wat die pandemie ons getref het. “Ek het wel in die daaropvolgende maande heelwat afronding gedoen op grond van twee keurdersverslae. En natuurlik het die visuele komponent midde die koors van Covid posgevat. Dit was ’n lafenis om juis in die grendeltyd die beelde van soveel kunstenaars en kunsstede te kon herbesoek en daaroor te kon mymer.”

Soos sy iewers skryf: “Geluk dra gewig.” Nou in ons inperking nog meer as voorheen …

Lien vertel sy en Raymond het begin stap – hy glo aan die Japannese gebruik om berge te bevriend teenoor die Europeërs wat berge wil verower. Lien sê: “In hierdie tyd van ‘toomuchery’ is stap ’n lewensboei. Dit stroop geraas weg en bring helderheid. Elke stap is ’n herbesinning.”

Sy voeg by dat Moeder Natuur, die Karoo, vriende, familie, lees, ’n tuin en eindelose goeie herinneringe vir haar vrede in hierdie onderstebo tye bring. Haar lewe in Bettysbaai is vir haar ’n redding: “Hier is ʼn mens intens bewus van die elemente: wind, son, reën, talle wilde diertjies, en ek glo dit hou jou soepel vir die uitdagings van hierdie lewe.”

Sy sê dat sy ook die Star Walk-app afgelaai het in ’n poging om die sterre van nader te leer ken. “Dit gee ʼn mens ’n gebalanseerde perspektief om jou nie blind te staar teen die ellende en stommerikke van ons tyd nie. Verder luister ons deesdae meesal na Radio Garden, want dit neem jou na die klanke van verre plekke dwarsoor die aardbol – van Klaksvik tot Kingston.”

Dit bring my by hierdie aangrypende beskrywing in haar boek: “Ek wil myself net loswiggel, ’n baksteen sonder sement … weg van hier – asof hierdie plek nooit gebou is nie.” En: “By tye dink Vin die plek waar sy vandaan kom, bestaan nie werklik nie. Suid-Afrika is ’n windrigting op die atlas; ’n land waar bleek mense vir alle tye soos skurke gaan voel en die meeste van hulle seker met verloop van tyd die hasepad sal moet kies.”

Sy erken dat dit soms haar siening oor haar plek in SA is. “Die pandemie het ons bestaan op ’n spits gedryf, soos met die onlangse onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng. Mens was verslae om te aanskou hoe die skurwe elite tussen die ellende van arm burgers saamgestroop het, maar ek begryp eenvoudig nie waarom ’n mens jou kinders se skole afbrand nie. Ek is nogal voos om dieselfde uitgerafelde narratiewe ad nauseam te moet raaklees en te moet buig voor mea culpa. Dit is ’n deprimerende omgewing vir liggaam en gees waarin die ruimte vir filosofie en alternatiewe diskoers yler raak by die dag.

“Máár, mens sal ook nie noodwendig in ’n ander land tuis voel nie, en ek dink in elk geval jy word ook beskou as ’n buitestaander in ʼn ‘oënskynlik idilliese’ land soos Italië of Frankryk. So … om weer oor te begin op ’n ander plek? Dan liewer hier, deur dik en dun, waar mens die klanke ken.”

Dis die foto van die kunswerk wat Vin uit haar woonstelvenster op die eiland Sylt sien: reuse-blou letters wat “flood” spel, halflyf begrawe in die grond, deur die Australiese kunstenaar en digter, Richard Kelly Tipping. Dit bring hulde aan die eiland se vele verspoelings en toegesliktheid na die storms. Dis die beeld wat my bybly toe ek die boek vir oulaas toemaak.

ʼn Mens kan daardie woord nou met soveel ander, soos “Covid” of “korrupsie” vervang, want is dit nie maar hoe ons voel nie: half versonke in dryfsand van die pandemie en vergrype?

En soos Lien ons gesprek afsluit: “Suid-Afrika is ʼn komplekse en uitdagende omgewing waarbinne ʼn mens verwoed aan die kreatiewe naelstring vasklou, gegewe dringender sosiaal-maatskaplike kwessies. Ten beste fluister ek aspekte van my kortstondige bestaan (hier) uit tussen woord en beeld, want daar moet tog iets méér oorbly as wanhoop en as.”

  • Lees meer oor Lien Botha se boek Vin hier op Maroela Media.
  • Thys Human het onlangs met Lien Botha gesels oor haar boek Vin in Graffiti se aanlynkuiers. Kyk hier na die video van die boekbespreking:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.