Lizanne Barnard se ode aan skeppers

Lizanne Barnard (Foto: Verskaf)

Hoewel sy nou kan loop en spog met ʼn digbundel agter haar naam, is dit vir Lizanne Barnard, musikant en dryfkrag agter die Stuur my jou woorde-programme, belangrik om die skeppers van haar debuutbundel te eer.

“Dit is eintlik verkeerd om te sê dit is my bundel, hoewel ek orals loop en vertel dat ek nou ʼn bundel het, want dit is so lekker om dit te kan sê,” skerts Lizanne.

Sy het reeds op vyf jaar begin met klavierles en van daar af was musiek altyd ʼn groot deel van haar lewe. Sy skryf al vir jare haar eie liedjies en daarom het Lizanne ongelooflik baie respek vir mense wat iets uit niks uit kan skep.

“Ek besef dit is ʼn talent wat ʼn mens by die Here kry en wat jy dan daarmee doen is onsettend belangrik,” vertel Lizanne.

Skeppers is ʼn versameling van gedigte uit haar woordprojek en het pas by Naledi Uitgewers verskyn. Dit is as’t ware ʼn samekoms van poësie, musiek, die fynere kuns van skilder en fotografie.

Lizanne het ʼn draai in die Maroela-ateljee gemaak om te gesels oor die sintuiglike ervaring wat dié bundel aan lesers bied. Sy het ook een van die gedigte (‘Stilte’ deur Riaan Prinsloo) voorgelees wat in Skeppers verskyn.

“Die gedigte wat in die bundel opgeneem is, is nie gedigte wat ek geskryf het nie. Dit is alles mense van buite, nie noodwendig net bekende digters nie, wat vir my hulle woorde gestuur het,” verduidelik sy. Lede van die publiek is ook genooi om foto’s vir die bundel in te stuur. Die beste foto’s is gekeur en by die gedigte gebruik.

Anna Davel, wat van die begin af deel van die Stuur my jou woorde-programme was, het ook kunswerke vir die bundel verskaf en Lizanne het die toonsettings gedoen. Haar seun Adam Helberg, oftewel Pyjama Shark, en die veelsydige instrumentalis Leon Ecroignard was ook deurgaans by musikale verwerkings betrokke.

Lizanne Barnard op die verhoog tydens die eksklusiewe bekendstelling van ‘Skeppers’ by die FAK se Afrikaanse Liedjietuin in Pretoria. (Foto: Maroela Media)

Dit is te danke aan die sukses van Lizanne se woordprojek dat haar digbundel Skeppers onlangs die lig gesien het.

Toe ʼn nasionale staat van inperking in Maart 2020 ingestel is, het sy nes talle ander kunstenaars vir die eerste keer in maande met Jan Tuisbly se karretjie gery.

Lizanne onthou dit as ʼn tyd waar alles om haar stil geword het, maar dit het ook ʼn krieweling in haar siel veroorsaak. Hoe sou die lewe sonder verhoë en teaters wees, het sy gewonder. Wat as sy nooit weer haar kuns en musiek op dié platforms met ander mense kon deel nie?

Dié 56-jarige musikant het ʼn beklemming op haar bors gekry en ʼn plan beraam om te midde van ʼn wêreldpandemie uiting te gee aan haar behoefte om te skep. Lizanne het toe vir mense op Facebook gevra om hul gedigte vir haar te stuur. Daarna het sy ʼn paar gedigte gekies, dit getoonset en later besluit om ʼn tuiskonsert op te neem waar sy die verwerkings sing. Só het die eerste Stuur my jou woorde-program die lig gesien. Sedertdien het Lizanne nog twee Stuur my jou woorde-programme vervaardig wat as aanlyn konserte aangebied is.

“Wat deurgaans vir my uitgestaan het, is dat mense hulle diepste gevoelens met my gedeel het,” erken Lizanne. “Ek het eintlik geskrik aan die begin, want ek het net besef dat ek hier versigtig moet trap en baie mooi met mense moet werk wat hulle begeertes en geheime so deel.”

Skeppers is tydens ʼn eksklusiewe geleentheid by die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Afrikaanse Liedjietuin in Pretoria bekendgestel. Die program het bestaan uit voorlesings van gedigte en musiek wat op die album verskyn. Gaste kon hul eie piekniekmandjies saam neem en is met heerlike wyn van Smoothvines getrakteer.

  • Lizanne Barnard se debuutdigbundel Skeppers word beskryf as ʼn sintuiglike ervaring wat lesers op ʼn musikale en visuele reis sal neem. Maroela Media het met Lizanne gesels om meer hieroor uit te vind. Luister bo aan die berig na die volledige onderhoud en na Lizanne se voorlesing van Stilte deur Riaan Prinsloo.
  • Skeppers kos R250 (posgeld uitgesluit). Klik hier om die bundel aanlyn te koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.