M-Net se langverwagte plaaslike reeks, Devil’s Peak, het pas sy splinternuwe lokprent uitgereik wat kykers ʼn blik op die intrige gee wat wag.
Die opkomende vyf-episode-misdaadriller is geskoei op die topverkoper-roman deur die wêreldbekende Suid-Afrikaanse skrywer, Deon Meyer.
Hilton Pelser, Sisanda Henna, Shamilla Miller, Tarryn Wyngaard, Albert Pretorius en Masasa Mbangeni vertolk die hoofrolle in die reeks.
Die vlagskipreeks sal uitgesaai word in die tydgleuf wat op Sondae gewoonlik vir rolprente geoormerk is. Kykers kan om 21:00 inskakel vir die Sondag-fliek.
Devil’s Peak speel in Kaapstad af en volg die talentvolle maar gebroke speurder, Bennie Griessel (Hilton Pelser), wat die taak opgelê is om die reeksmoordenaar, Thobela Mpayipheli (Sisanda Henna) vas te trek. Sy moorde gryp die verbeelding van die stad aan.
Bennie en Thobela se stories kruis met dié van Christine (Tarryn Wyngaard), ʼn desperate ma wat bereid is om enigiets te doen om die lewe vir haar en haar dogter te verbeter.
Die noodlot van dié drie karakters word verstrengel soos wat die reeks opbou na ʼn klimaks.
Hilton Pelser, bekend vir sy rolle in die Starz-reeks, Dangerous Liaisons en die Kissing Booth-trilogie, het ook in plaaslike rolprente soos Moffie en Glasshouse verskyn.
“Bennie verdrink in ʼn wêreld van chaos. Sy stryd teen verslawing kan dalk daartoe lei dat hy die enigste ding wat hom aan die lewe hou, sy vrou en dogter, verloor,” sê Hilton.
Sisanda Henna was voorheen te sien in die M-Net-trefferreeks, Trackers, en het ook saam met Megan Fox aan Rogue gewerk. Hy was ook in Inconceivable en One Night Kwa Mxolisi te sien.
“Devil’s Peak gaan uiteindelik oor ʼn pa se liefde en hoe niks dit kan keer nie. Ek en die regisseur [Jozua Malherbe] kon altyd op daardie vlak by mekaar aanklank vind,” sê Henna.
Devil’s Peak begin Sondag 29 Oktober om 20:00 op M-Net, DStv-kanaal 101, uitsaai.
Kyk hier na die lokprent:
Ek is ‘n akteur en sal wat wou gee om in ‘n Deon Meyer produksies te speel. Só gelukkig was ‘n goeie vriend van my, wat ‘n oproep van Deon persoonlik af ontvang het om ‘n rol aan hom te offer. Ek geniet Deon se boeke en die films en TV produksies wat daarop gebasseer is.