‘Los, lekker en kleurvol’ – Piet Grobler oor nuutste boek

Piet Grobler (Foto: Piet Grobler/ Facebook)

“Ek hanteer selfs die goed wat my bietjie gespanne maak met humor. Dis soos die legende sê – jy loop fluit-fluit by die begraafplaas uit.”

Só gesels die bekroonde illustreerder Piet Grobler oor sy werk. As jy ʼn paar kinderboeke iewers op rak bymekaar het, gaan jy waarskynlik Grobler se illustrasies dadelik herken.

Min boekliefhebbers weet egter dat Grobler eers van 1985 tot 1989 as predikant in die Boland gewerk het. Ná hy ’n string nagraadse kwalifikasies by verskeie hoëronderwysinstellings verwerf het, het hy hom as gerekende illustreerder gevestig en een na die ander toekenning vir sy tekenwerk ingepalm.

Grobler het ’n ruk gelede Suid-Afrika vir Portugal verruil. Hy woon en werk al vir die afgelope twee jaar daar. Hy het ook wortels wat diep in die grond van Engeland gelê is.

Oor ‘Tokkelossiebossie en ander gedoentes’

Tokkelossiebossie en ander gedoentes het sy oorsprong gevind te midde van die Covid-19‑pandemie.

Die Tokkelossie is Grobler se gunstelingkarakter wat uit sy illustreerderspen verskyn het tydens die waarwording van dié nuwe boek.

“Die feit dat Philip die karakter in die titel ingewerk het, is vir my baie lekker. Dit sê ook heerlik – die alliterasie daarvan. Philip lees dit ook oulik en vinnig. Ek dink daar is mos ʼn bietjie in ons Suid-Afrikaanse kultuur volksvertellings oor die Tokkelossie. Dit was pret om hom uit te beeld.”

Die illustrasieproses is een wat Grobler sorgvuldig aanpak.

“Ek probeer maar altyd versigtig lees presies wat die teks sê. Die tekste en aanslagte verskil tussen digters en skrywers, so ʼn mens probeer altyd met illustrasies die regte gees vasvang.”

Vryheid is ʼn belangrike aspek wanneer Grobler ʼn illustrasie aanpak.

“Ek het gaan kyk hoe die Tokkelossie uitgebeeld word, ʼn mens dink bietjie daaroor. Maar ook is daar die digterlike vryheid – jy moet net ʼn bietjie laat gaan. Dit het baie te doen met jare se ondervinding van teken en die mediums wat jy kies.”

Die boek het ook ʼn bietjie verligting gebring tydens die swaarder oomblikke van die inperking.

“Dit was nie vrolikste tyd in die wêreld nie. Omdat Philip se verse so speels is, is dit iets wat vir my baie natuurlik kom. In hierdie geval wou ek iets los, lekker en kleurvol doen. Ek het nie baie beplan nie – ek het sommer gegaan met my gevoel. Dis baie intuïtief.”

13de insetsel van ʼn wenvennootskap

Grobler en De Vos werk al jare saam. Dié vennootskap het ook al talle interessante en indrukwekkende boeke opgelewer.

“Dis ʼn mentaliteit wat ons deel. Miskien is dit omdat nie een van ons al behoorlik grootgeword het nie.”

Grobler het opgemerk dat De Vos nooit werklik weet wie die gehoor is vir wie hy skryf nie.

“Dit kan enige iemand tussen die ouderdomme van agt en 88 wees.”

Humor is ook iets wat dié twee kunstenaars se samewerking so suksesvol maak.

“ʼn Sin vir humor bind ons.”

Die voorblad van Piet Grobler en Philip de Vos se nuutste boek (Argieffoto)

Waar die inspirasie tref

Grobler se hart sal altyd na aan die Bosveld wees.

“Ek kom uit die Noord-Transvaal uit; Warmbad, daar het ek grootgeword. Ek is ook mal oor die Klein‑Karoo.”

Hy het Engeland nege jaar lank huis genoem, en Londen het ʼn impak op sy loopbaan gehad.

“Hoewel Londen nie die mooiste stad in die wêreld is nie, is dit ʼn opwindende stad waar dit voel asof die wêreld bymekaar kom.”

Ouderdom het ook ʼn impak oor waar Grobler floreer.

“Noudat ek ʼn bietjie ouer word en so ʼn bietjie stadiger begin beweeg, is Lissabon ʼn besonderse stad. Dis rustig, sjarmant, oud en maklik vir ʼn Suid-Afrikaner om te verstaan.”

Illustreerder onder die vaandel van akademikus

Op die ouderdom van 40 het Grobler teruggekeer boeke toe om ʼn meestersgraad in illustrasie aan die Universiteit Stellenbosch te verwerf.

“Ek was lank nie op universiteit nie, ek moes weer die teorieë onder die knie kry.”

Hy het ook sy lyf dosent gehou tydens die nege jaar wat hy in Engeland deurgebring het.

“Hoewel Engels nie vir ons vreemd is nie, is dit uitdagend om in ʼn ander taal klas te moet gee.”

Grobler die predikant

In die 1980’s het Grobler as predikant gewerk. Die paar jaar het ʼn impak op die res van sy loopbaan gehad.

“Ek dink alles wat jy in jou lewe doen, bly in jou vel sit. Al is dit nie altyd bewustelik nie.”

Dié jare was ook ʼn groot rolspeler in Grobler se aanstelling by die universiteit waar hy in Engeland gewerk het.

ʼn Gesprek tussen hom en die rektor van die instelling tydens sy afskeidspartytjie het hom dit laat besef.

“Behalwe dat ek ʼn honneursgraad in joernalistiek het, teologie studeer het en ʼn meestersgraad in illustrasie het – het hulle gedink dat iemand wat ʼn predikant was, het empatie met mense. Dit was nogal openbarend.”

Tokkelossiebossie en ander dol gedoentes is by Graffiti Boeke beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.