Luilekker leesstof vir die vakansie

Foto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Deur Ilze Nieuwoudt

Die jaar se gejaag staan einde se kant toe en nou is dit jou kans om die ledige uurtjies met jou neus in ’n goeie boek deur te bring. Maak seker jy pak hierdie vakansie dié ses moet-hê boeke in jou koffer of strandsak:

  1. Prooi (Deon Meyer)

Meyer is nie sonder rede die topverkoper van Afrikaanse fiksie nie. Sy nuutste boek, Prooi, is in Oktober vrygestel. Hierin is die Valke se Bennie Griessel en Vaughn Cupido weer in ’n naelbyt‑misdaadondersoek gewikkel. Staatskaping, ’n moord op die peperduur Rovos Rail-trein en ’n skerpskutter vorm die kern van Prooi. Dié boek stoomroller voort teen ’n snelle en bekende Meyer-pas en word afgewissel deur uitsonderlike beskrywings van vreedsame tonele in die Franse stad Bordeaux. (Prooi is uitgegee deur Human & Rousseau.)

  1. Op pad: ’n Reisjoernaal (Dana Snyman)

Die lys Afrikaanse reisjoernale is jammerlik kort. Nugter weet hoekom. Tog kom die naam Dana Snyman altyd op as daar oor hierdie genre gepraat word. Op pad is reeds in 2017 vrygestel, maar vanjaar se vakansie sal onvolledig wees sonder dié reismaat vir die langpad. Snyman reis Suid-Afrika van hoek tot kant plat vir ’n televisiereeks en skryf nie net oor die mense langs die pad nie, maar herbesoek ook sy eie identiteit as Afrikaner. Dikwels bieg hy dat hy baie, of dalk te veel, oor homself openbaar in Op pad, maar die openbaring is eerlik én treffend. Snyman het al verskeie pryse vir sy skryfwerk ingepalm, en in Op pad is dit duidelik hoekom hy so hoog geag word as skrywer. (Op pad is ’n Tafelberg-publikasie.)

  1. Elders: My 1 025 km te voet langs die Camino (Erns Grundling)

Gepraat van reis – die Weg-joernalis Erns Grundling se eerste publikasie Elders: My 1 025 km te voet langs die Camino is ideale leesstof vir reisigers dié vakansie. Elders is ’n dag-tot-dag beskrywing van Grundling se staptog op die Camino Francés in Spanje. Die tientalle dorpe, katedrale én medestappers op dié roete vorm deel van Grundling se staptog wat oor 40 dae strek en waarin hy homself deurlopend herinner om meer in die hier en nou te leef. Dié boek is vir elkeen wat soms smag na stilte en daarna hunker om te ontsnap van die digitale wildernis wat elke oomblik van die dag ons tyd opeis. Uiteindelik maak die roete sy oë oop en Grundling erken: “Vanaand sit ek alleen, maar is allesbehalwe eensaam.” (Elders is uitgegee deur Queillerie.)

  1. Ingrid Jonker: ’n Biografie (Petrovna Metelerkamp)

Petrovna Metelerkamp se biografie oor die lewe van die digter Ingrid Jonker het in April vanjaar by Penguin Random House verskyn. Ingrid Jonker: ’n Biografie is Metelerkamp se derde boek oor die Bitterbessie-digter, maar in hierdie volledige biografie ontmoet die leser ’n nuwe kant van Jonker. Dit is hoofsaaklik danksy inligting wat uit voorheen onbekende briewe en dagboekinskrywings van Jack Cope, met wie Jonker ’n stormagtige liefdesverhouding gehad het, opgediep is. Die biografie is noukeurig nagevors en word uiters toeganklik aangebied.

  1. Die seuns van Bird Island: ’n Skokkende onthulling uit die hart van die NP-regering (Mark Minnie en Chris Steyn)

Dit is een van die boeke waaroor daar vanjaar waarskynlik die meeste gegons is. Hoewel die storm dalk uitgewoed is oor die beweerde gebeure op dié eiland en op ander plekke in en om die Oos-Kaapse stad Port Elizabeth in die 1980’s, is ’n volgende hoofstuk in dié sage nie onwaarskynlik nie. In dié boek word drie vooraanstaande ministers van die Nasionale Party by bewerings van seksuele mishandeling van jong seuns betrek. Intussen het die joernalis Chris Steyn aangedui dat verskeie verdere inligting oor dié bewerings ingesamel is. (Die seuns van Bird Island is uitgegee deur Tafelberg.)

  1. Spertyd (Elsa Joubert)

Spertyd is die derde volume van die bekroonde skrywer Elsa Joubert se outobiografieë (dit is voorafgegaan deur ’n Wonderlike geweld en Reisiger wat in onderskeidelik 2005 en 2009 uitgegee is). Joubert is onder meer bekend vir die boek Die swerfjare van Poppie Nongena. In Spertyd skryf Joubert onder meer oor die verganklikheid van die mens. Die boek is geskryf in haar 95ste jaar en bied ’n blik op haar lewensbeskouing, maar nooi ook die leser uit om oor sy of haar eie bestaan na te dink. Volgens die skrywer Marita van der Vyfer is Spertyd “verpligte leesstof vir elkeen wat nog iets vir Afrikaans voel”.

As jy klaar dié ses boeke kafgedraf het, en steeds tyd op hande het, is dié huidige topverkopers die perfekte keuse:

Fiksie

  • Sondag (Irma Venter)
  • Kainsmelk (Annelie Botes)
  • Kantelpunt (Sophia Kapp)

Niefiksie

  • 1 Recce: Die nag behoort aan ons (Alexander Strachan)
  • Wit terroriste: Afrikaner-saboteurs in die Ossewabrandwagjare (Albert Blake)
  • Steinhoff en die Stellenbosse boys (James-Brent Styan)

Deur Ilze Nieuwoudt

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.